Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowiges is nie goeie politici nie, veral nie as hulle belang by heidense rituele het nie. Daarom is Afrika agterlik. Sy leiers verskil slegs in grade van boosheid van mekaar! Politici wat egter voor die Koning van alle konings buig en sy Woord liefhet, is 'n volk se juwele.
DIE MEES GEDUGTE KRYGSMAG IN AFRIKA (2)
Om volle waardering vir ons destydse weermag te hê is dit goed om 'n kort stukkie geskiedenis sover terug soos die vyftiende eeu, oor die rede vir hulle ontstaan na te gaan.
Ontdekkingsreisigers en handelsvaarders het reeds sedert die laat vyftiende eeu om die Kaap die Goeie Hoop gevaar, maar niemand het dit belangrik genoeg geag om 'n permanente teenwoordigheid aan die suidpunt van Afrika te vestig nie. Die eerste permanente nedersetting het in 1652 tot stand gekom nadat toenemende handelsverkeer om die Kaap die Hollands-Oos Indiese Kompanjie laat besluit het om 'n verversingspos hier te stig. 'n Klein garnisoen — wat in sterkte tussen 70 en 170 man gewissel het — is vir plaaslike beskerming daargestel. Hierdie mag was nie sterk genoeg nie en is in 1658 deur 'n Burgerwag aangevul.
Die Burgerwag het algaande in 'n kommandostelsel ontwikkel wat bestaan het uit sowel burgers as beroepsoldate wat teen 1670 ter verdediging van die Kaapse Nedersetting opgetree het. Die eerste werklike burgerkommando onder aanvoering van burgeroffisiere is in 1715 goedgekeur en hierdie stelsel het in swang gebly totdat Brittanje die Kaap permanent beset het.
Brittanje het die Kaap in 1795 die eerste keer beset ten einde 'n soortgelyke maneuver deur Frankryk te voorkom. Nie alleen moes die Britte teen die Franse waak nie, maar hul het dit gerade geag om 'n berede mag te ontplooi wat die setlaars in toom moes hou. In 1796 is hierdie mag verder versterk deur 'n Korps van Hottentotte wie se primêre taak dit was om die setlaars te laat afsien van enige voornemens om in opstand te kom.
Nadat die Britte aan die Kaap onttrek het, is die kommandostelsel gou weer in ere herstel — al was dit bloot omdat Nederland nie genoeg huursoldate kon bekostig nie. Toe Brittanje die Kaap weer eens in 1806 beset het, is die kommandostelsel 'n ruk lank behou. Teen hierdie tyd het die uitputtende grensoorloë hul tol begin eis en sommige kommandolede het twee uit elke ses maande aktief gedien. Dit het die ekonomie geknou en teen 1812 is reeds stappe gedoen om vaste regimente van Hottentotte op die been te bring wat die druk op die burgers sou verlig. Die burgerkommando's is in 1834 ontbind wat die verdediging van die Kaap grootliks oorgelaat het aan die Britse huurtroepe wat versterk is deur plaaslike vrywilligers en die Hottentotsoldate. Hierdie verdedigingstelsel is teen 1880 aangevul deur vrywilliger-eenhede wat mettertyd die Burgermagkomponent van die Leër geword het.
Toe die kommandostelsel aan die Kaap afgeskaf is, het dit egter nie ten gronde gegaan nie. Talle setlaars wat ontevrede met die Britse bewind was, het vanaf 1836 hul skrede na die binneland gewend. Hulle het die kommandostelsel saam met hulle geneem en dit is met welslae beproef in gevegte met vyandiggesinde stamme en later die Britse magte gedurende die Eerste Vryheidsoorlog.
Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) het die kommando's beskik oor ondersteunende artillerie-eenhede en in die geval van die ZAR in Transvaal ook oor 'n polisiemag. In hierdie oorlog het die militêre magte van die Boererepublieke en die voltydse Britse magte regstreeks met mekaar in konflik gekom. Ofskoon die Republikeinse magte aanvanklik goed rekenskap van hulself gegee het, was die uitslag van die oorlog 'n uitgemaakte saak nadat Brittanje daarin geslaag het om sy volle mag te laat geld. Die Boeremagte se vindingryke benadering tot mobiele operasies en die gebruik van goed gekamoefleerde, ingegrawe verdedigingstellings sou nietemin 'n groot uitwerking op talle weermagte hê. Sells nadat die kommando's as leërs verslaan is, was die kommandostelsel van so aard dat die Republikeinse magte in staat was om twee jaar lank met guerrilla-oorlogvoering effektief teen die Britse magte te opereer. Hiervan getuig die feit dat sowat 20 000 berede skutters met weinig formele opleiding 250 000 Britse soldate vir bykans drie jaar besig kon hou. Met die vestiging van die Britse bewind in die voormalige Boererepublieke, het die kommandostelsel in die gebiede ook tot niet gegaan. In die plek daarvan is vrywilligereenhede in Transvaal geskep wat op die Britse stelsel gebaseer was. Hierdie vrywilligereenhede is saamgestel uit die sogenaamde "Uitlandereenhede" wat na 1900 saam met die Britse magte gedien het.
Met die vier gebiede onder Britse gesag, is spoedig oorweging geskenk aan hul unifikasie as een selfregerende gebied. Dit het uiteindelik in 1910 geskied met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika.
Die kwessie van 'n sentrale weermag het reeds in 1906 ter sprake gekom nadat die Zoeloe-opstand duidelik getoon het dat interkoloniale samewerking in verdedigingsaangeleenthede noodsaaklik was. Die aangeleentheid is in 1907 gedurende verskeie konferensies in Johannesburg en Durban verder gevoer. Onder meer het lord Methuen daarop gewys dat omstandighede daartoe kon lei dat Brittanje sy troepe aan Suid-Afrika moes onttrek en dat slegs die Kaapse Skiereiland deur 'n staande garnisoen van Imperiale troepe verdedig sou kon word. Hierdie saak het na Uniewording hoë prioriteit geniet.
Ná Uniewording was die daarstelling van 'n eenvormige verdedigingsorganisasie een van die belangrikste sake waaraan die Suid-Afrikaanse regering aandag moes skenk. Genl J.C. Smuts, wat die portefeulje van Verdediging behartig het, en in ander opsigte die Afrika in die steek gelaat het, sou in hierdie opsig 'n leidende rol moes speel. Die eerste belangrike stap was die aanvaarding van die Verdedigingswet (Wet No 13 van 1912) op 14 Junie 1912 ingevolge waarvan die Unieverdedigingsmag op I Julie 1912 tot stand sou kom. Dit het voorsiening gemaak vir 'n Staande Mag (gestig op 1 April 1913), 'n Aktiewe Burgermag en 'n Kadet-organisasie waarvan laasgenoemde twee op I Julie 1913 ingestel is.
Die mynstakings aan die Witwatersrand in 1913 en 1914 het die nuutgestigte Unieverdedigingsmag vir die eerste maal beproef. Tydens die nywerheidsonrus van 1914 het die owerheid eenhede van die Aktiewe Burgermag gemobiliseer wat saam met die Staande Mag wet en orde moes handhaaf.
In 1914 het die Unie se toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog aanleiding gegee tot 'n gewapende protes wat na vier maande deur eenhede van die Unieverdedigingsmag onderdruk is. In 'n knap veldtog en met geringe verliese, het 'n Suid-Afrikaanse invalsmag onder generaal Louis Botha hierna in 1915 namens Brittanje Duits-Suidwes-Afrika van die Duitse bewind gebuit.
Die Suid-Afrikaanse troepe het met onderskeiding gedien in Oos- en Noord-Afrika, Palestina en Frankryk. Gedurende die Britse someroffensief in Frankryk en Vlaandere het SA Infanteriebrigade aan verskeie veldslae deelgeneem, onder andere by Longueval en Delville-bos waar dit in Julie 1916 swaar verliese gely het, maar desondanks verseg het om voor die vyand terug te val.
In die tydperk tussen die twee wêreldoorloë is die Unieverdedigingsmag uitgebou deur die totstandkoming van die Lugdiens op 1 Februarie 1920 (later die SA Lugmag) en die SA Vlootdiens op 1 April 1922. In 1922 is eenhede van die Aktiewe Burgermag weer eens opgeroep om 'n mynstaking aan die Witwatersrand te onderdruk. Die nuutgestigte Lugmag het aan die krygsverrigtinge deelgeneem en onder meer die stakers se stellings in dorpe soos Benoni en Springs gebombardeer. Enkele maande later het die Lugmag lugsteun verleen aan eenhede van die Unieverdedigingsmag tydens die Bondelswart-Herero-opstand in Suidwes-Afrika. Die Lugmag is in 1925 en 1932 weer ingeroep om te help met die onderdrukking van opstande in die Rehoboth-gebied en Owamboland.
