Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"...gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie." – Spreuke 30:8-9
DIE STRYD OM DIE TROON (7)
Dr JP Botha
Lees reeks by Die Stryd om die Troon
DIE HARDNEKKIG KONING
Rehabeam wou nie die volk tegemoet kom nie
Ek is Semaja, een van die profete van die Here, wat sy Woord aan koning Rehabeam van Juda en aan die volk gebring het tydens daardie droewige gebeurtenis toe Israel in twee geskeur het.
‘n Klompie jare van te vore het koning Salomo vir Jerobeam, ‘n gesiene landsburger van hom, as opsigter aangestel oor die dwangarbeid van die Josefstam. Op ‘n dag kom Agija, een van my medeprofete uit Silo, hierdie Jerobeam teë op die pad na Jerusalem. Agija het vir hom ‘n boodskap van die Here gehad. Hy het sy nuwe mantel in twaalf stukke geskeur en vir die verbaasde Jerobeam gesê om tien stukke daarvan vir homself te neem. Die Here gaan die koningskap van Salomo afskeur en tien stamme van Israel aan Jerobeam gee. Net een stam sal vir Salomo oorbly, want hy het die Here verlaat en die afgode van die heidene aanbid. Die Here sal dit ter wille van sy verbond met Dawid, nie in Salomo se tyd laat plaasvind nie, maar in dié van sy seun wat na hom gaan koning word. Dan sal die Here vir Jerobeam as koning oor tien stamme aanstel. Indien hy die Here se voorskrifte en bepalings nakom, sal Hy met hom wees en sy nageslag in stand hou.
Koning Salomo het van hierdie profesie teen hom gehoor. Hy wou Jerobeam doodmaak, maar hy het betyds na Egipte gevlug en daar gebly tot na Salomo se dood.
Toe die kroning sou plaasvind van sy seun Rehabeam, wat na hom sou koning word, het Israel uit alle oorde opgetrek na Sigem, die bymekaarkomplek van die noordelike stamme. Daar wou hulle eers met Rehabeam onderhandel, voordat hulle hom as hulle koning sou erken. Die leiers het gesê: “U vader het ons ‘n swaar juk laat dra. As u ons verpligtinge verminder, ons las verlig en ons juk versag, sal ons u as ons koning erken en u onderdane bly.”
Rehabeam wou nie dadelik antwoord nie. Hy het drie dae uitstel gevra. Dit het hom geleentheid gegee om die ouer mense wat in diens van Salomo was, te gaan raadpleeg. Hulle het vir hom gesê dat indien hy die volk op hulle versoek gunstig sou antwoord, sal hulle altyd sy onderdane bly. Maar die halsstarrige Rehabeam wou nog ook die mening van die jong manne wat saam met hom grootgeword het, inwin. Hulle wou hê dat hy moes antwoord: “ My pinkie is dikker as my pa se onderlyf. My pa het ‘n swaar juk op julle laat druk, maar ek gaan die juk nog swaarder maak. My pa het julle met swepe geslaan, maar ek sal julle met gésels slaan.”
Toe die volk na die afgesproke drie dae weer byeenkom, was Jerobeam ook teenwoordig. Rehabeam se antwoord was toe: “Ek gaan die juk wat op julle druk, nog swaarder maak. My pa het julle met swepe geslaan, maar ek sal julle met gésels slaan.”
Hierdie hardnekkige weiering van koning Rehabeam om aan die versugtinge van die volk te voldoen, het die skeuring daar en dan laat plaasvind, wat die profeet Agija vir Jerobeam gesê het wat die Here sal laat gebeur. Die volk het vir hom gesê dat hulle dan verder niks te doen wil hê met die koningshuis van Dawid nie. Hulle is terug na hulle woongebiede toe en Rehabeam het net koning geword oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het. Later het die stam van Benjamin ook bygekom.
Die tien noordelike stamme was in opstand onder die vurige leiding van Jerobeam, wat hulle aangehits het. Rehabeam het vir Adoniram, wat hoof van die dwangarbeid was, gestuur om met hulle te gaan praat, onderwyl hy self agterna gekom het. Hulle het sy gesant met klippe doodgegooi en hy het net-net daarin geslaag om op sy strydwa te kom en na Jerusalem te vlug.
