Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u al ooit 'n sielsongelukkige 'kunstenaar' gesien? Nie sommer nie! Iemand wat iets skep, enige iets, selfs net 'n pragtige bord kos, is nie 'n ongelukkige mens nie. Skeppende mense is gelukkige mense want om dinge te skep gee jou visie, rigting en selfrespek. Hoe besiger jy is om kreatief te wees, hoe gelukkiger sal jy wees.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (31)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 2
SAMUEL
1 Sam 1; 2:1-10;7:2-14
1. Samuel word gebore
Samuel se naam dui daarop dat hy van God afgebid is. Sy ouers was Hanna en Elkana - Efratiete soos Dawid se vader (1 Sam.17:12). Hulle het in Rama gewoon waar Elkana nog ʼn vrou gehad het met die naam van Pennina. Hanna was egter kinderloos en het God om ʼn kind gebid met die belofte dat as dit ʼn seun was, sy hom aan die Here sou teruggee.
In haar gebed hoor ons vir die eerste keer die aanspreekvorm Here van die leërskare. Dit kom in latere Bybelboeke dikwels voor. Daar is vier moontlike betekenisse - krygers van God (Jos.5:14), sterre, engele of God die Almagtige. Laasgenoemde is die heelwaarskynlikste.
Hanna het ʼn seun gebaar wat ʼn soort van Nasireër sou wees. Daar is nogal opvallend baie ooreenkomste tussen Samuel en Simson se geboorte. Hanna het ook lank na ʼn kind uitgesien. Samuel se haarlengte het egter geen rol in sy optrede gespeel nie. Sy moeder het haar gelofte in die heiligdom te Silo afgelê. Die tent van samekoms was deur ʼn klipmuur omring wat dit die voorkoms van ʼn gebou gegee het.
2. Die lofsang van Hanna
Toe Samuel gebore is, het Hanna God met ʼn uitsonderlike lofsang gedank. Baie eeue later sou nog ʼn begenadigde moeder iets soortgelyks doen (Luk.1:46-49). Na sy spening het Hanna haar seun na Silo gebring en aan Eli se sorg toevertrou om hom vir diens aan God op te lei. Sy het Samuel net een maal per jaar besoek en dan ʼn manteltjie vir hom saamgebring as sy aan God gaan offer het.
Die ooreenkoms tussen die twee lofgesange is merkwaardig. Vergelyk gerus 1 Sam.2:8 met Luk.1:48 en 1 Sam.2:4,5 met Luk.1:51,52. In hierdie lofsang skemer Hanna se triomf oor Pennina duidelik deur wie se tergery sy ʼn sataniese karakter aangeneem het. Maria was so ʼn iets gespaar. Sy het heelwaarskynlik van Hanna se lofsang kennis gedra. Hanna moes sterk geloofsoortuiginge gehad het om haar dankbaarheid in sulke verhewe taal te kon uitdruk.
3. Die eerste Godsopenbaring
Samuel het as’t ware in afsondering grootgeword. Dit is net eenmaal per jaar tydens die besoek van sy ouers onderbreek. Hierdie afsondering het die grondslag vir sy onlosmaaklike trou aan die Here gevorm. Terwyl die seuns van Eli deugniete was, het Samuel soos ʼn toring van God se genade bo hulle uitgetroon. Hy was vir groot dinge bestem!
Toe God Hom die eerste keer aan Samuel openbaar het, het die seuntjie dit nie verstaan nie. Hy het egter God se stem leer ken. Die eerste openbaring het ʼn tragiese tyding bevat – God se oordeel oor die huis van Eli was naby! Samuel wou eers niks sê nie, totdat Eli hom daartoe gedwing het.
4. Samuel in Mispa
Samuel word nie in die verhaal oor die voltrekking van God se oordeel oor die huis van Eli genoem nie. Hy kom eers 20 jaar later weer ter sprake. Intussen het die Filistyne Israel onderwerp. Na 20 jaar van onderdrukking het Israel hulle lot by God gaan bekla en na versoening met Hom verlang. Daarom het hulle na Samuel gekom om vir hulle versoening met God te bewerk. Hy was toe alreeds ʼn geëerde profeet in Israel.
Samuel wou egter ʼn bewys van hul berou hê en geëis dat hulle eers die Baäls en Astartes moes verwyder alvorens versoening kon plaasvind. Nadat hulle dit gedoen het, het hy hulle vir die versoening by Mispa byeen laat kom. Daar het Israel water voor God uitgegiet; ʼn sinnebeeldige handeling waarmee hulle uitdrukking aan hulle gevoelens van berou getoon het (Jos.7:5; Ps.22:15; Klaagl.2:19). Daarna het hulle ook vrywillig gevas. Die wetlik voorgeskrewe vas was net een maal per jaar tydens die Groot Versoendag. Samuel het ook met die volk oor God se insettinge en verordeninge gepraat en voorskrifte vir geestelike herstel gegee.
Toe die Filistyne hiervan te hore kom, het hulle teen Israel opgetrek. Israel het Samuel versoek om die Here namens hulle te raadpleeg en verlossing uit die hand van die onderdrukkers by Hom af te pleit. Daarna het Samuel ʼn lam as brandoffer aan God geoffer. God het dit aangeneem en die vyand met ʼn vreesaanjaende geluid getref wat hulle paniekbevange uitmekaar laat spat het (Jos.10:11; Rigt.5:20). Toe is hulle verslaan waarna Samuel ʼn groot klip geneem en dit as gedenkteken naby Mispa opgerig het.
Israel was vir ʼn tyd lank van die vyand verlos. Alhoewel die vyandskap voortbestaan het, het God verhoed dat die Filistyne, vir solank as wat Samuel geleef het, weer teen Israel oorlog voer. Die verdere geskiedenis van Samuel is vervleg met die instelling van die koningskap in Israel.
Samuel was ʼn besondere mens - ʼn Godsman by uitnemendheid. Hy was die laaste van die rigters (Hand.13:20) en eerste van die profete (Hand.3:24). Hy was ook 'n voorbidder by uitnemendheid (Ps.99:6; Jer.15:1). Daarom neem hy ʼn waardige plek in die wolk van getuienis in (Hebr.11:32; 12:1).
Vervolg...