Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons besef dat vreugde en hartseer 'n tweeling is sal ons ophou om die twee te probeer skei – hartseer maak ons gereed om vreugde met meer waardering te geniet.
DIE WEDERKOMS (4)
Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by WEDERKOMS VAN CHRISTUS
Die Bybel oor die eindtye
Ons is alreeds in die eindtyd
Geen mens weet presies wanneer Christus weer kom nie. 2 Petrus 3 vat vir ons alles wat ons oor die eindtyd moet weet in ‘n neutedop saam. Die eerste ding wat ons moet weet, is dat ons alreeds in die eindtyd is. Moet dus nie vra: Wanneer kom die eindtyd? Ons is alreeds daarin! Dit het met Jesus se eerste koms na die aarde begin. Ons moderne datumgewing bevestig dit wanneer dit die geskiedenis in ‘n vC en ‘n nC periode verdeel - voortyd en eindtyd. Christus is die snypunt van die geskiedenis. Die Hebreërs-briefskrywer skryf in 1:1 “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het…het Hy in hierdie laaste dae tot ons gepreek deur die Seun”.
Die eerste gelowiges het die wederkoms baie spoedig verwag. Toe die jare egter begin aanstap, het sommige begin twyfel. Van die ongelowiges het begin spot en gesê: “Waar is die belofte van sy wederkoms?” Hoe reageer Petrus daarop?
Kyk eerder terug
Hy doen die regte ding deur terug te kyk na die verlede en sommer baie ver ook. Hy kyk terug tot by Noag en herinner hom aan Noag en die spotters toe hy die ark op droë land gebou het, honderde kilometers van die naaste see af. In 2 Petr.3:7 raai Petrus die lesers aan om so ‘n bietjie oor hulle skouers terug te kyk na wat God toe gedoen het. Die mense in Noag se tyd het niks verwag nie en toe gebeur dit skielik!
Die feit dat Jesus nog nie teruggekom het nie, beteken nie dat God ontrou aan sy woord en sy belofte is nie. Hy hou sy woord en sal dit op die tyd wat Hy bepaal het, laat gebeur net soos met die sondvloed. Ons moet vandag meer as ooit vir Jesus se tweede verskyning gereed wees want die dag kom al hoe nader. God sal die spotters weereens laat vergaan!
Dis eintlik uiters vermetel van mense om vir God te wil voorskryf wanneer Jesus weer moet kom! Neem maar net die sektariërs met hul wederkomsvoorspellings! In 2 Petr.3:8 sê Petrus ‘n baie belangrike ding - God se tyd werk anders as ons s’n. 1000 jaar is vir die Here soos een dag. Gevolglik moet ons as’t ware ons horlosies met dié van God sinchroniseer indien ons die eindtyddinge wil verstaan. Ons moet by Hom aanpas, nie Hy by ons nie. Ons moet ophou spekuleer oor wanneer Jesus eendag weer gaan kom en eerder by mense aandring om hulle vir daardie dag gereed te kry soos die Gelykenis van die Tien Maagde ons dan ook waarsku!
Die groot verrassing
Petrus gee vir ons in vers 9 ‘n belangrike rede waarom die wederkoms nog nie plaasgevind het nie. Jesus talm omdat daar nog te veel leë sitplekke aan die feesmaaltafel is. Aan die einde van alle tye wag daar op alle gelowiges ‘n feesmaal. Al die plekke aan daardie tafel moet gevul word alvorens Jesus sal kom. Een ding moet ons weet: God het nie mense vir die hel gemaak nie, maar vir ‘n hemelse feesmaal. Alvorens hierdie getal feesgangers nie vol is nie, sal Jesus nie kom nie.
Dan kom Petrus met ‘n verrassing. In vers 12 sê hy dat die wederkomsdatum nie vas en onver-anderlik is nie. Gelowiges kan dit deur hul lewenswyse hetsy verhaas of vertraag. Jy verhaas dit deur gehoorsaamheid want dit bring die wederkomsdatum as’t ware nader. Hoe meer mense tot bekering kom, hoe gouer word die sitplekke vol en kan die fees begin.
Hierdie waarheid roep ons tot ernstige en volgehoue getuienislewering op. Ons kan die feesmaal vol en die tyd korter praat. Die eindtyd rus eintlik op twee twee pilare – die eerste pilaar is Jesus se hemelvaart en die tweede sy wederkoms. Deur ons getuienislewering en mense se bekerings skuif hierdie twee pilare al hoe nader aan mekaar. Hoe lakser ons is, hoe verder bly hulle van mekaar verwyder.
In vers 13 sê Petrus dat die gelowiges oppad na hul ewige adres is - dié van die feessaal in die hoofstraat van die nuwe Jerusalem. Dis die Vaderhuis waarvan Christus in Joh.14 praat. Wat ‘n heerlike vooruitsig! Maak dit jou nie so ‘n bietjie opgewonde nie? ‘n Mens kan amper nie wag dat dit moet aanbreek nie! Gelukkig is die uurglas besig om te sak – korreltjie vir korreltjie.