Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou bure wil kwaad maak, vertel tog maar net die waarheid oor hulle...
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (1)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
(Gelofteland sal voortaan daagliks 'n opvolgles uit hierdie leersame studie-werkstuk plaas, en in afsienbare tyd die hele Ou Testament-studie as 'n gratis aflaaibare pdf-boekie beskikbaar stel. U is ook welkom om by ons navraag te doen indien u 'n gratis laserskyfie daarvan wil ontvang.)
Ter inleiding
Glo u aan God? Hoe weet u dat daar werklik ʼn God is? Het iemand Hom miskien per toeval ontdek? Nee, God het self die aanvoorwerk gedoen en Hom aan die mens openbaar. As dit nie daarvoor was nie, het niemand Hom geken nie. Hy openbaar Hom op twee maniere - deur die natuur (Ps.19:1-4) en deur die Woord (Hebr.1:1). Die PROTESTANTSE BYBELSKOOL handel uitsluitlik met Woordopenbaring en gebruik die 1953 Afrikaanse Bybelvertaling vir hierdie Bybelstudie.
DIE OU TESTAMENT
GENESIS
LES 1
DIE SKEPPING
Gen 1-2:3
1. Wie is God?
Wat is die eerste ding wat God wil hê dat ons van Hom moet weet? Dat Hy ʼn Skepper is. Ons bely dit in die Twaalf Artikels: “Ek glo aan God....Skepper van hemel en aarde”. Wanneer skep Hy? Die Bybel sê: In die begin. Maar waar kom God dan vandaan? Niemand weet nie. Hy was van die begin af daar (Kol.1:17) en sal vir altyd daar wees. By Hom is daar geen opeenvolging van gebeure soos by die mens nie. Hy het geen begin of einde nie. Wanneer Hy begin skep, neem tyd 'n aanvang.
Wat is die verste grens van die toekoms? Die wederkoms van Christus. Dis die einde van alle tyd (Openb.21:1,2). Daarna volg daar niks verder nie. Gen.1:1 is die verste grens terug in die verlede. Voor dit was daar niks nie. Wat in Gen.1:1 begin is, kom met die wederkoms van Christus tot ʼn einde. Gen.1 en Openb.22 vorm as’t ware ʼn toebroodjie met tyd en gebeure as die vulsel.
Hoe het God alles laat gebeur? Hy het dit geskep - uit niks nie! Net God kan dit doen. Ons het grondstowwe nodig om te skep; nie God nie (Rom.4:17; Ps.33:6,9; Joh.1:1-3). Hierin toon Hy juis sy Almag en verskil van die afgode wat van hout, klip of metaal gemaak is. Ons sal nooit sy Skeppingswerke verstaan nie. Ons glo dit net omdat Hy so sê (Hebr.11:1,3).
Wat het God geskep? Die hemel en die aarde. Die woord hemel het verskillende betekenisse in die Bybel. Dit kan die wolkehemel (1 Kon.18:45) of die beweegruimte van voëls (1 Kon.14:11) wees. Dit kan ook die sterrehemel (Ps.8:4) of woonplek van God (1 Kon.8:27, Mt.6:9,10) aandui.
Hoe lyk die hemel as woonplek van God? Wonderliker as wat ons ooit kan dink! Dis natuurlik ook die woonplek van die engele. Wanneer hulle geskape is, word nie vir ons gesê nie, slegs dat hulle reeds by die grondlegging van die wêreld al daar was (Job.38:7). Hulle is heelwaarskynlik saam met die hemel geskep. Die hemel is egter nie van ewigheid af daar nie, maar deur God vir Homself geskep. Dis derhalwe ook die geesteswêreld waarvandaan Jesus gekom en waarheen Hy teruggekeer het en met sy wederkoms weer vandaan sal kom om ons te kom haal (Hand.1:9-11).
Gen.1:1 se hemel en aarde is die geestelike en stoflike wêreld. Daar is skakeling tussen hulle. Engele verskyn o.a. aan Abraham, Jakob en Maria. Daarbenewens lees ons van mense soos Henog en Elia wat lewend in die hemel opgeneem is. Maar hoe het die aarde voor die skepping gelyk? Woes, leeg en duister. Glad nie ʼn mooi gesig nie. Daarna het God dit kragtens ʼn selfopgelegde tydskedule in ses skeppingsdae baie mooi gemaak.
2. Die eerste dag
God het die aarde mooi begin maak toe Hy lig in die duisternis gebring het. Hierdie lig in duisternis sou later ook ʼn geestelike betekenis verkry (Jes.9:1, 1 Joh.1:5). God het gesê: “Laat daar lig wees” en daar was onmiddellik lig. Dit spreek van sy Skeppingsmag! Daarna het Hy sy tevredenheid oor sy werk uitgespreek. Slegs by die tweede (uitspansel) en die laaste (mens) skeppingswerk word hierdie tevredenheid nie uitgespreek nie. Dit beteken nie dat dit minder goed was nie, maar slegs dat die skrywer hom nie aan ʼn dwingende reëlmaat in sy verhaal bind nie. Met die skeiding tussen lig en duisternis het tyd in aanvang geneem en was daar voortaan dag en nag.
