Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jaloesie is 'n perd wat deur die duiwel gery word. Dit kyk altyd deur 'n vergrootglas wat nietige dingetjies groot laat lyk – dwergies word reuse en in jou sieke jaloesie glo jy jou agterdog is die waarheid.
VRYMESSELARY: ANTICHRISTELIKE STROMING (5)
Lees reeks by Vrymesselary: anti-christelike stroming
Ds. FN van Niekerk
II. Die houding van die Vrymesselary berus op 'n misverstand... vervolg
As die redakteur van die Vrymesselaarstydskrif dan beweer (saam met Lessing en andere): "Die groot verskil tussen ons en die georganiseerde, eksklusiewe, en, volgens hulself, alleen-saligmakende kerkgenootskappe van die wêreld is dit . . .", wil ons nie hard wees in ons oordeel nie, omdat ons miskien self verantwoordelik is vir soveel onkunde en mistasting by die betrokke kerklidmaat. Of miskien het hy nog nooit die boodskap van sy kerk verstaan nie - die boodskap van die Skriftuurlike Christendom. Sy aangehaalde stelling berus in elke geval op 'n ernstige misverstand. Sy kritiek en die kritiek van Lessing gaan by ons verby, dit raak ons nie omdat dit op valse voorveronderstellinge berus: op 'n karikatuurbeeld van die Gereformeerde godsdiens.
Wanneer het die kerke van die wêreld ooit beweer dat hulle as kerkgenootskappe die alleen-saligmakende boodskap dra - om Lessing se terme te gebruik "dat hulle aangenaam is voor God en die mense"?
Dit is juis 'n wesenskenmerk van die Gereformeerde leer en die Skriftuurlike Christendom dat hy bely dat die mens God nie kan behaag nie en dat hy sy naaste nie kan liefhê nie. Hierdie dinge kom nie uit homself of uit sy kerk nie. Hy kan homself nie salig maak nie, en ook sy kerk kan hom nie salig maak nie. Kragtens die leer van God's verkiesing sien God die mens in ontfermende liefde aan uit vrymagtige welbehae. "Julle het my nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra" (Joh. 15:16). Geen Christen, geen Christelike kerk, is dus welbehaaglik voor God en aangenaam voor die mense nie. Ons is uit genade gered uit 'n verdoemde mensegeslag as verdoemde sondaars; ons is in sonde en ongeregtigheid gebore en by ons moeder ontvang (Ps. 51 :7); ons is van nature bedorwe en geneig tot alle kwaad. Die mens is onmagtig en onbekwaam en onwillig om homself te red. As God nie genadig is nie, sien niemand van ons die hemel nie. En God is genadig oor wie Hy wil. As ons dan roem, sal ons alleen in die Here roem, roep Paulus uit. Die kerk is volgens hierdie beskouing geen "alleen-salig-makende kerkgenootskap" soos die geagte redakteur van die Masonic Journal en Lessing wil voorgee nie. Die kerk is maar net draer van 'n alleen-saligmakende boodskap wat van God kom, en hy erken gedurig dat hy 'n gebrekkige, sondige, onvolmaakte draer is. Ja, as dit van die kerk afhang, sou niemand in die hemel kom nie. Maar deur God's verkiesende genade werk sy heilsboodskap die wedergeboorte in die harte van kerklidmate, en dan eers word hulle salig: deur die saligmakende geloof, nie van 'n kerk nie, maar deur die saligmakende geloof in Jesus Christus buite. Soos ons in Hand. 4:12 lees: "En die verlossing is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie."
Nooit het die historiese Skriftuurlike kerk in sy Gereformeerde gedaante daarop aanspraak gemaak dat hy aangenaam is voor God en dat hy as instituut die alleen-saligmakende geloof besit met uitsluiting van ander kerke of mense wat in Christus glo nie.
Dis die evangelie van ootmoed hierdie. Die uitverkiesing breek die veer van die mens se hoogmoed voor God. Die geloof is nie uit onsself nie, dis 'n gawe van God. Daar is dus geen sprake van selfverheffing by die wedergeborene of by die ware kerk nie.
Ons het nooit aanspraak daarop gemaak dat ons as lidmate of kerk uit onsself aangenaam is voor God nie.
Lessing se kritiek en die kritiek van alle Vrymesselaars laat ons dus koud. Hulle het vir hulle 'n karikatuurbeeld van die kerk opgebou en nou veg hulle daarteen soos die beroemde Don Quixote teen sy windmeulens geveg het.
'n Tweede mistasting - of misverstand, of opsetlike verdraaiing van die feite - by die Vrymesselary is dat hy dit so voorstel dat die Christen en die kerk hom aangenaam moet maak voor die mense. Dat dit sy toetssteen van waaragtigheid en egtheid sal wees: daarom stuur die regter, in Nathan der Weise, die broers vir duisend jaar terug om hulle aangenaam te maak voor God en die mense. Met ander woorde, die Vrymesselary stel dit as 'n wesenskenmerk van die ware godsdiens, wat die Christendom eers moet gaan leer om te be-oefen voordat hy aanspraak kan maak op die egte ring, die ware godsdiens.
