Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jaloesie is 'n perd wat deur die duiwel gery word. Dit kyk altyd deur 'n vergrootglas wat nietige dingetjies groot laat lyk – dwergies word reuse en in jou sieke jaloesie glo jy jou agterdog is die waarheid.
VRYMESSELARY: ANTICHRISTELIKE STROMING (4)
Lees reeks by Vrymesselary: anti-christelike stroming
Ds. FN van Niekerk
IS VRYMESSELARY 'N GODSDIENS?
Hier is dit eerstens nodig om af te reken met die Vrymesselary se neutraliteitspostulaat (sy voorwendsel dat hy neutraal teenoor alle godsdienste staan); tweedens om na te gaan wat Vrymesselaarskrywers self daarvan sê; en derdens om ondersoek in te stel of die Vrymesselary 'n eenheid vorm van gedagte en selfs van organisasie. Dit is nodig om tot helderheid oor hierdie sake te kom want dit is van die uiterste belang om die Vrymesselary te beoordeel.
A. VRYMESSELARY IS NIE NEUTRAAL TEENOOR DIE GODSDIENS NIE
Die Vrymesselary beweer dat hy neutraal staan teenoor alle godsdienste - hy is glo nie daarvoor nie, ook nie daarteen nie. Dit is bo godsdiensverskille verhewe. Godsdiensverskille word teweeggebring deur dogmas. Vrymesselary is bo dogmas verhewe. Dit verbied die bespreking van dogmatiese godsdiens in sy losies want dit bring net verdeeldheid.
Hierdie gedagte is reeds vasgelê in die Konstitusies van die Vakgrade en is daarna tot vervelens toe herhaal. Ook in Suid-Afrika is daarop nadruk gelê in die Verweerskrif van Suid-Afrikaanse Vrymesselary teen die Rapport van die Kaapse Sinode en ook teen die Rapport van die Transvaalse Sinode in 'n inleidings-artikel in The Masonic Journal of South Africa:"Ons herhaal: die Vrymesselary is nie 'n godsdiens nie. Wat dit wel is, is 'n wonderlike samevatting van al die fundamentele waarhede waarop die godsdienste van die wereld gebaseer is. Die groot verskil tussen ons en die georganiseerde, eksklusiewe, en volgens hulleself, alleensaligmakende kerkgenootskappe van die wêreld is dit: Ons aanbid God in die eenvoud en die suiwerheid van sy absolute mag, majesteit en Vaderskap, en ons laat ons nie belemmer of hinder of verstrik deur mensgemaakte dogmas wat net volgens die mening van baie van ons 'n neiging het om die eenvoudigheid en waarheid van die goddelike natuur te vertroebel en te verberg.
"As Vrymesselaar glo ons aan God die Vader, die Almagtige Skepper van Hemel en Aarde. Die Christen wat Vrymesselaar is, glo bowendien aan God in sy Drieënige Vorm, d.w.s. aan God, die Vader, Jesus Christus, sy Seun en ons Verlosser, en die Heilige Gees. Die Joodse Vrymesselaar glo aan die God van Abraham en van Isak en van Jakob wat Hom op die berg Sinai aan Moses geopenbaar en aan hierdie dienskneg van Horn die Boek van die Heilige Wet gegee het. Die Mohammedaan wat Vrymesselaar is, glo aan God en aan sy profeet Mohammed. Maar die belangrike punt is dit- en ons kan dit nooit sterk genoeg benadruk nie: Dit is steeds en altyd dieselfde God. Soms word die beskuldiging ons teen die hoof geslinger dat die Vrymesselary die leer verkondig dat alle gode eners is. Dit is heeltemal onwaar. Die Vrymesselary ken nie so 'n onding as "gode" in die meervoudvorm van die woord nie. Ons as Vrymesselaars glo dat God een is, onveranderlik en ewig, almagtig en alwetend.
"En by daardie geloof volstaan ons. Ons neem dit nie op onsself nie, ons beskou ons trouens nie as bevoeg om vir ons lede voor te skryf Iangs watter weg hulle God moet vind nie.* Elkeen van ons moet dit doen volgens sy eie gewete, en volgens die voorskrifte van sy eie godsdiens.
