Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Uiteindelik is dit belangriker om deur die HERE gebruik te word as om gesond of begaafd of aantreklik te wees. Uiteindelik is dit belangriker om baie, baie afhanklik van die HERE te wees, soos net 'n siek en 'n bang mens kan wees.
DINK REG, LEEF REG
Lees reeks by Pitkos vir die siel
Ds AE van den Berg
“…en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor.10:5)
Wat is gedagtes en hoe werk dit? Ons ons dit verstaan, sal ons anders oor die lewe dink! Wetenskaplikes het vasgestel dat gedagtes nie bloot breinflitse is nie. Dit het ‘n fisiese struktuur met ‘n chemiese uitwerking op die liggaam. Dis bewys dat meer as 85% van alle sielkundige skete in die gedagtewêreld ontstaan. Hoe ons dink, bepaal ons fisiese sowel as geestelike optrede. Wie die aard van sy gedagtes verstaan, kan ‘n greep daarop verkry en God toelaat om dit te beheer.
Geleerdes sê ons brein lyk soos ‘n woud met baie bome en ‘n sagte chemiese reën wat daarop neersif. Hierdie bome word senuselle genoem en staan baie dig -100 biljoen in elke brein! Dis met drade aan mekaar verbind - ongeveer 100 triljoen verbindings in elke brein. As ‘n tou daarvan gemaak kon word, sou dit maan toe en terug gespan kon word!
Daarbenewens het elke senusel tot soveel as 70,000 takke. Indien die menslike brein maksimaal benut kon word, sou dit die water van die Victoriawatervalle neem om dit koud te hou. En ons dink dat die rekenaar wonderlik is! Die brein is wonderliker!
‘n Rekenaar is ‘n elektroniese wonder. Die brein is ‘n Godswonder! Genesis sê dat die mens na God se beeld en gelykenis gemaak is. Hy is die enigste van God se skeppings met so ‘n brein. Diere het ook ‘n brein, maar hulle reageer slegs instinktief. Daar is geen denke soos by die mens nie. Die wetenskap bevestig dus dat God die mens van die begin af intelligent gemaak het.
‘n Mens voel om soos koning Dawid uit te roep: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: Ek kan daar nie by nie” (Ps.139:6). “Ek loof U omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit al te goed” (:14) Of soos ‘n Paulus van ouds: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë” (Rom.11:33).
Wetenskaplikes sê dat hoe meer ons dink, hoe meer takke groei daar uit hierdie bome. As ons aan goeie dinge dink, staan daar gesonde bome, andersins onooglikes. Daar is goeie en slegte bome in ons gedagtewêreld. Sonde laat slegtes opkom. Indien dit nie uitgeroei word nie, groei dit so welig dat dit die goeies versmoor. Dankbaarheid, goedheid en vergifnis is dinge wat ons brein en lewenstuin skoonhou. Ondankbaarheid, kwadegevoelens en onvergewensgesindheid maak dit vuil.
Daar is volgens wetenskaplikes ‘n ooreenstemmende elektrochemiese reaksie vir elke gedagte. Elke keer as ons dink, vloei sekere chemikalieë in reaksie daarop deur ons liggaam. Dit veroorsaak elektromagnetiese golwe wat, as ons dit kon hoor, soos ‘n simfonie-orkes sou klink. As ons gelukkig voel, word sekere chemikalieë vrygelaat en as ons ongelukkig voel, ander - ‘n chemikalie vir elke emosie wat ons ervaar. Geleerdes het dit nagevors en nagemaak met antidepressante.
Die belangrikste aspek van ons brein is dat God wel die elektromagnetiese aard van ons gedagtewêreld geskep het, maar Hy beheer dit nie vir ons nie. As Hy dit moes beheer, het almal hemel toe gegaan. Hy het wel die aard van die gedagtewêreld geskep, maar die mens in beheer daarvan geplaas deur iets in die frontale lob van sy brein te plaas; die vrye wil. Dis die sterkste deel van die menslike anatomie.
Die DNA verskil hier van die res van die brein. Dit het die vermoë om te kan kies. God het ‘n vrye wil in ons brein ingebou waarmee ons besluite neem. Soms wyse besluite soos die verlore seun wat na sy vader teruggekeer het en soms dwase besluite soos Simson wat as Nasireër vir God moes leef, maar weens onsedelikheid jonk gesterf het. As Simson maar net reg gedink het, sou hy reg geleef het!
Ons moet waak oor wat ons dink en negatiewe gedagtes vermy. Dit werk nie alleen op die gees in nie, maar ook op die liggaam. ‘n Siek gees kweek ‘n siek liggaam. Dit word psigosomatiese siektes genoem. Psige is die Grieks vir gees en soma vir liggaam. Gedagte bepaal optredes.
Salomo sê: “….want soos hy in sy siel bereken, so is hy…” (Spr.23:7). Paulus skryf: “Verder broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil.4:8).
Vat jou gedagtewêreld vas, anders neem die Satan dit oor. “en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efes.4:27). Satan wil graag die natuurlike vloei van chemikalieë in jou brein belemmer, maar kan dit nie sonder jou toestemming doen nie. Moet dit nie toelaat nie, want hy het bose planne met jou! “…sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is nie onbekend met sy planne nie” (2 Kor.2:10,11).
As jy die Satan gaan toelaat om met jou gedagtes te peuter, gaan dit ‘n emosionele storing veroorsaak wat ‘n negatiewe invloed op die liggaam gaan hê. So ontstaan emosies soos vrees, kwaad, aggressie en neerslag-tigheid wat niemand bevoordeel nie. Gaan al wat kan help net nog ‘n pil wees? Ons hemelse Dokter het ‘n ander voorskrif - verhoed negatiewe gedagtes: “en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor.10:5).
Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word, is ‘n sterk werkwoord en beteken om alle negatiewe gedagtes te boei en aan Christus te onderwerp. Ons grootste stryd lê in ons kop. Laat Jesus oor elke gedagte heers.
Al manier om ‘n oorlog te wen, is om ‘n doelgerigte wenstrategie te hê. Soos wat ‘n leër nie blindelings in ‘n oorlog indons nie, maar vooraf strategie beplan, moet ons dit ook met ons gedagtewêreld doen. Die vyand is geïdentifiseer – die Satan. Al waaroor ons moet besluit, is hoe ons hom gaan aandurf. As ons wenners wil wees, moet ons weier dat hy ons gedagtewêreld beset en belemmer. Kom ons hou ons brein skoon deur elke gedagte aan ons Here Jesus te onderwerp. Dink reg, leef reg!