Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dikwels kwel ons ons oor die hoeveelheid dae wat ons sal lewe, tog kan dit geen dag vir ons byvoeg of wegneem nie want God het nog voor ons gebore is bepaal presies hoeveel dae elkeen van ons sal lewe. Ook Dawid vertel dit in Ps 139 waar hy sê: "U oë het my ongevormde klomp gesien (toe nog in sy moederskoot); en in u boek is hulle almal opgeskrywe: die dae
wat almal bepaal bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie." Waarom kwel ons ons dan?
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (20)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 2
DIE VERBLYF IN KADES EN OMGEWING
Num 16; 17; 20:1-13
1. Oproermakers in die laer
Moses het iets beleef wat geen leier wil hê nie – ʼn sameswering deur twee groepe. Korag, ʼn Leviet, was die leier van die eerste groep oproermakers. Hy het Aäron se priesterskap begeer. Die tweede groep is deur Datan en Abiram aangevoer. Hulle was Rubeniete wat Moses se leierskap betwis het omdat hulle uit Ruben, Jakob se eersgeborene, gestam het.
Alhoewel hulle aanhang slegs 250 man getel het, was hulle almal invloedryke mense. Die gewone mense was nie afgunstig nie; slegs diegene van aansien omdat hulle ereposisies begeer het. Uit verskeie Skrifgedeeltes blyk dat daar twee groepe opstandelinge was (Deutr.11:6; Ps.106:17; Num.27:3). Moses het hulle egter afsonderlik aangehoor.
Die groep van Korag het gemeen dat Aäron en sy mense nie bevoeg was om diens in die tabernakel te verrig nie. Moses het geweet dat hul kritiek uit eersug was omdat God self die Leviete daarvoor bestem het (Ex.29:44). Die voorreg om priester te wees, word nie uit eie strewe nie, maar deur verkiesing verkry. Korag en sy trawante is toe uitgedaag om by die tent van samekoms reukwerk voor God te brand om te sien of Hy hulle aanspraak goedkeur. Na God hulle afgekeur het, het Hy hulle met vuur uit die hemel verteer.
Daarna het Moses die tweede groep laat roep. Hulle het egter geweier om te kom en hom daarvan beskuldig dat hy hulle uit ʼn land van melk en heuning laat trek het net om baas oor hulle te speel. Moses was baie kwaad vir hulle omdat Miriam en Aäron hom nie eens sulke woorde toegesnou het nie. Toe Moses self na die tente van Datan en Abiram is, wou hulle hom aanrand waarna die grond onder hulle oopgegaan en hulle ingesluk het!
Interessant genoeg, is die seuns van Korag se lewens gespaar (Num.26:11). Die Koragiete sou later as drumpelwagters in die huis van die Here optree (1 Kron.9:19). Dawid het hulle ook vir sangleiding gebruik (1 Kron.6:31). Die opstand was egter nie verby nie. God het ʼn plaag gestuur wat 14,700 van hulle laat omkom het. Eers nadat Aäron met ʼn vuurpan vol reukwerk vir die volk versoening gedoen het, het die plaag opgehou. Daarna het die volk slegs uit vrees vir straf hul opstandigheid jeens Moses laat vaar.
2. Aäron se staf
Daarna het God iets wonderliks laat plaasvind wat die priesterskap van Aäron bo alle twyfel bevestig het. Hy wou Israel wys dat die priesterskap nie ʼn dooie handeling was nie, maar eerder ʼn lewendige opdrag. Elke stam moes ʼn staf uit ʼn boomtak sny en dit in die tent van samekoms neersit. Die staf van die stam wat God uitverkies het, sou in een nag bloei. Elke stam het sy naam op die staf geskryf. Net die stam van Levi moes die naam van Aäron op hulle staf hê. Die volgende dag het die staf van Aäron gebloei en selfs amandels gedra. Levi was die onbetwisbare uitverkore stam.
Eeue later sou nog ‘n Priester deur God uitverkies word wat ook die argwaan van Israel op Hom sou haal. Hy is selfs doodgemaak. Maar uit die droë hout van ʼn kruis op Golgota het die lewe geblom en is versoening van sondes verkry!
3. Die twis by Meriba
Tydens die woestyntog het soveel Israeliete omgekom, dat ʼn nuwe geslag op die been gekom het. Israel was egter ʼn onvergenoegde volk en het by geleentheid weer met Moses en Aäron oor water getwis. Toe hulle God in die tent van samekoms gaan raadpleeg het, het sy Heerlikheid aan hulle verskyn waarna hulle bemoedig is. God wou Israel menigmaal vernietig, was dit nie vir Moses se middelaarsoptrede nie. Israel se opstandigheid het egter hoë eise aan Moses gestel en hom dikwels baie kwaad laat word.
Toe die volk hom by Meriba weer kwaad gemaak het, het God hom aangesê om hulle by ʼn sekere rots byeen te roep en met die rots te praat waarna water daaruit sou vloei. Moses het egter nie met die rots gepraat nie, maar dit twee maal woedend met sy staf geslaan. God het Moses daarvoor gestraf. Nie hy of Aäron sou die beloofde land ingaan nie.
Met hierdie optree het Moses die heiligheid van God aangetas deur nie in die geloof nie, maar in woede op te tree. Moses en Aäron was net soos die res van die volk! Hierdie gebeure gee ons dus insig in die heiligheid van God. Daar het toe wel water uit die rots gevloei en die volk was tevrede. Maar nie God nie. Hy wou Israel nie net water gee nie, maar ook aan hulle sy Heiligheid toon. Moses se humeur het egter alles belemmer.
Vervolg...