Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gebruik hierdie lang somersonskyndae na regte - maak nou genoeg hout bymekaar sodat jy in die winter by die vuur kan sit wanneer daar min tyd in 'n dag is.
DIE STRYD OM DIE TROON (4)
Dr JP Botha
Lees reeks by Die Stryd om die Troon
DIE VLUGTENDE KONING
Saul slaag nie daarin om Dawid te vermoor nie
Ek is Jonatan, die oudste seun van koning Saul. Toe Samuel my pa tot Israel se eerste koning gesalf het, het die mense my die kroonprins begin noem, maar kort daarna het daar iets gebeur wat my laat besef het dat daar iemand anders as ek die volgende koning van Israel sou wees.
In daardie eerste jare van my pa se koningskap, was Israel feitlik voortdurend met sy vyande slaags. Die Ammoniete is in die eerste oorlog nadat my pa koning geword het, beslissend verslaan. Later het net die Filistyne as hoofvyand van Israel oorgebly om mee af te reken. Hulle roofbendes het die land voortdurend geteister. Daar het toe weer oorlog uitgebreek aan die randgebied van die Safela, waar hulle ‘n groot leër by Aseka saamgetrek het met die doel om vir Soko aan die oorkant van die Elalaagte te verower.
Ons strydmag het aan die deuskant van die spruit gestaan, toe hulle ons begin tart met hulle ou reus Goliat se uitdagende gevloek. Maar niemand van ons het vir hom kansgesien nie, totdat daardie onverskrokke jongman, Dawid, daar aan-gestap gekom het en die heiden met net een klippie uit sy slingervel van-kant gemaak het. Toe Dawid met die ou se kop en sy reuse swaard by ons linies aangestap kom, het ek hom bewonder. Net daar het ons vriend-skap begin.
Dit was toe nog nie bekend dat Samuel op bevel van die Here hierdie skaapwagterseun van Isai gesalf het om my pa se opvolger te word nie. Miskien het my pa dit toe al geweet, want hy het baie ongelukkig gevoel toe ons na die geveg met die Filistyne van die slagveld af terugkeer en hoor hoe die vroue sing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!”
Dit het vir ons duidelik geword dat die Here nie meer met my pa, koning Saul was nie. Toe ‘n bose gees hom begin teister, het sy raadgewers wat van Dawid se musiektalent geweet het, by hom aanbeveel dat Dawid vir hom op sy lier moet kom speel om hom te kalmeer. ‘n Rukkie lank het dit goed gegaan, maar dan pak die gees hom weer en probeer hy om Dawid om die lewe te bring deur sy spies na hom te slinger. Gelukkig is Dawid nie getref nie en kon hy ontvlug.
En tog was my pa op sy manier lief vir Dawid. Na die Goliat-episode het hy Dawid sy wapendraer gemaak en hom ‘n rukkie later in die oorlog aangestel as hoof van ‘n leërafdeling. Gedurende hierdie tyd het ek en Dawid se vriendskap al hoe hegter gegroei, want ek het self ook ‘n afdeling van ons beste boogskutters aangevoer en ek en Dawid het gesamentlike aanvalle teen die Filistynse voorposte gemaak.
Om vir Dawid vir sy voortreflike militêre diens te beloon, het pa Saul aangebied dat Dawid met my suster Mikal kon trou, indien hy fisiese bewys kon lewer dat hy 100 Filistyne verslaan het. Dawid en sy manne het 200 van die vyand gaan doodslaan en die nodige bewys daarvan vir my pa gebring. So het ek en my goeie vriend Dawid ook swaers van mekaar geword.
My pa het besef dat die Here vir Dawid help om soveel sukses te behaal. Hy het bitter vyandig teenoor hom geword en hom begin haat. Ek het dit gewaag om met hom daaroor te praat en hy het toe met ‘n eed aan my beloof dat hy Dawid geen kwaad sou aandoen nie. En tog het hy ‘n ruk daarna weer probeer om Dawid met die spies teen die muur vas te pen, toe hy vir hom op die lier gespeel het. Dawid het gekoes en weer ontvlug. Daardie nag het my pa manne gestuur om Dawid in sy huis te gaan doodmaak, maar Mikal het hom gehelp om te ontsnap..
