Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Eerbare volksleiers maak die regte keuses en loop nie onnodige risiko’s nie. Hulle pluk die rose en los die dorings. En waar daar geen pad is nie, wyk so ‘n persoon selfs van die gebaande weë af om ‘n nuwe weg vir sy volk te baan. Hy laat die sonlig van God se beloftes altyd oor al sy probleme skyn sonder om eerbare drome te laat vaar.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (69)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
die boek JEREMIA
LES 1
PROFETE TYDENS DIE LAASTE JARE VAN DIE RYK VAN JUDA (1)
JEREMIA 1
- 1. Die vernaamste profeet
Jeremia was die vernaamste profeet in die laaste jare van Juda. In sy boek is daar geskiedkundige feite wat nie in Konings of Kronieke vermeld word nie. Sy pa, Hilkia, was ʼn priester in Anatot waar hy ook grond besit het. Jeremia is in die dae van Josia tot profeet geroep en was ʼn oujongkêrel (Jer. 16:2). Hy was so besorg oor die afvalligheid van sy volk dat hy by geleentheid soos ʼn Job van ouds sy geboortedag verwens het (Jer.20:14-18). Hy wou egter nie aan God ongehoorsaam wees nie (Jer.20:9).
In die dae van Josia het Jeremia teen die afgodery van sy tyd gepreek. Dit was voor die groot hervorming. Daar het egter nog baie sondes oorgebly soos egbreuk, bedrog, afpersing en skynheiligheid. Toe Jojakim koning word, het hy die hervorming van sy voorganger ongedaan gemaak en die afgodery weer teruggebring. Dit het Jeremia moedeloos gemaak (Jer.25:3). Toe het God hom beveel om sy prediking op ʼn boekrol te laat skryf. Toe dit aan Jojakim voorgelees is, het hy dit verbrand. Net daarna het die koning van Babel teen Juda opgetrek.
2. Die Regabiete
Die Regabiete was onder die vlugtelinge wat in Jerusalem skuiling teen die Babiloniërs gaan soek het. Hulle was gelowiges (2 Kon.10:15). Hul voorvader Jonadab het sy nageslag in tente laat woon en beveel om hulle van drank te weerhou. Hy het dit uit reaksie teen die kultuurlewe van destyds gedoen. Jonadab het dit as ʼn bedreiging vir hulle geloofslewe geag. Toe Jeremia hulle op bevel van God wyn aangebied het, het hulle geweier om dit te drink (Jer. 35:1,2,6). Daarom het God kwaad vir hulle geword. Hulle het hul voorvader se woord bo sy opdrag gehoorsaam. Let op Petrus se soortgelyke ervaring in Joppe (Hand 11).
- 3. Jeremia se lewe word bedreig
Toe Jeremia met sy oordeelsaankondiging voortgaan, het die volk in opstand teen hom gekom. Hulle wou hom selfs doodmaak! Jeremia was hewig ontsteld en het God gevra om hulle te straf (Jer.18:17-23). Pashur, ‘n hooggeplaaste tempeldienaar, het Jeremia laat vang en hom laat slaan. Daarna het hy hom in die blok laat sit. Dit was ‘n pynlike ervaring vir iemand wat pas lyfstraf toegedien is. Toe Jeremia die volgende dag vrygelaat is, het hy ‘n oordeel oor Pashur aangekondig.
- 4. Jeremia bly nie stil nie
Jeremia het nie stilgebly nie, maar aanhou waarsku. Die mense het niks daarvan gehou nie en al hoe vyandiger teen hom opgetree. Jeremia was in ʼn hewige stryd met valse profete gewikkel. Hulle het ʼn verlossing uit die Babiloniese mag voorspel, iets wat veral deur die besoek van buitelandse gesante aangevuur is (Jer.27,28). Hulle wou gesamentlik teen Babilon opstaan.
Omdat dit nie God se wil was nie, het Jeremia stroppe en jukke laat maak en dit in die openbaar om sy nek gesit; sinnebeeld vir die ballingskap wat Juda sou tref. Een van die valse profete, Hananja, het die juk afgeneem, voor die oë van die volk stukkend gebreek en verkondig dat God die vyandelike juk oor Juda net so sou verbreek. Dit was lynreg teen Jeremia se profesie!
God het ʼn boodskap vir die valse profeet gehad – Jeremia moes ysterjukke laat maak as teken van die harde onderwerping wat Juda aan die hand van Nebukadneser sou smaak. Daarna het Jeremia aan Hananja gesê dat hy dieselfde jaar sou sterf. Dit het dan ook gebeur.
Valse profete het onder die ballinge valse hoop geskep. Dit het Jeremia genoop om ʼn brief aan die ballinge te skryf om nie na die valse profete te luister nie. Juda sou vir 70 jaar in ballingskap verkeer. Dit was die straf van God. Daarom moes hulle maar vir hulle in Babel huise bou en tuine aanlê.
Daarna is Jeremia weer aangehou toe die poortwagters gemeen het dat hy na die Babiloniërs wou oorloop. Terwyl Jeremia in die kelder van die huis van Jonatan, die skrywer, aangehou is, het Sedekia hom in die geheim laat haal en om raad gevra. Die oordeel van God was onafwendbaar.
5. In die voorhof
Daarna is Jeremia in die voorhof van die paleis aangehou waar hy ʼn beperkte vryheid van beweging geniet het (Jer.37:21). Hy het sy volksgenote aangeraai om aan Nebukadneser oor te gee ten einde die lewe te behou. Wie dit nie wou doen nie, sou sterf (Jer. 38:2,3). Die volksleiers het geglo dat Jeremia die volk se laaste bietjie moed gebreek het en sy dood geëis. Sedekia het hulle hul sin gegee en Jeremia in ʼn leë waterput laat gooi om te sterf. Nadat ʼn Kusiet by Sedekia vir sy lewe kom pleit het, is hy weer uitgehaal en na die voorhof verskuif.
Toe Sedekia hom weer om raad vra, het Jeremia dieselfde antwoord gehad – Babilon sou Juda in ballingskap wegvoer. Indien Sedekia vrywillig na Nebukadneser uitgaan, sou hy leef en Jerusalem nie vernietig word nie. Sedekia was egter te bang vir sy krygsowerstes en het gevolglik daarteen besluit. Daarna het die Babiloniërs die stad binnegeval en Jeremia vrygelaat sonder om hom leed aan te doen. Blykbaar was hulle spioenasiediens so goed dat hulle alles van die profeet geweet het. Daarna is Jeremia Egipte toe waar hy tot sy dood onder die Jode wat daar gewoon het, geprofeteer het.