Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die ses deurslaggewende faktore vir enige oorwinning is: visie; beplanning; 'n teiken, selfdissipline, groot verantwoordelikheid, en dan jy!
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (17)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
DIE UITTOG
Ex 12:1-17, 43-51; 14:1-15, 21-27; 15:22-27; 16:1-16; 17
1. Die pasga
Met elke plaag wat Egipte getref het, het die Israeliete ʼn magsdaad van God aanskou. Dit het groot spanning met die Egiptenare veroorsaak. Toe Moses aankondig dat God deur Egipte gaan trek en al die eersgeborenes sou ombring, het die Farao weereens nie geluister nie. Israel sou weer oorgesien word, maar dié keer nie sonder ʼn sigbare geloofsdaad nie (Hebr.11:28). Elke huisgesin moes ʼn lam slag en die bloed aan die kosyne smeer sodat die doodsengel die huis nie besoek nie.
Die Israeliete het dit gedoen en bly lewe. Daarna is elke huishouding in Egipte getref waarna die Farao onvoorwaardelik bevel gegee het dat Israel moes trek. Die Egiptenaars het uit vrees vir nog plae selfs by die Farao aangedring om die Israeliete weg te stuur. Israel het van die geleentheid gebruik gemaak om klere asook goue- en silwerware van hul onderdrukkers te eis. Die Egiptenare het alles gegee en ná die uittog ʼn sug van verligting geslaak (Ps.105:38).
Die Israeliete het in die rigting van die Skelfsee getrek. God het die pad bedags met ʼn wolkkolom en snags met ʼn vuurkolom aangedui. Die getal Israeliete was ongeveer 600,000 man te voet buiten die vroue en kinders. ʼn Klompie Egiptenaars wat ontsag vir Israel se God gehad het, het ook saam met hulle getrek (Ex.9:20). Israel het haastig dog nie holderstebolder uit Egipte vertrek nie. Hulle was selfs gewapen (Ex.13:18) en het ook die gebeente van Josef saam met hul geneem (Jos.24:32).
Hierdie uittog is die allerbelangrikste gebeure in Israel se ganse geskiedenis. Dit was die begin van hul vrye, selfstandige volksbestaan. Die nag waarin die doodsengel by hulle verbygegaan het, sou voortaan as ʼn feesdag gevier word. Die slag van ʼn lam moes jaarliks in dieselfde maand (Abib) feestelik gevier word en pasga genoem. Dit beteken verbygaan of verskoon en dui op die gebeure van daardie nag. Pasga het in ons volksmond paas geword - paasfees. Ongesuurde brood is sewe dae lank ter herinnering aan die uittog genuttig (Deutr.16:3). Paulus sien hierin ʼn beeld van die heiligmaking en noem Christus die ware Paaslam (1 Kor.5:7,8).
2. Deur die Skelfsee
Israel het kort hierna deur die Skelfsee, ʼn deel van die Rooisee, getrek. Skelfsee beteken rietsee. In die NT word van die Rooisee gepraat (Hand.7:36; Hebr.11:29). Ons weet nie presies waar dit was nie, veral nie ná die bou van die Suezkanaal wat groot grondverskuiwings veroorsaak het. Geleerdes meen dat die deurtog moontlik in die omgewing van Eilat plaasgevind het.
Op ʼn stadium het die Egiptenare die Israeliete agternagesit en vasgekeer, waarna Israel deur ʼn wonderwerk van God op droë grond deur die see getrek en die Egiptenaars met die Farao inkluis, verdrink het. Exodus vermeld nie die dood van die Farao nie, maar wel Ps.136:15. (Hierdie Farao was heelwaarskynlik Merenptah wie se mummie in die museum in Kairo besigtig kan word). Israel het besef dat God op wonderbaarlike wyse in hulle lotsgevalle ingegryp het en saam met Moses ʼn jubellied tot sy eer gesing (Ex.15:1). Koordanse is deur Miriam, die profetes, gelei.
3. Op pad na Sinai
Ná die Skelfsee-gebeure het Israel suidwaarts in die rigting van Sinai beweeg. Die Israeliete was aanvanklik oor voedselvoorsiening en daaglikse versorging besorg. God het egter wonderlik onderneem en hulle telkens uitkoms gebied. Hy het hulle vir 40 jaar lank soos ʼn Vader versorg. Hulle klere en skoene het nie eens verslyt nie! (Deutr.29:5).
Hul eerste probleem was drinkwater. Toe hulle na drie dae water kry, was dit bitter waarna Moses ʼn stuk hout in die water gegooi en dit drinkbaar geword het. Toe die Israeliete voedselgebrek ervaar en in hul ongeloof na Egipte terugverlang het, het God hul ongeloof verdra en kwartels gestuur. Nog wonderliker was die manna wat elke oggend in die laer geval het. God het hierdie brood uit die hemel voorsien totdat die Israeliete in Kanaän aangekom het (Jos.5:12). Dit was fyn en korrelrig soos ryp en smaaklik (Num.11:7).