"As sommige van ons die mening toegedaan is dat die Kerk horn soms so blind staar op sy eie mensgemaakte dogmas dat hy geneig is om Jesus van Nasaret se eenvoudige boodskap van liefde oor die hoof te sien, sal hierdie mening ons vergewe word.
"Op die vraag: Kan die Christelike godsdiens aanspraak daarop maak dat dit die absolute en finale godsdiens is, sê die verligte Vrymesselaar dus dat daar 'n moontlikheid bestaan dat God Homself op verskillende tye aan meet as een volk geopenbaar het, en terwyl die Christen wat Vrymesselaar is, vas glo dat daardie openbaring geskied het (vir sover dit hom betref) in en deur Christus, en dat dit die grootste openbaring van die goddelike natuur was wat die wêreld nog gesien het, ontsê hy aan sy mede-Vrymesselaar wat aan 'n ander godsdienstige groep behoort, nie die reg om 'n dergelike mening oor sy besondere godsdiens daarop na te hou nie."
Volgens hierdie uitspraak is daar dus net 'n graduele verskil in die openbaring aan die Christendom gegee en "ander openbarings" - 'n kwantitatiewe verskil, nie 'n kwalitatiewe verskil nie.
Hierdie gedagte is eeue gelede deur die Vrymesselaar Lessing (1729-1781) in sy bekende fabel, "Nathan der Weise", behandel.
Nathan die Wyse gee met sy verhaal 'n antwoord op 'n strikvraag van sultan Saladyn. Nathan was 'n Jood, die sultan was 'n Moslem; en tussen hulle het 'n Christen gestaan. Van die drie godsdienste kon tog net een die ware godsdiens wees, en Nathan moes nou uitmaak watter een dit was. Op hierdie vraag kom die antwoord van die fabel van die drie ringe, wat soos volg lui: Eendag, lank gelede, was daar 'n man wat 'n kosbare skat besit het. Dit was 'n ring van onskatbare waarde waaruit honderd skone kleure in towerkrag gestraal het, maar wat veral die eienskap besit het: dat dit die eienaar ,,aangenaam gemaak het voor God en die mense". Dit spreek vanself dat die eienaar die ring in sy familie wou bewaar. Daarom het hy bepaal dat die ring telkens per testamentêre bemaking moes gaan na die seun wat die vader die liefste gehad het. Die besitter sou dan die hoof van die geslag wees.
Dit het 'n tyd lank goed gegaan. Maar toe kom die ring in besit van 'n vader wat drie seuns gehad het. En die drie seuns het hy ewe liefgehad. In oomblikke van swakheid het hy beurtelings aan elkeen van die drie die ring beloof. Nou was daar moeilikheid. Om uit die moeilikheid te kom, het die vader 'n juwelier laat roep wat nog twee ander ringe gemaak het wat presies soos die eerste een gelyk het. Nadat die vader elkeen van die seuns eenkant toe geroep en 'n ring gegee het, sterf hy.
Toe was daar moeilikheid. Nouliks was die vader begrawe of al drie die seuns eis die hoofskap van die geslag op. So woes twis hulle dat hulle uiteindelik voor die regter beland. Al drie voer dieselfde argument voor die regter aan: hulle vader kon nie lieg nie; elkeen se verklaring van hoe hy in besit van die ring gekom het, berus op die geskiedenis; en hulle kon eerder mekaar betig as om hulle vader te verdink.
En nou die regter.
Ook hy kon nie die regte ring uitken nie, want dit het presies soos die ander ringe gelyk. En al het dit geheet dat die oorspronklike ring sy draer aangenaam gemaak het voor God en die mense, het die feit dat die drie broers mekaar beskuldig en beledig het, bewys dat die een nie meer aangenaam was as die ander nie! Ten einde raad het die regter besluit dat al drie bedrieg was. Die egte ring het verlore geraak, en die vader het toe drie enerse ringe laat maak.
