Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geld is kosbaar, 'n huis ook goed, maar die allerbeste is 'n goeie vriend, in donker dae gee hy jou moed. Groete aan al ons vriende in die geloof!
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (19)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LEVITIKUS
Exodus eindig met die voltooiing van die tabernakel. Levitikus begin met die wette in sake die offers wat tot die erediens behoort het. Daar was baie offers soos die brand-, spys-, dank-, sonde- en skuldoffer. Daarna het ʼn magdom van voorskrifte gevolg wat nie net vir die priesterdiens van belang was nie, maar ook oor die reinheid van mense en die offer van diere gehandel het.
Hierdie wette is slegs van betekenis indien dit as ʼn afbeelding van die versoening wat eeue later deur Christus sou plaasvind, gesien word. Want in Christus is die Wet vervul (Rom.10:4). Daarom is daar geen voortsetting van die heilsverhaal in Levitikus nie, slegs ʼn paar los feite. Selfs Numeri begin met ʼn tiental hoofstukke vol wette wat by Levitikus aansluit.
NUMERI
LES 1
VAN SINAI NA KADES
Num 10:11-13, 33-36; 11-12; 13:1-3, 17-33; 14:1-20;36-38
1. Al hoe dieper die woestyn in
Twee jaar ná die uittog uit Egipte het die wolk van God van die tabernakel af opgelig. Dit was die teken dat die Israeliete verder moes trek. Nadat die tabernakel opgevou is, het die Israeliete in ʼn noordelike rigting na Kanaän begin trek. Die woestyntog was so moeisaam en uitputtend dat die volk baie gekla het. God het by geleentheid so kwaad vir hulle geword dat Hy vuur uit die hemel laat val en baie tente vernietig het. Nadat Moses ernstig tot Hom gebid het, het die vuur opgehou. Daarna het hulle die plek Tabera genoem. Dit beteken plek van die brand.
Toe Israel se brood opraak, het God weer manna gegee. Toe die vleis opraak, het die gemengde bevolking veral baie gekla en na Egipte terugverlang (Ex.12:38). Hulle het die Israeliete so teen Moses opgesweep, dat hy baie mismoedig geword het. Die las was vir hom te swaar. God moes hom maar liewer laat sterf!
God het dus twee pasiënte gehad - Israel en Moses. Hy het by Moses begin en hom 70 oudstes laat afsonder om hom te help. Daarna het God die Heilige Gees oor hulle laat kom sodat hulle vol geesdrif en wysheid gehandel het. Die Heilige Gees was altyd op Moses, maar hy het moeg geword om Hom te benut. Na hierdie ingrypende gebeure het twee van die oudstes selfs in die kamp geprofeteer as bewys dat die Gees van God nie aan ʼn heiligdom gebonde was nie. Daarna was dit Israel se beurt. God het ʼn oorvloed van vleis gegee en kwartels in die laer laat kom. Hierdie voorsiening was egter nie uit guns nie. Terwyl Israel gulsig aan die kwartels weggelê het, het God ʼn paar van hulle doodgemaak waarna die volk na Haserot versit het.
2. ʼn Nare ervaring
Moses moes by Haserot die nyd en afguns van sy broer en suster ontgeld. Hulle het ʼn baie groot rol in sy lewe gespeel. Miriam het hom as baba tot by die Farao se dogter vergesel terwyl Aäron sy segsman by die Farao was. Dit het hulle skynbaar gehinder dat Moses soveel eer van sy mense ontvang het. Toe hy boonop ʼn Kusitiese vrou neem, was die gort gaar en het hulle hom berispe.