Enkele ander gebeure in die tydperk wat vermelding verdien, is onder meer die totstandkoming van die hersaamgestelde Staande Mag op 1 Februarie 1923 en die algemene reorganisasie van die Unieverdedigingsmag in 1926. Die verdere ontwikkeling van die Unieverdedigingsmag is gedurende die Depressiejare (1929-1933) ernstig gestrem, maar in 1934 is 'n nuwe era betree toe die Minister van Verdediging, adv Oswald Pirow, sy vyfjaar-ontwikkelmgsplan aangekondig het. Heelwat van die voorgestelde uitbreidings kon egter nie ten uitvoer gebring word nie en voordat die reorganisasie wat in 1938 in die vooruitsig gestel is, deurgevoer kon word, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.
Suid-Afrika se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 het opnuut getoon in watter mate die Unieverdedigingsmag op vrywilligers aangewese was. Desondanks het die Suid-Afrikaanse troepe en vlieëniers tydens die veldtog in Abessinië teen die Italiaanse magte hul besonder goed van hul taak gekwyt. Insgelyks het die twee Suid-Afrikaanse divisies wat in Noord-Afrika tydens veldslae by oa Sidi Rezegh, Bardia en El Alamein met die gedugte Afrikakorps van veldmaarskalk Erwin Rommel slaags geraak het, goed rekenskap van hulself gelewer. Altesaam elf eskaders van die SA Lugmag het diens in die Westelike Woestyn gedoen en gedurende operasies soos die "Boston Shuffle Service" groot roem verwerf. Die jong SA Seemag, wat in die Middellandse See opgetree het, moes soms gevaarlike sendings uitvoer soos die vervoer van oorlogsvoorrade langs die Noord-Afrikaanse kus. Sy skepe het hoofsaaklik mynvee-operasies uitgevoer en as geleidingsvaartuie opgetree.
Die Uniemagte het ook 'n groot aandeel gehad in die verowering van Madagaskar en die suidelike deel van Italië waar 6 SA Pantserdivisie en eskaders van die SA Lugmag deur hul optrede groot bewondering afgedwing het. Die heldhaftige optrede van Suid-Afrikaanse lugbemannings tydens die sogenaamde "Warskouse Konsert" - toe lewensnoodsaaklike voorrade oor die beleerde Poolse stad afgelaat is — dien ook vermeld te word.
Met die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 het 'n tydperk van grootskaalse demobilisasie in die Unieverdedigingsmag gevolg ofskoon daar nie tot die vooroorlogse situasie teruggekeer is nie. Tydens die Russiese beleg van Berlyn in 1948 het die Suid-Afrikaanse Lugmag 20 bemannings as hulp na die "Berlynse Lugbrug" gestuur en hulle het 1 240 vlugte onderneem.
Gedurende die Koreaanse konflik het 2 Eskader van die SA Lugmag as deel van die VVO-mag meer as 12 000 sendings oor vyandelike gebied onderneem. Die eskader, wat bekendheid verwerf het as die "Flying Cheetahs", het 34 vlieëniers in die oorlog verloor.
Ingevolge die Verdedigingswet (Wet No 44 van 1957) wat in 1958 in werking getree het, is die naam van die Unieverdedigingsmag na die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) verander. Hierbenewens het die wet uitsluitsel oor die totale spektrum van verdediging verleen en onder meer voorsiening gemaak vir die insluiting van die Kommandomag by die Suid-Afrikaanse Weermag.
In 1961 is die aanvanklike opleidingsperiode van Burgermaglede tot 9 maande verleng. In 1968 is die lotingstelsel deur 'n nuwe dienspligstelsel vervang terwyl die aanvanklike opleidingstydperk tot 12 maande verhoog is.