Die vader wou die dwingelandy van die een ring moontlik nie langer duld nie, want hy het liefgehad, gelyklik liefgehad - waarom sou hy die een begunstig en die ander nie? Die regter besluit toe dat hulle met mekaar moet wedywer om die krag wat die ring besit. En die een se geslag wat na duisend jaar die aangenaamste voor God en die mense sou wees, sou die besitter van die ware ring wees. So het die wyse regter hom gekwyt van sy taak en gesê dat hy nie na duisend jaar sou beslis nie, want iemand anders sou in sy plek wees. Dus: "Gaan! " het hy die drie broers verwilder.
"En daarmee", se prof. Schilder, ,,staan ons midde in die Vrymesselary! "
Die ooreenkoms tussen hierdie fabel en die beskouinge van die Vrymesselary soos weergegee in hul "Constitutions", art. 1, en in die aanhalings uit die Vrymesselaarsredakteur se inleidingsartikel in die Masonic Journal van Mei 1957 is identies!
Met hierdie fabel en hierdie beskouing het die ongeloof en die Vrymesselary steeds die ware Christelike godsdiens onder verdenking gebring. Dit is niks beter as die ander nie - dit twis nes die ander. Eers as daar 'n godsdiens kom wat sy aangenaamheid voor God en die mens betoon in die uitlewing van verdraagsaamheid en liefde teenoor mekaar, eers dan is die ware godsdiens daar.
Daardie ware godsdiens is vir Vrymesselary geleë in die fundamentele waarhede wat in The Masonic Journal opgesom is, naamlik godsdienstige waarhede waaraan niemand twyfel nie.
Ons antwoord hierop:
(i) Die houding van die Vrymesselary berus nie op neutraliteit nie, maar op dogmatisme erger as die kerk se dogmas.
(ii) Die houding van die Vrymesselary berus op misverstand van die wese van die Christendom of op kwaadwillige onwilligheid om sy waarhede eerlik weer te gee.
(iii) Die houding van die Vrymesselary getuig van die uiterste vleeslike verwaandheid en selfvoldaanheid.
I. Die houding van die Vrymesselary berus nie op neutraliteit nie maar op dogmatisme erger as die kerk se dogmas
Geen teoloog of wysgeer sal die doelstellinge van die Vrymesselary lees nie sonder om onwillekeurig die versugting te slaak: "Ag, hoeveel 'dogmas' lê nie daarin opgesluit nie! " Om net 'n paar te noem:
(i) Die dogma van die gelykheid van alle mense.
(ii) Die dogma van die wesenlike goedheid van die mens.
(iii) Die dogma van die opvoedbaarheid van die mens totdat hy deur 'n proses van evolusie die stadium van die "verligte Vrymesselaar" bereik wat onbewoë kan neersien op die kleinlike verskille van godsdiens en nasionaliteit.
En Iaat ons nou die dogmas aantoon in die sitate uit die aangehaalde inleidingsartikel deur die Vrymesselaarsredakteur van The Masonic Journal van Mei 1957.
(a) Daarin lê die dogmatiese stelling: daar is 'n verskil tussen Christelike kerk en Christelike godsdiens - die Christelike kerk het met sy dogmas die ware godsdiens vertroebel en verduister.
(b) Daarin lê die dogma van die suiwering van die indiwidu deur Vrymesselaarsbeginsels sodat alle Vrymessclaars die "Great Lodge Above" sal binnegaan - sommige sonder die geloof in Christus.
(c) Die volgende stellinge is elkeen 'n dogma op homself:
(i) Die geloof in "the Great Architect of the Universe".
(ii) Die geloof van die sogenaamde Christenvrymesselaar in "God in sy drie-enige vorm".
(iii) Die geloof in God as die Vader.
(iv) Die geloof dat God ewig, almagtig, alomteenwoordig en alwetend is.
fv) Die geloof van die Vaderskap van God en die broederskap van alle mense.
Die Vrymesselary se oë is so verblind deur enge dogmatisme dat hy in sy dogmatiese vooroordeel nie die dogmas van sy eie stelsel voor sy oë sien krioel nie!
- Die Vrymesselary is eng sektaries, want hy laat nie 'n bespreking van sy "landmarks" toe nie.
- Vrymesselary is inklusief, want hy beperk hom net tot sy lede.
