Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Goeie sin vir humor maak alle dinge beter. Behou jou humorsin veral in moeilike tye – dit het niks te make met die erns van die situasie nie, lag verskaf net die vonk wat mense meer gewillig maak om probleme op te los. Het u opgemerk hoe min die mense om u deesdae lag? Lag is 'n teken van geestesgesondheid en kom seker die heel naaste aan die genade van God – ons moet dit net aangryp.
GEEN ANDER FONDAMENT
Lees reeks by Pitkos vir die siel
Ds AE van den Berg
“Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie”
(1 Kor.3:11)
Jare gelede het ‘n Amerikaanse sakeman tydens ‘n konferensie in ‘n hotel tuisgegaan. Aan die oorkant die pad was konstruksiewerkers besig om die fondament van ‘n gebou te lê. Vragmotors het vragte sement afgelewer. Wat sou daar gebou word. ‘n Sakesentrum? ‘n Wolkekrabber? Toe die sakeman ‘n jaar later weer daar kom, was hy teleurgestel om te sien wat op die fondament gebou is – ‘n kafee!
Sterk fondamente is nie vir klein geboue bedoel nie. Dit geld ook vir die geloofslewe. Jesus is die fondament waarop groot geestelike dinge gebou moet word. Hoe lyk jou geloofsgebou? Is dit wat jy op jou fondament bou, Jesus waardig of staan daar ‘n nietige geboutjie op die fondament wat ’n wolkekrabber kan dra?
‘n Sterk fondament waarborg nie altyd dat ‘n paleis daarop gebou gaan word nie. Die kerk in Korinthe was ‘n bewys hiervan. Hand.18 vertel hoe dié gemeente ontstaan het. Baie van die Korintiërs het Jesus as hul Verlosser aanvaar en is gedoop; iets waaroor Paulus bly was. Nogtans was hy besorg oor die gebou wat hulle op dié sterk fondament opgerig het. Dit was ‘n pondokkie.
In die gelese gedeelte vra Paulus die gemeentelede om hul eie inspekteur van werke te wees. Gelowiges kan nie net tot bekering kom, maar geen heiligmaking najaag nie. God het geen behae in kaal fondamente nie. Gelowiges moet daarop bou. En ook nie sommer enige struktuur nie. “maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou” (1 Kor.3:10). God verwag groot dinge van sy kinders.
Korinthe het dieselfde fout as sommige ander gemeentes gemaak deur die gekruisigde Jesus as Verlosser te aanvaar, maar nie ‘n gekruisigde lewe te lei nie. Die kerk moet in die wêreld inbeweeg en nie andersom nie. Die Christelike lewe is baie anders: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal.2:20).
Die gehalte van ‘n gemeente hang hoofsaaklik van lidmate se geestelike peil af. Wie nie ‘n gekruisigde lewe lei nie, kan nie geestelik groei nie. ‘n Gemeente word soos ‘n bouery steen vir steen sterker. Gevolglik stagneer en sterf ‘n gemeente wat nie groei nie. God sê vir die gemeente Sardis dat hulle die naam het dat hulle lewe, maar dood is (Openb.3:1).
God bou ‘n gemeente steen vir steen. Hy wat groot is, gaan klein met ‘n gemeente te werk - steen vir steen; een bekeerde op ‘n slag. Ons wil soms die bouperseel van die wêreld bestorm en alles insgelyks omkeer. Nie God nie. Hy gaan siel vir siel te werk. En dit werk!
‘n Gemeente moet soos ‘n sierlike gebou op ‘n baie sterk fondament gebou word. “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord....Kom na Hom toe die lewende steen...Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaamd word nie” (1 Pet.2:1-6).
Elke gemeentelid is deel van die steenwerk van die kerk van Christus; lewende stene met ‘n geestelike voorkoms. Paulus spoor die gemeente in Korinthe aan om hul geestelike voorkoms te ondersoek. “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef......” (2 Kor.13:5). Beantwoord hulle werklik aan hulle doel?
Die Skrif waarsku teen selfbedrog. Moenie jou verbeel dat daar ‘n paleis op jou fondament staan as daar in werklikheid ‘n pondok staan nie! “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken” (Jer.17:9). Calvyn sê dat ons hart ‘n fabriek is wat afgode vervaardig.
