Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is besorg oor die dinge in jou hart want ʼn beter wêreld, land, gemeenskap en gesin begin op geen ander plek as in jou hart nie. As ons met rein harte begin bid, sal ons verbaas staan oor wat God met Suid-Afrika gaan doen.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (36)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 7
DIE BEGIN VAN DAWID
2 Sam 2; 3:6-39; 4; 5:1-9
1. Dawid word koning
Saul se dood was ʼn keerpunt in Dawid se lewe. Wat moes hy doen? Nadat God hom deur Abjatar geantwoord het, is hy na Hebron. Dit was ʼn baie ou stad waar Abraham by geleentheid vertoef het. Josua het Hebron tydens die intog in Kanaän verower en aan Kaleb gegee. Dawid het hom hier onder stamgenote bevind met wie hy altyd goed oor die weg gekom het. Hulle het hom as koning oor die huis van Juda gesalf. Die nuus dat hy jare tevore deur Samuel tot koning gesalf is, het nie geheim gebly nie. ʼn Paar mense, insluitende Abigail, het daarvan geweet (1 Sam.25:30).
Alhoewel Dawid voorlopig net koning van Juda was, wou hy graag die res van die volk onder hom verenig. Daarom het hy voelers na Jabes uitgesteek. Hulle was egter baie versigtig vir hom. Was hy nie dalk ongelukkig met hulle hantering van die lyke van Saul en sy seuns nie? Dawid het hulle egter gerus gestel en selfs vir hulle dapperheid geloof. Die res van Israel het hulle egter onder Abner, die leërowerste van Saul, teen Dawid en sy onderdane verset.
Abner was nie op Gilboa nie omdat hy heelwaarskynlik die koningsburg in Gibea opgepas het. Ná die Filistynse oorwinning oor Saul was dit te gevaarlik om in Gibea te woon. Daarom het Abner die hoofstad na Mahanaim in die Oos-Jordaanland verskuif en Isboset, ʼn seun van Saul, koning gemaak. Isboset was egter ʼn swakkeling. Gevolglik het Abner geen ander keuse gehad nie as om baie van die staatkundige leiding op homself te neem. Sy keuse van Isboset was ʼn voortsetting van die anti-teokratiese koningskap van Saul en gevolglik van meet af aan tot mislukking gedoem.
2. Burgeroorlog
Israel was basies in twee ryke verdeel. Dit sou slegs vir ʼn paar jaar tydens die bewind van Dawid en Salomo ʼn eenheid vorm. Ná Salomo se dood het hierdie twee ryke finaal geskei om eers ná die Babiloniese ballingskap weer een te word. Die eenheid van Juda en Israel was egter van meet af aan wankelrig. Gedurende hierdie tyd het die Filistyne nie met Israel skoor gesoek nie. Hulle het enersyds baie agting vir Dawid gehad en andersyds kon hulle ook nie na die Oos-Jordaan streek van Isboset deurdring nie. Dit was te ver. Die Filistyne het egter altyd gehoop dat die twee ryke mekaar die stryd sou aansê en mekaar vernietig.
Die verhouding tussen die twee ryke het spoedig so versleg, dat oorlog onafwendbaar was. Abner en Joab het by Gibeon gebots. Joab was ʼn seun van Dawid se suster Seruja en baie lojaal teenoor sy oom. Hy was ʼn onverskrokke kryger. In die voorgeveg tussen 12 Benjaminiete en 12 Judeërs het al 24 gesterf, waarna die twee broedervolke mekaar gegryp het. Nadat Abner verslaan is en gevlug het, het Asahel, Joab se broer, hom agternagesit om hom om die lewe te bring. Hy wou daardeur vir homself naam maak. Nadat Abner hom twee maal gewaarsku het om sy voorneme te staak, moes hy Asahel noodgedwonge doodmaak omdat hy nie wou luister nie.
3. Isboset en Abner
Die oorlog tussen die huis van Saul en dié van Dawid het betreklik lank geduur. Dawid se veelvuldige oorwinnings het spanning tussen Abner en Isboset gebring. Toe Abner boonop met Rispa, een van Saul se byvroue, omgang gehad het, was die gort behoorlik gaar! Abner wou daarmee ʼn voet in die deur van die huis van Saul probeer kry. Na harde woorde tussen hom en Isboset, het Abner hom aan die huis van Saul onttrek en by dié van Dawid gevoeg.
