Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Tyd is die natuur se manier om te voorkom dat alles gelyktydig gebeur. Moet dan nie stukkies tyd vermors nie, benut elke oomblik, anders gebeur alles later gelyktydig.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (42)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 2
SALOMO
1 Kon 2:12-47; 3:4-15; 4:1-7, 20-34
1. Die koningskap van Salomo word bevestig
God het Salomo as die derde koning van Israel bestem. Sy troonsbestyging het egter nie sonder voorval plaasgevind nie. Daar was ʼn paleisopstand. Salomo het die opstandelinge egter genade betoon en hulle nie vervolg nie. Sulke genade was egter baie gevaarlik omdat dit so maklik weer tot opstand kon lei. Salomo moes op sy hoede wees!
Toe Adonia vir Abisag as vrou gevra het, was Salomo agterdogtig. Was dit dalk ʼn poging om ʼn greep op die troon te kry? Wie die vrou van ʼn koning besit het, kon op die kroon aanspraak maak (2 Sam.3:6,7;12:8). Salomo wou egter geen kans waag nie en het Adonia laat teregstel. Dieselfde lot het ook Joab wat Abner en Amasa koelbloedig vermoor het, getref. Hy is deur Benaja by die altaar tereggestel. Die altaar het slegs asiel aan mense gebied wat iemand per ongeluk doodgemaak het (strafbare manslag); nie aan moordenaars as sulks nie (Ex.21:14).
Abjatar was ook ʼn medepligtige wat hom teen Dawid aan die kant van Adonia geskaar het. Salomo het hom nie laat ombring nie, maar in sy tuisdorp Anatot onder huisarres geplaas. Daarna het hy Simeï, die een wat Dawid gevloek het, tot Jerusalem laat inperk. Hy is gedood toe hy die inperkingsvoorwaardes nie nagekom het nie. Salomo se troon was nou veilig.
2. God verskyn aan Salomo by Gibeon
Kort hierna het Salomo met ʼn gevolg in Gibeon gaan offer. Die tent van samekoms met die koper brandofferaltaar was daar. Salomo het ʼn duisend brandoffers gebring om die guns van God vir sy koningskap te soek. Daarna het God in ʼn droom aan hom verskyn en gevra wat hy van Hom verlang het. Gedagtig aan sy jeug en sy moeilike taak, het hy God om wysheid gevra en verkry. Daarna is hy na Jerusalem waar hy uit dankbaarheid aan God geoffer het. Die maaltyd wat daarop gevolg het, was ʼn luisterryke fees.
3. Salomo se mag en heerlikheid
Salomo het van die Eufraat tot teenaan die land van die Filistyne en Egipte regeer. Alle onderhoriges het belasting aan hom betaal en hom al die dae van sy lewe gedien (2 Kron.9:26). Hy het in dus in vrede regeer en is slegs teen die einde van sy lewe deur die koning van Damaskus asook Jerobeam teengestaan. Dit was niks in vergelyking met Dawid se onrustige koningskap nie!
Salomo het goeie administrasie gehad. Hy het twee nuwe ampte ingestel tewel hofmaarskalk (paleisadministrateur) en hoof oor die bestuurders (bestuursadministrateur). Sy 12 bestuurders het elkeen ʼn distrik gehad wat vir elk ʼn maand per jaar vir die onderhoud van die koning en sy hele hofhouding verantwoordelik was.
Salomo se harem het uit 700 vroue en 300 byvroue bestaan; heelwaarskynlik nie almal tegelyk nie, maar oor die jare heen. ʼn Groot harem het van ʼn koning se mag en grootheid getuig. Salomo het egter ʼn sagte plekkie vir ʼn sekere Egiptiese prinses gehad. Sy was die dogter van een van die laaste faraos van die 21ste vorstehuis. Hy het selfs vir haar ʼn afsonderlike huis laat bou.
Salomo het baie spandabelrig geleef en ʼn luukse huis laat bou. Dis die huis van die Libanonbos genoem. Dit het uit vier rye seders bestaan wat die indruk van ʼn bos geskep het. Dit het drie verdiepings elk met 15 kamers gehad. Die bovertrekke is heelwaarskynlik gebruik om wapentuig in te berg (Jes.22:8). Die troonsaal was op die grondvlak.
Salomo het op sy vader se militêre organisasie voortgebou en besef hoe waardevol perde in oorlogvoering is. Gevolglik het hy 1 400 waens en 12 000 perderuiters gehad en self in perde handel gedryf. Oorblyfsels van sy perdestalle is by Megiddo te sien. Ná die skeuring van die ryk het hierdie stalle die besitting van Israel se konings gebly.
Salomo het die vestings Hasor, Megiddo, Geser, Millo laat bou en daarna Jerusalem versterk deur van Kanaänitiese en Israelitiese dwangarbeid gebruik te maak. Salomo het ook ʼn handelsvloot met ʼn hawe by Eseon-Geber aan die Skelfsee gehad. Die vaartuie is Tarsus skepe genoem omdat dit aanvanklik ʼn vaste roete na Tarsus gevolg het. Hierdie Tarsus kon òf in Italië òf in Spanje gewees het. Dit was dieselfde plek waarheen Jona 200 jaar later gevlug het. Alle groot skepe is destyds Tarsuskepe genoem.
Die doel van Salomo se handelsvloot was om onder andere goud in die land Ofir te gaan haal. Waar Ofir presies was, is nie seker nie. Dit was heelwaarskynlik iewers in Afrika. Dit kon selfs een of ander Arabiese land gewees het. Fenisiërs het Salomo hiermee gehelp (2 Kron.8:17,18).
Salomo se hoofbron van inkomste was handel en belasting, veral dié van skatpligtige konings. Gevolglik het Salomo in weelde geleef en luukshede soos goue skilde en ʼn troon van ivoor met beelde van leeus op die trappe laat maak. Onder sy ingevoerde artikels was daar selfs ape en poue. Uitheemse diere het destyds tot die waardigheid van ʼn Oosterse koning bygedra.
Uit opgrawings blyk dat Salomo se mense ook die kuns van kopersmeltery bemeester het. Yster-en kopererts is in Gilead en Araba gemyn (Deut.8:9). Araba was die streek tussen die Skelf- en Dooiesee en Edomitiese gebied - Esau se nageslag.
Vervolg...