Ek het hom die volgende dag opgespoor en beloof om weer met my pa te praat. Pa Saul het toe baie kwaad geword. Ek het weer vir Dawid opgesoek. Ons het saam besluit dat hy nie die volgende dag die fees van die nuwemaan sou bywoon nie, want my pa sou dan ‘n geskikte geleentheid hê om hom dood te maak.
Pa Saul was woedend omdat Dawid se sitplek toe by dié geleentheid leeg was. My goeie vriend was toe ook nie meer in die omgewing nie, want hy het gevlug. Hy het na dae se voetslaan, moeg en honger by die stadjie Nob aangekom en vir die priester Agimélek voedsel en wapens gevra. Hy kon hom met net vyf toonbrode en ou Goliat se swaard wat daar bewaar is, voorsien. Een van Saul se veewagters, Doëg ‘n Edomiet wat daar rondgeslenter het, het dit gesien en toe alles vir pa Saul gaan vertel.
Dawid het probeer om nog verder van Saul af weg te vlug. Hy het by die Filistynse stad Gat aangekom, maar hulle het hom herken as die man wat hulle held Goliat doodgemaak het. Om uit hierdie nuwe gevaar te ontkom, het hy hom kranksinnig gehou en gemaak dat hy daar wegkom. Dawid het daarvandaan weggevlug en skuiling gaan soek in die Adullamgrot..
Onderwyl hy hier was, het van sy ondersteuners hom daar uitgesnuffel en by hom gebly. Hulle getal het tot vierhonderd aangegroei, sodat my vriend hom nou redelik goed teen sy vyande kon verweer. Omdat hy bang was dat pa Saul sy familie sou leed aandoen, het hy hulle en sy ouers na die koning van Moab geneem en hulle in sy sorg gelaat. Hy self het met sy manne na die Héretbos toe gegaan. Dit was by Kharas, oos van Kehíla.
Kort daarna het daar iets verskrikliks gebeur. Pa Saul het by sy paleis in Gibea gesit, omring van al sy bediendes en amptenare. Hy het hulle skielik van sameswering teen hom beskuldig en teen my uitgevaar oor my vriendskap met Dawid. Hy het gesê ons almal beskerm vir Dawid, want ons wil hom nie vertel waar hy hom skuilhou nie. Toe tree daardie Doëg die Edumiet, na vore en vertel vir my pa van Dawid se besoek aan die priesters by Nob. Pa Saul het dadelik vir Agimélek en sy familie en al die priesters van Nob laat haal en sy hardlopers beveel om hulle dood te steek. Toe hulle weier om dit te doen, het hy vir Doëg met hierdie afgryslike taak belas. Die Edumiet het 85 priesters doodgesteek. Daarna het pa Saul alle lewende wesens in die dorp Nob laat uitwis. Daar het ‘n seun van priester Agimélek ontsnap. Sy naam was Abjatar. Hy het na Dawid gevlug, wat hom verder onder sy beskerming geneem het.
Ek was lamgeslaan van teleurstelling in my pa, vir wie ek nog altyd geëer en bewonder het as die eerste koning van die Here se volk. Dit was duidelik dat hy vasgevang was in die greep van ‘n duiwelse gees, wat van hom ‘n meedoënlose moordenaar gemaak het. Van toe af was my eie lewe ook in gevaar, weens my vriendskap met Dawid en die hulp wat ek aan hom gegee het.