Abner wou help om die hele Israel onder Dawid te verenig en het baie steun gevind. Dawid het egter ʼn diplomatieke eis gestel – hy wou sy eerste vrou Migal terughê! Dit het vir hom nie om ʼn herstel van onreg gegaan nie, maar eerder om sy aanspraak (as skoonseun van Saul) op die troon van ʼn verenigde Israel te versterk.
Toe Isboset besef dat die skrif aan die muur was, het hy Migal aan Dawid teruggegee. Sy onderdane was teleurgesteld in hom en het dit as ʼn teken van swakheid beskou. Kort hierna het Joab sy broer Asahel se dood gewreek deur Abner te vermoor. Gelukkig kon Dawid Israel oortuig dat hy nie agter Abner se dood gesit het nie. Dit was suiwer bloedwraak. Dawid het selfs agting vir Abner gehad en ʼn klaaglied tydens sy begrafnis in Hebron aangehef.
4. Isboset word vermoor
Abner se dood het Israel diep geskok, veral vir Isboset wat swaar op Abner vir raad en bystand geleun het. Die volk het niks van Isboset gehou nie en derhalwe niks goeds van hom verwag nie. Daarbenewens het hy ook geen troonopvolger gehad nie. Jonatan se seun Mefiboset was kreupel en sou nie as koning deug nie. Gevolglik was alle oë op Dawid gerig. Daarna is Isboset deur twee van sy eie mense vermoor. In plaas van beloning het Dawid hulle dadelik laat teregstel. God het ander se misdade gebruik om vir Dawid die weg na die troon te open. Dawid moes maar net geduldig op Hom wag.
5. Dawid word koning van Israel
Ná die dood van Isboset was Israel sonder koning. Slegs Juda het ʼn koning gehad. Daarna het al die stamme na Dawid gegaan om hom as koning oor al die hele Israel te kroon. Dit het eenheid onder die twee vervreemde broedervolke gebring. Dawid was immers ʼn koning uit die geledere van broers (Deut.17:15) en was van meet af aan gewild. Daarna het Dawid ʼn heilige verbond met die oudstes gesluit en kon hulle hom amptelik kroon.
Uit 2 Sam.12:8 blyk dit asof Israel en Juda desondanks die versoening tog hul onderskeie identiteite behou het. Hulle was twee afsonderlike groepe onder Dawid verenig - ʼn eenheid te midde van ʼn verskeidenheid. Hierdie eenheid het stand gehou totdat Israel hom jare daarna weer van die huis van Dawid losgemaak het (1 Kon.12:16).
6. Jerusalem
Jerusalem was tussen Israel en Juda geleë. Dit was ʼn baie ou stad met ʼn lang geskiedenis. Die eerste keer dat die stad vermeld word, was tydens die ontmoeting van Abraham en Melgisedek, die priester-koning van Salem. Moria, waar Abraham vir Isak wou offer, was ook digby Jerusalem. Josua het tydens die inname van Kanaän die koning van Jerusalem en sy bondgenote verslaan en dit by Benjamin ingedeel sonder om die Jebusiete daaruit te verdryf (Jos.15:63).
Dawid het die Jebusiete nie in Jerusalem geduld nie en hulle by die bergvesting Sion aangeval. Dis die eerste keer dat Sion in die Bybel genoem word. Sion was op die suidoostelike heuwel van die stadsgebied geleë en weens die omringende kranse moeilik om te verower. Wie Sion beheer het, het Jerusalem beheer. Die Jebusiete het nie gedink dat Dawid die stad sou inneem nie en het selfs met hom gespot.
Dawid het ʼn waterkanaal wat van ʼn bron buite die stad na Sion gebou is as aanvalsplek gebruik. Hiskia het hierdie kanaal later met ʼn tonnel vervang. Dawid se vegters het deur die waterkanaal geswem en die stad ingeneem. Daarna het Dawid self in Sion gaan woon en die stad na hom vernoem - Stad van Dawid. Jerusalem het die nuwe hoofstad geword. Dit was ʼn verstandige keuse omdat Jerusalem sentraal en veilig was. Dit was nòg Israelities nòg Judees sodat daar geen jaloesie kon wees nie.
God het Jerusalem vir Hom as aardse setel gekies (1 Kon.11:36; Ps.76:3; Ps.78:68). Jerusalem was dus ook Godstad Hieruit blyk ook die besondere verhouding en noue band tussen Hom en Dawid. God sou Juda dikwels ter wille van Dawid genadig wees (1 Kon.15:4; 2 Kon.8:19).
Vervolg...