3. Die tweede dag
God het met sy skeppingswerk voortgegaan deur weereens net te spreek en skeiding tussen die waters gebring. Dit gee ʼn mens ʼn goeie idee van hoe woes die aarde was. Die skeiding van waters het ingrypende veranderinge gebring. Die woord uitspansel is dit wat ons sien as ons opkyk. Ons bemoei ons egter nie met die omvang daarvan nie. Dis ʼn saak vir die wetenskap. Al wat ons moet weet, is dat God die son, maan en sterre teen die agtergrond van die uitspansel geplaas het.
4. Die derde dag
God was nog nie klaar met die waters nie. Van die water bokant die aarde (reën) word niks verder gesê nie. Dit kom eers weer in die verhaal van die sondvloed ter sprake. Die derde dag handel dus slegs met die waters onder die uitspansel (op die aarde) wat op een plek versamel is sodat droë grond sigbaar geword het. Op daardie stadium het die aarde slegs uit water bestaan (2 Pet.3:5) en het die eerste ligstrale van die skepping uitsluitlik op water geval.
Daarna het God aan die skepping sekere name gegee. Die droë grond is aarde en die versameling van waters see genoem. In Job.38:8-11 word die grootheid van lg. besing. Dis egter nie al wat God op die derde dag geskep nie. Hy het ook die plantewêreld geskep wat uiteraard uiters noodsaaklik vir die diere sou wees.
5. Die vierde dag
Die tweede drietal van die ses skeppingsdae het met die vierde dag begin. Die eerste dag van die eerste drietal staan in noue verband met die eerste dag van die tweede drietal en het met lig te doen. Op daardie tydstip was daar alreeds skeiding tussen lig en duisternis waarna God twee groot ligte geskep het om dag en nag te skei – een om bedags en een om snags te skyn. Met hierdie ligte het 'n reëlmatige tydsindeling in werking getree (Ps.136:7-9). Alhoewel die son, maan en sterre alreeds op die eerste dag daar was, het hulle eers op die vierde dag hul nut van God ontvang.
6. Die vyfde dag
Op die vyfde dag het God lewende wesens op die aarde begin vestig. Tot op daardie stadium was daar slegs plante op die aarde. Daarna het Hy visse, seediere en voëls geskep en hulle beveel om te vermeerder. Dit was die eerste van God se skepping wat 'n opdrag en besondere seën van Hom ontvang het. Hy het in elkeen van hulle ʼn voortplantingsdrang geplaas.
7. Die sesde dag
Op die sesde dag het God Hom tot die aarde gewend. Dit moes lewende wesens (landdiere) voortbring. Nadat God dit geskep het, was Hy nog nie klaar nie. Hy het ʼn heilige samespreking laat plaasvind en ʼn groot besluit geneem: “Laat ons mense maak” Met wie het God hier gepraat? Met engele? Nee, die mense waarvan Hy praat, moes na hulle “beeld en gelykenis” gemaak word. Dit kon dus nie engele gewees het nie, maar God in sy heilige Drie-eenheid. Die meervoud “ons” dui baie duidelik daarop.
Beeld en gelykenis beteken dat God vir Hom in die mens ʼn gespreksgenoot geskep het. Nie een van die ander skeppinge kan met God praat nie; slegs die mens. God het hulle man en vrou geskep en aan hulle ʼn soortgelyke opdrag as aan die diere gegee nl. om deur voortplanting te vermeerder. Gevolglik skreeu homoseksualisme teen die skepping. Dit tart God (Rom.1:26, 27)!
8. Die sewende dag
Op die sewende dag het God nie verder geskep nie, maar van al sy werk gerus. Dis die enigste dag waarvan daar nie gesê word dat dit aand en môre was nie. God het egter nie maar net geskep en daarna van sy Skepping onttrek nie. Hy is nog elke dag met sy Skepping besig. Hy onderhou dit tot in die fynste besonderheid (Joh.5:17).
Op sy skeppingsweek volg daar nie ʼn nuwe week soos vir die mens nie. Sy laaste skeppingsdag was die mens se eerste dag. Daarna het dae, maande en jare gevolg. God het ritme in die dae gebring deur die sewende dag opsy te sit. Die mens moes sy Voorbeeld volg en ook op die sewende dag van sy arbeid rus. Daarmee het God ʼn gesonde lewensritme van ses dae werk en een dag rus vir die mens geskep (Ex.20:11).
Slotopmerking
Die skeppingsverhaal is nie ʼn wetenskaplike verhandeling nie. Dit kan nooit ondersoek word nie. Dis ʼn openbaring. Vraagstukke oor die ouderdom van die aarde, die mensheid, ens. sal altyd onbeantwoord bly. Mense kan hoogstens daaroor spekuleer.
Genesis openbaar God slegs as Skepper en Onderhouer van die skepping. Dis al wat die mens nodig het om te weet. Gelowiges steur hulle derhalwe nie aan ydele bewerings en onbewese stellings (hipoteses) soos bv. die Ewolusieteorie nie. Dit weerspreek die Bybelse verhaal van die Skepping. Gelowiges aanvaar die skeppingsverhaal soos dit in die Bybel staan.