Al die groot gelowiges het ruiterlik erken dat hulle groot sondaars is. Paulus se woorde aan die Romeine is die bekendste: “Want ek weet dat in my...niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” ( Rom.7:18).
Sonde het altyd ‘n nadelige effek op die kerk van God gehad. Let op die geskiedenis van Christelike kerk en dié van Israel. Ná 3,500 jaar worstel ons nog steeds met dieselfde probleme waarmee die Israeliete ná die uittog uit Egipte geworstel het. “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom.15:4).
In 1 Kor.10 skryf Paulus oor Israel se mislukking om geestelik voluit te leef en vra sy lesers om uit Israel se foute te leer. God was ontevrede met Israel. Hulle was wellustig (Num.11:34), afgode gedien (Ex.32), egbreuk gepleeg (Num.25), gekla (Num 16), God getart (Num.21), ja, ‘n lang lys van sondes, en dit nadat God hulle wonderbaarlik uit Egipte verlos het.
Wat leer ons hieruit? Dat geestelike voorregte ons nie die reg gee om te sondig nie. Behalwe dat hierdie voorregte ons dankbaarder moet maak, plaas dit ook groter verantwoordelikheid op ons om Hom te eer en te verheerlik. In die lig hiervan pleit Paulus by die Korintiërs om sonde te versaak en noem in hoofstuk 10 vier sondes by die naam - afgodery (:7), onsedelikheid (:8), tarting (:9) en klaery (:10).
Dieselfde sondes skaad die kerk nog steeds. Moet dus nie ‘n vinger na Israel wys en hulle vir hul ongehoorsaamheid verkwalik nie. Ons is net so skuldig daaraan! God doen ook vir ons wonderlike dinge. Nogtans sondig ons.
Paulus waarsku gelowiges om nie in die sonde terug te verval nie. Dis so maklik. “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor.10:12). Heb.2 leer iets soortgelyks: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (:1). Baie mense het goed begin en daarna weggedryf.
Paulus moedig gelowiges aan om op Christus te fokus. Dis nie moeilik nie. God het vir Israel ‘n wet gegee om die sondige wyse waarop hulle gedink en geleef het, te verander. Christene het baie meer as dit – sy volledige Woord. Daarom het ons geen verskoning om nie op ons lewensfondament ‘n sierlike geestelike gebou op te rig nie. Ons het al die bouopdragte in die Bybel en die Heilige Gees as inspekteur van werke.
By geleentheid het ‘n Indiaanse opperhoof sy dapper manne byeen geroep en met hulle oor die innerlike stryd van die mens teen die kwade gepraat. Hy het dit met twee honde wat in ‘n mens se binneste veg, vergelyk. Een wil die regte ding en die ander die verkeerde ding doen. Soms kry die goeie hond die oorhand en soms die slegte een. “Watter een wen op die ou einde?” het een jongman gevra. “Die een wat jy die meeste voer” het die opperhoof geantwoord.
Watter een voer jy die meeste? Die Bybel help gelowiges om die goeie een die meeste te voer mits die Bybel deeglik bestudeer word. Sommige mense meen dat die Bybel hulle telkens soos ‘n skoot adrenalien moet tref. Soms werk dit so. In die meeste gevalle werk dit eerder soos vitamien-pille wat oor ‘n lang periode sy waarde toon. Dit mag af en toe ‘n vinnige uitwerking op ons lewens hê. Die eintlike waarde lê in die jare lange genesende blootstelling wat ons siele ontvang.
By geleentheid het ‘n Amerikaner ‘n bouvallige huis geërf en dit net so onversorg gelaat het. Toe hy ‘n paar jaar later daar opdaag, was die huis weg. Toe hy navraag doen, het hy tot sy skok ontdek dat die erf nie eens meer in sy naam geregistreer was nie. Hy het nagelaat om ‘n adres aan die munisipaliteit te verskaf en kon die plek nie skoongemaak word nie. Dis toe vervreem, afgebreek en as ‘n leë erf verkoop.
Dit kan ook op geestelike gebied gebeur. Daarom moet ons nooit so besig met ander dinge wees, dat ons dit wat ewigheidswaarde het, verwaarloos nie. Dit kan van ons vervreem en wegneem word. Jesus waarsku die gemeente in Efese: “....en bekeer jou...Anders kom ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder...” (Openb.2:5).
Wat staan op jou lewensfondament? ‘n Wolkekrabber of ‘n kafeetjie? Is jy daarmee tevrede? En God?