In die sewentigerjare is die bevel- en beheerstruktuur by verskillende geleenthede ingrypend hersien ten einde die SAW in staat te stel om by veranderende omstandighede aan te pas. 'n Stafafdelingstelsel is byvoorbeeld ontwikkel terwyl die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens op 1 Julie 1979 naas die Leer, Lugmag en Vloot die vierde Weermagsdeel geword het. Insgelyks is die Dienspligstelsel in 1977 hersien waardeur die aanvanklike dienspligperiode tot 24 maande verleng is. Dit is opgevolg deur verdere wetgewing in 1982 en 1984 ingevolge waarvan die verdedigingslas oor 'n breër spektrum van die bevolking versprei is.
In 1974 het die Portugese bewind in Mosambiek en Angola ineengestort en gedurende die Angolese Burger-oorlog (1975-1976) het 'n Suid-Afrikaanse taakmag met welslae in die suide van Angola opgetree. Die RSA se beperkte ingryping in Angola was primêr daarop gemik om te voorkom dat die Angolese konflik na SWA oorspoel. Sedert die onttrekking van die Suid-Afrikaanse magte aan Angola in 1976, het SWAPO-terroriste egter hul veldtog van terreur in SWA vanaf hul basisse in Suid-Angola verskerp. Ten einde die gebied teen sodanige aanvalle te beskerm, moes die SAW noodgedwonge optree. In Mei 1978 is twee groot terroristebasisse in Angola vernietig en sedertdien het die Suid-Afrikaane veiligheidsmagte in samewerking met die SWA Gebiedsmag verskeie geslaagde voorsprong- en opvolgoperasies onderneem. Operasies wat vermeld kan word, is onder meer Sceptic (1980), Protea (1981), Daisy (1981), Super (1982), Askari (1983), Moduler (1987), Hooper (1987-1988) en Packer (1988).
Operasie Protea was die grootste gemeganiseerde krygsoperasie deur die SAW sedert die Tweede Wêreldoorlog en het twee maande geduur. Groot hoeveelhede gesofistikeerde wapentuig is gebuit of vernietig en SWAPO se totale logistieke stelsel in Suid-Angola vernietig.
Gedurende Operasie Moduler het die SA magte die UNITA-weerstandbeweging militêr ondersteun ten einde die aanmars van 'n groot FAPLA-mag suid van die Lombarivier te stuit. Tydens hewige gevegte in September en Oktober 1987 het die Suid-Afrikaanse Artillerie die G-5 medium kanon met groot welslae aangewend.
Nadat die FAPLA-offensief in Oktober 1987 misluk het, het die Suid-Afrikaanse magte UNITA gehelp om 'n teenaanval te loods en die FAPLA-magte, na die gebied om Cuito Cuanavale terug te dryf. Hier is die FAPLA-magte effektief vasgepen en verhoed om vir 'n nuwe offensief te hergroepeer. Teen die middel van Desember 1987 is Operasie Moduler deur Operasies Hooper en Packer opgevolg waartydens die Suid-Afrikaanse magte takties ontkoppel en teruggetrek het.
Die eerste fase van 'n omvangryke organisatoriese herstrukturering van die SAW is in 1986 na 'n indringende ondersoek deur'n kommissie onder die voorsitterskap van genl J.J. Geldenhuys geïmplementeer met die aanstelling van 'n Hoof van Weermagstaf. 'n Sesde stafafdeling nl Beplanning, is ook in 1986 geskep.
In 1988 het die situasie in Suidwes-Afrika 'n nuwe wending geneem toe onderhandelinge tussen Suid-Afrika, Kuba en Angola in Londen 'n aanvang geneem het. Dit was die begin van 'n nuwe vredesinisiatief wat op 22 Desember 1988 met welslae bekroon is toe twee verdrae vir 'n vreedsame skikking in suidwestelike Afrika onderteken is. Hierdie verdrae het die weg gebaan vir die onttrekking van die Kubaanse magte aan Angola en die implementering van die onderhandelde skikplan vir SWA op I April 1989.
Sedert 1975, toe terroristegroepe (nou ons huidige regering) vanuit buurstate in die RSA begin optree het, het elemente van die SAW by verskillende geleenthede langs die RSA se grens met welslae opgetree teen terroriste wat die land probeer binnekom het. Plaaslik het die SAW ook 'n belangrike rol in die bekamping van landelike en stedelike terrorisme gespeel terwyl dit ook die Suid-Afrikaanse Polisie bygestaan het in die handhawing van wet en orde.
Bedreiging en reaksie... vervolg