Onderwyl Dawid en sy manne in die Héretbosse geskuil het, kry hy berig dat die Filistyne die grensdorpie Kehila aangeval het en besig was om die dorsvloere te plunder. Nadat die Here vir Dawid verseker het dat hy die Filistynse plunderaars sou verslaan, het hy met sy manne daarheen opgetrek, die vyand verslaan en die inwoners verlos. Pa Saul se spioene het hom daarvan vertel. Hy het toe met ‘n yslike groot leërmag daarheen afgesit om Dawid te gaan vang. Maar die Here het deur middel van Dawid se priester, Abjatar, die seun van priester Abiméleg wat in Nob vermoor is, vir Dawid gewaarsku. Voordat Saul hom in Kehila kon omsingel, het hy met sy manne ontsnap en na die bergvestings in die woestyn Sif uitgewyk. Hulle getal het toe al tot ‘n aansienlike seshonderd aangegroei.
Ek het my liewe vriend daar in die woestyn by Hores gaan besoek en hom bemoedig. Voordat ek terug is, het ons ‘n verbond van trou aan mekaar gesluit. Ek is terug en Dawid het hom voorgeneem om so lank as moontlik daar te skuil. Maar dit was in die gebied van die Sifiete. Hulle kon nie wag om gou genoeg by Gibea aan pa Saul te gaan vertel dat Dawid met al sy volgelinge hulle op die Hagilaheuwel in Hores se bergvestings bevind nie. Hulle het vir Saul en sy manskappe daarheen vergesel
Toe hulle in Sif aankom, was Dawid en sy manne in die woestyn Maon, in die vlakte suid van die wildernis. Pa Saul het hulle agternagejaag. Die twee magte het weerskante van die berg beweeg. Pa Saul was besig om Dawid en sy manne te omsingel, toe hy berig kry dat die Filistyne besig was om die land binne te val. Hy het toe sy agtervolging van Dawid gestaak en die Filistyne gaan beveg. Só het die Here my vriend Dawid daardie dag uit die hand van my pa, koning Saul, gered.
Maar toe Saul van die Filistyne af terugkom, het hy dadelik begin om weer op Dawid en sy volgelinge jag te maak. Hy het met drieduisend uitgesoekte manne vir Dawid in die woestyn van Engedi gaan soek. Toe hy by die steenbok-rotse kom, gaan hy by skaapkrale verby en gewaar die ingang van ‘n grot tussen die rotse en besluit om ‘n rukkie daar binne te gaan lê en rus, onwetend dat Dawid en ‘n aantal van sy manne dieper in die spelonk wegkruip. Hulle het Saul gewaar en wou hê dat Dawid hom moes gaan doodsteek. My vriend het geweier en gesê hy slaan nie sy hand aan die gesalfde van die Here nie. Hy het alleen die slip van Saul se mantel stilletjies gaan afsny. Toe Saul weer ‘n end van die grot af was, het Dawid tevoorskyn gekom en met die mantelslip in die hand na pa Saul geroep.. Die voorval het my pa tot trane beweeg toe hy besef dat Dawid sy lewe gespaar het. Hy het erken dat Dawid na hom sou koning word. Dawid moes beloof om na pa Saul se dood, tog nie ons geslag uit te roei nie. My vriend het dit met ‘n eed bevestig en pa Saul het teruggetrek na sy paleis in Gibea.
Hier in die bergvesting waar Dawid en sy manne hulle nou bevind het, het hulle ‘n karige bestaan begin voer weens gebrek aan lewensmiddele. By Karmel, aan die rand van die Maonwoestyn, het daar ‘n baie ryk man gewoon. Sy naam was Nabal. Dawid het die vrymoedigheid gehad om van hom voedsel vir sy manskappe te vra, omdat hy die inhalige man se besittings voortdurend beskerm het teen vyandige rooftogte. Toe Nabal weier en vir Dawid beledig, wou hy hom ‘n goeie les gaan leer. Nabal se mooi vrou, Abigail, het egter tussenbeide getree en vir Dawid en sy manne ruim voorsien met voedsel. Die Here het Nabal gestraf deur hom aan beroerte te laat sterf. Daarna het my vriend Dawid met Abigail getrou. Hy het ook nog ‘n ander vrou uit Jisreël geneem. Haar Naam was Ahinoam. My suster Mikal was nie meer Dawid se vrou nie, want nadat hy van Gibea af weggevlug het, het my pa haar aan ‘n ander man gegee.
