Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om heeltemal jouself voor God te wees vra bevrydende genade. Die Geesvervulde mens het nie 'n "geestelike" houdinkie nie maar 'n ongekunstelde, spontane, eerlike eenvoud en diepgaande natuurlikheid.
DIE WEDERKOMS (6)
Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by WEDERKOMS VAN CHRISTUS
Wanneer kom die einde?
Wie is die Antichris?
Hoe gaan ons weet dat die einde van die wereld in sig is? Alhoewel ons nie die dag en datum van die wederkoms ken nie, laat God ons nie onkundig nie, maar gee vir ons sekere duidelike tekens, wat, as dit begin gebeur, ons sal weet dat die tyd baie naby is.
Een hiervan is die verskyning van die Antichris. Wie is dit? Is dit ‘n werklik aanduibare persoon soos die Pous soos wat Martin Luther gemeen het? Of is dit dalk ‘n bose ideologie soos Kommunisme? Die legio van spekulasie-antwoorde op hierdie vraag, is verstommend!
Wie is die Antichris? Kom ons volg die verantwoordelike pad terug na die Skrif! Paulus skryf aan die Thessalonicense en pleit by hulle om nie kop te verloor rakende die wederkoms nie. Daar moet immers ‘n paar dinge plaasvind alvorens die dag aanbreek. Een daarvan is die verskyning van die Antichris.
Wie dit gaan wees, weet niemand nie, nie eens Paulus nie! Paulus sê net dat die Antichris in die tempel gaan optree en voorgee om God te wees. Hy gaan daarin slaag om mense te verlei om God te verlaat en hom te volg. Dis amper ‘n herhaling van die verhaal van Eva en die slang in die tuin van Eden. Mense sal glo dat hulle die regte ding doen deur die Antichris te volg! Dis baie moontlik dat die Antichis ‘n kerklike figuur gaan wees wat die kerk van die laaste dae gaan mislei om van die waarheid afvallig te word.
Johannes skryf in sy een sendbrief dat die Antichis alreeds aan die werk is en talle vennote het. Hy noem hulle antichriste. Hulle kom uit die boesem van die kerk en bly as’t ware op die voorstoep van die kerk. Waaraan word hulle herken? Elkeen wat weier om te erken dat Jesus die Verlosser is, ja, elkeen wat ontken dat Jesus die enigste brug tussen God en mens is, is ‘n tipe van Antichis! Kyk maar net rondom jou – bevind jy jou nie daagliks onder ‘n klomp antichriste nie? Dis die vennote aan die werk!
Die Drie-eenheid word nageboots
Net voor die wederkoms van Christus gaan Satan die heilige Drie-eenheid naboots deur vir hom twee medehelpers te kry. Opb.13 noem hulle diere. Die een kom uit die see en die ander uit die aarde op. Die dier uit die see boots Christus na en die dier uit die aarde boots die Heilige Gees na.
Die dier uit die aarde, Christus se nabootser, plaas volgens Opb.13:16 ‘n merkteken op mense se regterhande en voorkoppe. Kan dit dalk ‘n mikrorekenaarskyfie wees wat onder die vel ingeplant word soos wat baie mense vrees? Nee, kyk weer na die teks. Daar staan dat alle mense op aarde gemerk word. Dus nie net mense met geld of bankrekenings nie, maar almal, selfs die armste van armes. Hierdie merk moet dus iets omvattender as dit wees.
Waarom word die 666-merk op die voorhoof en regterhand aangebring? Johannes wil op simboliese wyse oordra dat die Satan op mense se denke en dade beslag gaan lê soos met breinspoeling gebeur.
Talle eindtydskrywers beskou die 666-merk as ‘n letterlike getal. Nee, dis simbolies soos die merk op die hand en voorkop waarvan ons in Deutronomium.6 lees. God sê vir Israel dat hulle sy Wet as ‘n merk op hul voorkop en hand moet aanbring. Dit beteken dat hulle die Wet met hulle verstand moes bedink en met hulle dade moes uitleef. As ons hierdie 666-merk bloot as ‘n mikrorekenaarskyfie of iets dergeliks gaan sien, onderskat ons Satan se mag geheel en al.
Net Een kan Satan se merkteken afwas – Jesus, en dit deur sy Bloed. Mense wie se hart in die bloed van Christus gewas is, se brein kan nie gespoel word nie! Hy maak enige slagoffer van Satan splinternuut. Paulus getuig daarvan as hy sê: “As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Dis nie net ongelowiges wat ‘n merkteken dra nie, maar ook gelowiges. Openb.14 sê vir ons dat die gelowiges Jesus se kenteken (merk) dra. Dit staan op hul voorhoofde geskryf. Geen mens kan dubbele kentekens dra nie. Jy dra of die naam van God of die van Satan op jou lewe.
Johannes sê in Opb 13 dat die 666-merk die getal van ‘n mens is. Die finale gestaltegewing van die Antichis gaan dus ‘n duidelik aanduibare mens wees. Die eerste Christene was oortuig dat dit keiser Nero was omdat hy die Christene so erg vervolg het. Luther was weer van mening dat dit die Roomse pous was. En hy was deels reg. Dit sal die laaste pous wees. Luister gerus na my laserskyf Die Antichris Ontmasker!
(U kan daaroor navraag doen by die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. )