Uit hierdie opvatting of misduiding van die ware kerk is gebore die eensydige sentimentele gesanik van die Vrymesselary oor Christelike liefde, 'n liefde wat by hulle so ver strek dat hulle heeldag oorloop van die Vaderskap van God en die broederskap van alle mense. (Let daarop: al weer 'n Vrymesselaarsdogma.)
Maar die Calvinistiese Christendom het dit nog nooit toegegee dat dit 'n wesenskenmerk van die Christendom is nie - hierdie verdraagsaamheid en broederskap wat die grense van die Skrifuitsprake oorskry. Jesus Christus het gekom as 'n hoeksteen wat die bouers verwerp het, as 'n steen van aanstoot, as lemand wat vir sy dissipels gevra het; "Wil julle nie ook maar weggaan nie?" toe die skare, in ergernis oor sy leer, van Hom af weggedraai het; as iemand wat gesê het Hy het nie gekom om "vrede te bring nie, maar die swaard" (Matt. 10:34)!
Die evangelie is juis nie aangenaam vir die mense nie, dis 'n skandalon - 'n struikelblok vir die Jode, 'n dwaasheid vir die Grieke (I Kor. 1:24). Die evangelie staan in die teken van antitese teenoor die sondige mensdom. Hy wil nie populêr wees nie, hy wil nie vir hulle aangenaam wees nie: hy wil net evangelie wees, boodskap van God wat ewig indruis teen die sondige vleeslike hart en wat met die hamerslae van Gods Gees teen daardie hart moker totdat die hart vermurwe word en deur Gods genade tot wedergeboorte kom.
En oor 'n "duisend jaar", as ons getrou is aan die evangelie (en die wêreld so lank staan), sal ons terugkom om rekenskap te gee voor die Groot Regter, Jesus Christus. En dan sal dit blyk dat ons (die ware wedergebore Christen) minder populêr is as ooit tevore, dat ons, om Paulus se woorde te gebruik, ”die afskraapsel van almal is tot nou toe". Want, ja, volgens die toekomsvoorspellinge sal die Christene en die Christelike kerke so onaangenaam wees dat die Antichris en die valse profeet hulle sal vervolg (Openb. 13), en dat hulle vermoorde lyke onbegrawe op die strate van Babilon, die wêreld, sal lê (Openb. 11), - die lyke van die twee getuies.
Op die eerste bladsye van die Bybel (Gen. 3:15) lees ons dat God sê: "Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad (die wêreld) en haar saad (die gelowiges)", en die laaste bladsy van die Bybel eindig met 'n verskerpte antitese: "Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word" (Openb. 22:11).
Ook hier laat die kritiek van Lessing en die Vrymesselary ons koud, al sou ons as wedergeborenes tekort skiet omdat ons nie genoeg liefde teenoor die beginsel van die Moslem en die Jood het nie. Ons soek nie om ons aangenaam te maak voor Jood, heiden en Moslem nie - dis 'n wesenskenmerk van Vrymesselary, wat uit die aarde aards is - maar ons verkondig die evangelie van Jesus Christus, en daardie evangelie staan antiteties teenoor die mens en die wêreld, en volgens daardie evangelie behaag niemand God en die mense nie behalwe hulle wat in Christus uitverkies is tot die ewige salige lewe.
Vrymesselaarskritiek in die vorm van die fabel van Nathan der Weise gaan dus by ons verby. Dit laat ons koud. Dit is gebou op 'n selfgemaakte karikatuurbeeld van die Christendom deur Vrymesselaarswensdenkery. Hulle kritiek van die alleen-saligmakende geloof in Jesus Christus op bogenoemde voorveronderstellings in die fabel van Nathan der Weise raak dan ook kant nog wal. En waar Schilder tereg sê: "Met die beskouinge van genoemde fabel staan ons midde-in die Vrymesselary", daar raak die neutraliteitsbeskouinge en hulle beskouinge oor die ware godsdiens kant nog wal.
Die Vrymesselary redeneer hier by die historiese Christendom verby omdat hulle uitgaan van die veronderstellinge, valse dogmas.
Hulle sal, as hulle eerlik en eerbaar genoem wil word, weer eens rekenskap moet gee van hulle siening van die Christendom en die kerk as hulle wil kom met argumente wat iets om die lyf het.
Dit help nie om met groot vertoon teen 'n karikatuurbeeld van die Christendom te veg soos Don Quixote teen die windmeulens wat hy as drake aangesien het nie. Dit help nie vir mense wat in dogmatiese glashuise woon (Vrymesselary) om die kerke met hulle dogmas met klippe te gooi nie. In die eerste geval maak jy jou net belaglik, in die tweede geval kry jy self net seer, en dan is jy skaam-kwaad en verontwaardig soos alle verharde Vrymesselaars skaam-kwaad en verontwaardig gaan wees oor hierdie kritiek op hulle hooggewaande "neutraliteit" en "dogmaloosheid" - 'n neutraliteit en dogmaloosheid wat maar net 'n mantel is om hulle uiterste dogmatisme en onverdraagsaamheid en enge benepenheid van lewensbeskouing te verberg. Hulle is waarlik verkramptes.
Vrymesselary verslaaf die menslike gees! Alleen Christus maak jou vry!
III. Selfvoldaanheid en verwaandheid van die Vrymesselary... vervolg