Pa Saul se voorneme en belofte om nie meer my vriend Dawid verder te vervolg nie, het nie lank standgehou nie. Die Sifiete in wie se gebied Dawid en sy manne hulle bevind het, was hom vyandiggesind en het weer hier na Gibea toe gekom en vir pa Saul vertel dat Dawid hom in die wildernis by die heuwel Hagila skuilhou. Saul het weer met drie-duisend uitgesoekte manne na Dawid en sy volgelinge in die woestyn Sif gaan soek.
Dawid het geweet waar Saul gaan oornag en het toe met een van sy dapper manne, Abisai, behoedsaam in die nag die laer binnegsluip. Die Here het hulle almal vas laat slaap. Langs pa Saul het sy spies in die grond gesteek. Abisai het gevra of hy hom maar kan doodsteek, maar Dawid het weer geweier om sy hand aan die gesalfde van die Here te slaan. Hulle het stil verdwyn met Saul se spies en sy waterkruik. Die volgende môre het Dawid op ‘n afstand na Saul geroep. Hy het hom die spies gewys en gevra iemand moet dit by hom kom haal.
Pa Saul het toe besef dat die Here vir Dawid beskerm en seën. Hy het die agtervolging gestaak en na Gibea teruggekeer. Ek was so dankbaar hieroor. Hy het selfs weer vriendelik met my gepraat en ons het saam beraadslaag hoe ons die dreigende Filistynse gevaar die hoof kan bied.
My vriend Dawid het my pa egter nie vertrou nie. Hy het met sy hele huishouding en al die manne wat by hom aangesluit het – hy het toe al 600 gehad - ons land verlaat en ’n heenkome by die Filistyne gaan soek. Agis, die koning van Gat, het vir Dawid vertrou en aan hom die stad Siklag gegee om in te woon.
Maar toe die Filistyne ‘n jaar daarna gereed maak om in oorlog teen Israel op te trek, het Agis verwag dat Dawid saam met hulle moet gaan veg. Die ander Filistynse leiers het egter nie vir Dawid vertrou nie, want hulle het nog onthou hoe hy vir Goliat doodgemaak het. Toe het Dawid vanaf Afek, waar die groot Filistynse leër gestaan het, met sy manne na Siklag teruggetrek. By hulle aankoms het hulle ontdek dat die Amalekiete die stad geplunder en met ‘n groot buit weg is, Dawid se vroue inkluis. Hy het die bende met 400 man agternagesit, hulle oorval en uitgewis en alles wat geroof is, ook sy vroue, weer teruggebring.
Intussen het pa Saul bevel gegee dat ons leërafdelings teen die Filistyne moet optrek. Ons het teen hulle gaan laer opslaan by die fontein in Jisreël. Ek het maar baie swaarmoedig gevoel toe ek die ontelbare hordes wat ons moet aanpak, gewaar. Ek het gesien my pa is bang, want die Here was nie meer met hom nie. Hy het in die nag ‘n heks gaan raadpleeg. Sy het Samuel se gees opgeroep. Hy het aan my pa gesê dat die Here die koningskap van hom afskeur en aan my vriend Dawid gee, dat die Filistyne ons leër gaan verpletter en dat my pa en ek en my broers almal in die gevegte gaan sneuwel...
000
Ek is Dawid. Ja, die volgende dag het alles presies net so gebeur. Koning Saul en my dierbare vriend Jonatan en sy broers is dood en Israel se leër is vernederend verslaan op die hoogtes van Gilboa. Hoe het die helde geval! Ek is bedroef oor jou, my vriend Jonatan. Jy was baie naby aan my. Jou vriendskap was vir my buitengewoon. Ag, hoe het die helde geval en die oorlogswapens verlore gegaan...