Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om dood te gaan is nie 'n kuns nie; die slegste kry dit reg. Om te lewe is 'n kuns, die beste kry dit nie goed reg nie, sê onse Neelsie. Langenhoven se siening oor hoe moeilik dit is om nie 'n nuttelose lewe te lei nie laat mens onthou hoe die Psalmdigter bid: Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde. Om u bevele uit te voer is my hele lewe. Ek het gesê: 'Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.' Ps 119.
VOORTREKKER – PIONIERS (25)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Versoeningspogings (5)
Weens die lang afstand tussen die ooste- en westekant van die republiek is volksraadsittings selde voltallig bygewoon en kommissieraadsvergaderings het ‘n al hoe groter rol begin speel. Omdat die Lydenburgse lede nie opgedaag het nie by ‘n volksraadsitting wat oor hierdie dringende aangeleenthede te Rustenburg in September 1851 moes besluit, het Pretorius nou van die krygsraad, die landdros en heemrade en die byeengekome publiek gebruik gemaak om hom magtiging te verleen om met die Engelse oor onafhanklikheid te gaan onderhandel.
Hy het intussen druk uitgeoefen op die Engelse outoriteite wat na hul neerlae teen die Basoeto’s sy inmenging in die Vrystaatse probleme gevrees het.
Die dag na die krygraadsitting het Pretorius aan Warden en aan Mosjes laat weet dat hy as gevolg van vertoë wat die Soewereiniteit se blankes en Mosjes aan hom gerig het, magtiging ontvang het om Vrystaat toe te kom om die vrede en orde te gaan herstel.Omdat daar vinnig gehandel moes word, het die krygsraad alle verantwoordelikheid oorgeneem, die onwillige volksraadslede aangeskryf om voor die hof te Rustenburg te verskyn, die 26e graad-grenslyn weer herroep en die volksraad verbied om enige staatsaangeleenthede te hanteer voordat genoemde hof oor hul doen en late ‘n beslissing gevel het.
Nietemin het Pretorius tog aan die Lydenburgse volksraadslede laat weet dat hulle teenwoordigheid verlang word op ‘n vergadering wat op 10 Desember 1851 te Rustenburg gehou sou word om die saak te bespreek.
In plaas om hieraan gehoor te gee, het die Lydenburgers voorbereidings getref om ‘n kommando teen Sekwati en Mapog uit te stuur en onder andere vir Pretorius en veldkornette SJP Kruger en L van Wyk gevra om hulle te kom help, wat natuurlik onmoontlik was weens die erns van die onafhanklikheidsaak
Warden het op 10 Oktober 1851 aan Pretorius laat weet dat hy sy voorstel aan die Britse Hoëkommissaris sou voorlê en op 18 November het hy geskrywe dat die assistent-kommissarisse gewillig was om die saak na te gaan wanneer hulle te Bloemfontein sou aankom.
Op 8 Desember 1851 het die krygsraad op Rustenburg vergader om reëlings vir die sending na die suide te tref. Die Lydenburgers was nie teenwoordig nie en Pretorius het weer eens geskrywe en twee afgevaardigdes uit hulle geledere gevra om saam te gaan.
Potgieter het van die verwikkelinge te hore gekom en aan Pretorius geskrywe en hom andermaal dringend gewaarsku om nie daarmee voort te gaan nie. Hy kon nie begryp waarom daar om kommissarisse “gevra” word, terwyl daar geen oorlog tussen die Engelse goewerment en die Boere was nie. Hy was bevrees dat die Voortrekkerstaat met hierdie onderhandelings die vryheid wat hy tot dusver geniet het, gaan verloor.
Warden het aan Pretorius geskrywe dat die kommissarisse hom met sy gevolg op 16 Januarie 1852 op die plaas van Piet Venter aan die Sandrivier sou ontmoet.
Ten spyte van hul vyandigheid het vier lede van Lydenburg, naamlik WH Jacobs, H Grobler, AT Spies en WF Joubert tog die kommissieraadsvergadering op 10 Januarie 1852 te Potchefstroom bygewoon en Pretorius gemagtig om te gaan onderhandel.
So het dit dan gebeur dat op 16 Januarie 1852 kommandant-generaal AWJ Pretorius met die 16 lede van sy afvaardiging die twee Britse assistent-kommissarisse WS Hogge en C Mostyn Owen te Sandrrivier ontmoet het, waar die nege bepalings in sake die algehele onafhanklikheid van Transvaal op skrif gestel en deur albei partye goedgekeur en later deur die Britse Hoëkommissaris, sir George Cathcart, bekragtig is.
Op 20 Januarie was Pretorius-hulle weer op Potchefstroom terug en het die volksraad opgeroep om op 6 Maart 1852 te Rustenburg te vergader, waar verslag gedoen sou word.
Kommandant GJ Kruger het Potgieter te Soutpansberg per brief oor die uitslag van die onderhandelings ingelig en hom dringend uitgenooi om die vergadering te kom bywoon sodat hy self kon sien de vreyheid die wey alle bekomen heeft aan deze zeyde van de Vaalrivier.
Potgieter het besluit om te gaan en het reeds op 11 Maart op Rustenburg aangekom. Pretorius het op 15 Maart opgedaag en dagbreek die volgende dag het die aandoenlike algemene versoening tussen die twee leiers plaasgevind, waarvan Stuart sê: Dit is een der heerlyke toneelen die ik in dit land moge bywonen.
Die volksraad het na oorweging besluit om Pretorius se buitengewone handelwyse goed te keur en die Sandrivier-traktaat te bekragtig. Kommandant-generaal Potgieter het verklaar dat hy die volksraad ten volle erken en zyn genegen zig aan de volksraad te onderwerpen. Die twee kommandant-generaals het ooreengekom om mekaar wederkerig hulp te verleen in die uitoefening van hul militêre pligte.
Potgieter het sy ampseed as kommandant-generaal afgelê. Deur sy erkenning van die volksraad as hoogste gesag is uiteindelik die laaste verwarde draad wat sedert die ongelukkige gebeurtenisse van 1846 losgebreek het weer in harmoniese geheel saamgebind.
Die enigste disharmonie wat daar nog geheers het, het van die kant van sekere Lydenburgers gekom, wat onder aanvoering van Bührmann die traktaat gekritiseer het en die waarde daarvan betwyfel het.
Die grondslag van hierdie Lydenburgse afsydigheid is deur die vroeëre “volksraadsparty” gelê, onder aanvoering van JJ Burger en later WH Jacobs en HT Bührmann in hulle stryd teen Hendrik Potgieter en Andries Pretorius, ten einde te verhoed dat daar ‘n sterk uitvoerende gesag in die republiek tot stand kom. Lydenburg se ligging en sy geloof in Smellekamp se raadgewinge het ook hul deel tot hierdie afsydigheid bygedra.