Rehabeam was woedend kwaad. Hy was vasberade om die opstand teen hom te onderdruk en het 180 000 uitgesoekte manne opgeroep om teen Israel op te trek. Maar toe praat die Here met my en stuur my na Rehabeam om vir hom te gaan sê dat hy tog nie teen ons broers moet gaan veg nie, want die Here het self hierdie skeuring laat plaasvind.
Dit het Rehabeam laat besef dat Israel se opstand teen sy regering, deel is van die straf wat die Here op die koningshuis van Dawid gelê het, omdat Salomo in afgodediens verval het. Rehabeam het die veldtog teen Jerobeam laat vaar en hom daarin berus om net koning oor Juda en Benjamin te wees. Die res van Israel het vir Jerobeam koning gemaak. Dit is die stamme van Ruben, Simeon, Levi, Issaskar, Sebulon, Dan, Naftali, Gad, Aser en Josef.
Die priesters en Leviete wat in die gebiede van hierdie tien noordelike stamme gewoon het, was nie gediend met Jerobeam se koningskap oor hulle nie, want hy het hulle nie as priesters van die Here erken en toegelaat nie. Die Leviete het hulle weivelde en besittings verlaat en in Juda en veral in Jerusalem kom woon. Jerobeam het vir homself priesters aangestel om diens te doen by die afgodediens op die hoogtes wat hy opgerig het nadat hy koning geword het.
Daar het baie mense uit die noorde, wat die Here graag wou dien, ook na Juda verhuis. Baie van hulle het net gereeld na Jerusalem gekom om by die tempel te offer. Die koninkryk van Juda is daardeur stewig uitgebou, want koning Rehabeam het na sy troonsbestyging ‘n aantal stede herbou, onder andere Betlehem en Hebron. Hy het die vestings versterk en as militêre basisse ingerig en daar groot hoeveelhede proviand geberg vir die behoeftes van die garnisoene wat dit beset het.
Rehabeam het van sy groot familie gebruik gemaak om sy magsbasis verder te versterk. Hy het sy seuns oral in die versterkte stede van Juda en Benjamin laat woon en hulle voorsien met alles wat hulle nodig gehad het. Hy het agtien vrouens en sestig byvrouens gehad en agt en twintig seuns en sestig dogters. Hy het ook sy seuns van ‘n menigte vrouens voorsien.
Ek was so dankbaar toe ek sien hoe die koning se regering oor Juda bestendig uitbrei. Die Here was besig om weer die huis van Dawid te seën. Maar koning Rehabeam het gou vergeet waar sy hulp vandaan kom. Hy en die hele Juda het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Daar was selfs tempelprostitute bedrywig. Die koning en die volk het net soos die heidene, begin om ‘n gruwelike afgodediens te bedryf.
Toe stuur die Here vir koning Sisak van Egipte om vir Rehabeam en Juda te kom straf. Hy het met 1 200 strydwaens, 60 000 berede soldate en duisende voet-gangers opgeruk en al die vestingstede van Juda verower. Daarna het hy met hierdie groot mag in die rigting van Jerusalem begin trek.
Koning Rehabeam en die leiers van Juda het in Jerusalem saamgetrek. Onderwyl hulle die vyand met vrees en bewing inwag, praat die Here met my en stuur my met ‘n boodskap daarheen: “Julle het My verlaat, en nou het Ek julle verlaat en is julle in Sisak se mag.” Ek was op pad terug na my tuiste toe, toe die Here weer met my praat en sê dat hulle berou het oor wat hulle gedoen het. Daarom sal Hy hulle nie uitroei nie, maar gou uit Sisak se greep verlos. Hy het toegelaat dat Sisak Jerusalem inneem en al die skatte in die paleis en die tempel wegvoer. Die ontnugterde koning is nie saam daarmee na Egipte weggevoer nie, maar kon deur die genade van die Here voortgaan om in Jerusalem oor die volk van Juda en Benjamin te regeer tot sy dood toe. Dit was nie vir koning Rehabeam ‘n maklike taak nie, want daar was deurentyd oorlog tussen hom en Jerobeam. Ek het dit alles opgeteken in my boek, Die Verhale van die Profeet Semaja, ook dat Rehabeam 41 jaar oud was toe hy sy pa, koning Salomo opgevolg het en dat hy 17 jaar lank in Jerusalem regeer het. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.