Kus (vandag Ethiopië en ʼn deel van die Soedan) was suid van Egipte en die inwoners donker van gelaat (Jer.13:23). Ou Joodse verhale meld dat hierdie vrou ʼn koningsdogter was en die huwelik heelwaarskynlik ʼn gerieflikheidshuwelik om diplomatieke redes. Die Israeliete was immers sterk rasbewus. Daarom kan Miriam en Aäron se ontsteltenis goed begryp word. God het hierdie vreemde huwelik egter nie veroordeel nie en hulle optrede jeens hul broer gestraf. Miriam was sewe dae lank melaats waarna sy op Moses se gebed weer gesond geword het.
3. Die twaalf verspieders
Toe Israel in Paran aankom, is 12 verspieders uitgestuur om die land te verken; een uit elke stam. Dit was ʼn bergagtige gebied met goeie waterbronne en baie weiveld. Josua was een van die verspieders. Hy was uit die stam van Efraim en van jongs af ʼn vertroueling van Moses.
Die verspieders het deur die Negebwoestyn getrek en by Hebron, blyplek van die Amoriete en Hetiette in die dae van Abraham, aangekom. Daar het hulle die uitsonderlik groot Enakiete aangetref wie se stamvader ene Arba was (Jos.15:13). Hebron is ook Kirjat-Arba genoem. Dit beteken stad van Arba.
Die verspieders het in die dal van Eskol (druiwedal) op reuse druiwetrosse afgekom en daarvandaan noordwaarts tot by Hamat gegaan. Toe hulle 40 dae later terugkeer, het hulle geesdriftig van Kanaän gepraat. Dit was ʼn land van melk en heuning. Hierdie uitdrukking het op die rykdom van landbouprodukte gedui. Kanaän was voorwaar ʼn begeerlike land!
Die enigste probleem was die inwoners. Hulle was baie groot en hul stede almal met groot mure beskut. Tien van die verspieders het openlik gesê dat Israel nie teen die Kanaäniete bestand sou wees nie. Hierdie stelling was uit ongeloof gebore. Hulle negatiewe verslag het Israel se moed in sy skoene laat sak en die ergste laat vrees. Die Kanaäniete kon die Israeliete dalk uitmoor en hulle vroue en kinders as slawe neem. Israel wou daar en dan ʼn nuwe leier kies om hulle na Egipte terug te neem. Liewer bang Jan as dooie Jan!
Josua en Kaleb het die volk met ‘n boodskap van God tot ander insigte probeer bring. Israel sou die Kanaäniete soos ʼn stukkie brood opeet (Num.14:9)! Hulle woorde het egter geen indruk op die mismoedige Israeliete gemaak nie waarna hulle die twee verspieders selfs wou stenig. Was dit nie vir die heerlikheid van God wat in die tent van samekoms verskyn en hulle bose plan verydel het nie, was die twee verspieders bokveld toe!
God was baie kwaad vir die Israeliete en wou hulle met ʼn dodelike pessiekte tref. Was dit nie vir Moses wat, soos ʼn Abraham van ouds, om vergifnis vir hulle gepleit het nie, was hulle beslis bokveld toe! Moses, die priester-middelaar, het vir 40 dae en 40 nagte by God vir hulle gepleit en vergifnis verkry (Deut.9:25-29).
Moses se suksesvolle pleidooi het nie God se voorgenome straf heeltemal ongedaan gemaak nie. Dit het net anders verloop. God het nie die hele volk vernietig nie; slegs die geslag wat geweier het om op te trek. Almal, 20 jaar en ouer, sou in die woestyn sterf. Net hulle kinders sou die beloofde land ingaan. Hierdie sonde is hoerery genoem. Die verhouding tussen God en sy volk was soos ʼn huwelik. Israel het God verag en daarmee die heilige band verbreek.
Die 10 ongelowige verkenners het die eerste omgekom. Daarna het God Israel as straf laat omdraai, terug in die rigting van die Skelfsee. ʼn Wegbreekgroep is egter reguit Kanaän toe waar hulle deur die Kanaäniete en Amalekiete oorweldig is. Hulle het verstrooi en vir die nageslag verlore geraak.
Vervolg...