Manna was geen natuurlike produk nie, maar hemelbrood uit God se hand (Ps.105:40). Daar was altyd net genoeg vir een dag se gebruik. Dit het nie tot die volgende dag vars gebly nie. Net op die sesde dag. Op die sewende dag het daar geen manna geval nie sodat die volk kon rus. Gevolglik is daar op die sesde dag genoeg vir die volgende dag se behoeftes bymekaar gemaak. Hier vind ons weer iets van die instelling in die tuin van Eden wat later in die Wet opgeneem sou word.
Toe die volk naby Horeb kom, was daar geen drinkwater nie en is Moses so ernstig verwyt, dat hy vir sy lewe gevrees het. Hulle was heimlik van plan om hom te stenig! Daarop het Moses ʼn rots geslaan waaruit water gevloei het.
Israel was gereeld in krisissituasies omdat God hulle kon leer om ten volle van Hom afhanklik te wees. Dit was dan ook die rede vir die buitengewone lang woetyntog – Israel moes van God afhanklik raak soos ʼn kind van sy aardse vader (Deut.8:3). Dit stem met Christus se eerste saligspreking ooreen (Mt.5:3)
Agter God se weldade in die woestyn, het Christus, die Engel van die Here, gestaan wat met Moses gespreek het.. Hy is immers die brood (Joh.6:35) asook die water van die lewe (Joh.7:37). Paulus sluit in 1 Kor.10:1-4 hierby aan.
4. Israel veg teen Amalek
Die Amalekiete was die eerste vyand op hul pad. Hierdie volk het van Esau afgestam (Gen.36:12). Hulle het die Israeliete as ʼn bedreiging vir hulle weivelde gesien en hulle die stryd aangesê. Daarna het Moses die gevegsbevel aan Josua, ʼn bekende kryger uit die stam van Efraim, oorgedra.
Hy is aanvanklik Hosea genoem. Moses het egter sy naam na Josua verander (Num.13:16).
Moses het besef dat sy volk niks van oorlogvoering af geweet het nie en dat ʼn taai stryd op hulle gewag het. Met die staf wat God hom gegee het, het hy op die top van ʼn heuwel gaan sit en dit omhoog gehou. Dan het Israel gewen. As hy dit laat sak het, het hulle verloor. Toe hy moeg word, het Aäron en Hur onder sy arms ingebuk sodat die staf opgehef gebly en Israel die oorwinning behaal het. Volgens Joodse verhale was Hur Miriam se man en dus sy swaer. God het Amalek gehaat omdat hulle oorlog teen Israel gemaak en God nie gevrees het nie (Deutr.25:17-19). Selfs hul nagedagtenis moes uitgedelg word.
5. Israel vier die oorwinning
Daarna het Moses ʼn altaar gebou en dit DIE HERE IS MY BANIER genoem. Dit sou voortaan Israel se stryd- en godsdiensleuse wees. Die berig van die oorwinning het destyds wyd versprei sodat Jetro, Sippora en haar twee seuns selfs vir Moses kom kuier het (Ex 18). Jetro het iets wonderliks in die laer van die Israeliete bemerk – mense het Moses raad gevra.
Jetro het Moses aangeraai om bekwame manne aan te wys om hom met regspraak in klein sake te help. Dit sou hom tyd gee om net groot sake te hanteer. Hy was immers God se verteenwoordiger onder die volk. Dit was baie goeie raad. Daarna het Moses owerstes oor duisend, honderd, oor vyftig en oor tien aangestel. Elkeen het ʼn eie gesagstruktuur gehad. Dit was die begin van weldeurdagte regspraak.
NAGEDAGTE
Geleerdes bereken dat ongeveer 3,5 miljoen Israeliete (mans, kinders en vrouens) Egipte destyds verlaat het waarna God hulle vir 40 jaar lank wonderbaarlik onderhou het. Wat sou Moses alles benodig het indien hy dit nie in die geloof gedoen het nie? ʼn Militêre strateeg het dit uitgewerk. Moses sou 1500 ton voedsel per dag nodig gehad het. Dis twee vol goedertreine van 1,6 km lank. En dit elke dag!
Daarbenewens sou hy 4000 ton brandhout per dag vir voedselvoorbereiding en minstens 20 miljoen liter water nodig gehad het. En dit in ʼn gebied waar daar nie riviere of mere was nie. En alles sou aangery moes word!
As Israel dubbelgelid deur die Skelfsee moes loop, sou die tou 1280 km lank gewees het. Dit sou hulle 35 dae en nagte geneem het om deur te loop. Om in een nag deur die Skelfsee te kon trek, moes die opening minstens 5 km breed gewees het. Elke keer as daar kamp opgeslaan is, sou die gebied ongeveer 1200 vk. km beslaan het. Dis so groot soos Bloemfontein. En hierdie voorsiening het 40 jaar (14,600 dae) geduur!
Vervolg...