- Vrymesselary is onverdraagsaam in sy dogmatisme, want hy verdra geen ander dogma as sy eie nie - dit word ten strengste belet dat ander dogmas bespreek sal word in losies. Maar die valse dogma van 'n godsdiens-bo-geloojsverdeeldheid mag wel daar bespreek word.
Hoe anders as die kerk! Die kerk se dogmavorming het deur diskussie en stryd tot stand gekom. Die negatiewe dwaling het dikwels die kerk beweeg tot positiewe belydenisvorming. Soos Calvyn dit uitgedruk het: "God het die dwaling toegelaat sodat die waarheid des te helderder kan skitter." Daar is geen enkele dogma van die kerk wat nie oop is vir diskussie en revisie nie. Die kerk ken nie so iets as verstarring nie, maar elke dogma kan deur elke lid en elke geslag opnuut getoets word aan God's Woord - natuurlik in die samehang van die kerk as vergadering van die gelowiges ("fides communis"), te wete deur sy meerdere vergaderings.
Die Vrymesselary bedrieg dus die onkundige met valse slagkrete. Die Vrymesselary is nie bokant dogmatiese leerstellinge verhewe nie, maar is 'n geslote, benepe dogmatistiese beweging wat geen kritiek duld nie. Die Vrymesselary is nie universeel nie maar engsektaries gerig tot 'n eksklusiewe kring waaraan die meerderheid van die mensdom (op grond van Vrymesselaarsdogmatisme) nie kan behoort nie, te wete alle gebreklikes, armes, slawe, en vroue (en die vrou maak die helfte van die mensdom uit). Wat 'n ironie! Die mense wat hulle op hul universaliteit beroep, is die enge uitsluiters van andere ook die swartes word uitgesluit.
Die mense wat hulle beroem dat hulle bokant dogmas verhewe is; is die engste en onverdraagsaamste dogmatiste aan my bekend - so dogmatisties dat die Naam van Jesus Christus nie in hulle fundamentele grade (waarin die wese van die Vrymesselary geleë is, naamlik die Vakgrade en die Holy Royal Arch Chapter) genoem mag word nie.
Vrymesselary is dus nie neutraal nie - dis 'n arglistige valse godsdiens gebou op valse dogmas wat antiteties en vyandig staan teenoor die dogmas van die historiese Christendom. Die verskil is dit: die Christendom erken dat hy dogmas het, die Vrymesselary mislei en bedrieg met hulle sogenaamde "dogmaloosheid" wat niks anders as dogmatisme is nie.
Die neutraliteitspostulaat van die Vrymesselary is dus niks anders as 'n misleidende slagkreet nie!
II. Die houding van die Vrymesselary berus op 'n misverstand van die wese van die Christendom of op 'n kwaadwillige verkeerde interpretasie van die wesensbeginsels van die Christendom
Onkunde kan daarvoor verantwoordelik wees dat Vrymesselaars wat lidmate van Christelike kerke is, nie weet wat 'n kerk en wat 'n dogma is nie. Onkunde kan daarvoor verantwoordelik wees dat sulke lidmate nie weet wat die wesenselemente van die Christelike evangelie is nie. Daardie onkunde kan berus op die onwil om te leer by die kerk, of dit kan berus op die kerk se onwil om te leer. In laasgenoemde geval is die kerk skuldig. En hier wil ons in nederige skuldbelydenis voor God staan en bely dat ons as historiese Christendom skuldig staan omdat die Christelike getuienis verflou het; dat die kategetiese onderrig en voorbereiding van lidmate veel te wense oorlaat; dat die prediking dikwels mank gaan aan leerinhoud; ja, dat die historiese Christendom ter wille van menslike oorweginge soms sy leer en sy boodskap verwater het (die modernisme en sg. "verligte" Christendom).
Vir die onkunde en misverstand oor die wese van die kerk en die evangelie is ons verantwoordelik waar ons ons plig versuim het om die nodige voorligting aan kerklidmate te gee.
Waar daardie misverstand egter uit onwil en moedswil by die lidmate gebore is, is ons nie daarvoor verantwoordelik nie.
Vervolg...