Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet ons hoegenaamd wat dit in praktyk beteken om waarlik en volkome op God te vertrou? Is dit nie dalk waarom dit so haglik met ons volk in hierdie land gaan nie – omdat ons nie in vertroue gehoorsaam aan Hom is nie. Luister wat sê die Psalmdigter in Ps 84: "Hy sal die goeie nie onthou (weghou) aan die wat in opregtheid wandel nie. HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!"
WAAK ÉN BID
Hannes Ollewagen
Lees reeks by Hannes Ollewagen
Matt. 26:36-46
Vers 37: “En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedèüs saam en begin bedroef en benoud word. “ Jesus sonder drie van sy “beste” dissipels van die ander om saam met Hom verder te gaan en te bid. Hy verduidelik aan hulle hoe bedroef en benoud Hy is en Hy vra hulle dan ook om saam met Hom te waak. Tydens Jesus se lewe op aarde, as ‘n mens, is hierdie een van die kere in die Woord dat dit onomwonde gestel word dat Hy in sy binneste pleit vir bystand en ondersteuning van sy dissipels – Hy was doodsbenoud.
Hy vra dan ook reguit hulle ondersteuning om saam met Hom te waak, net om terug te keer en hulle aan die slaap te vind – nie in staat om EEN uur saam met Hom te waak nie. . . Jesus kom in die gedaante van ‘n mens aarde toe, wy sy hele lewe aan sy volgelinge (dissipels) en dan is een uur se toewyding/ondersteuning van hul kant af te veel gevra.
Onwillekeurig dink ons: as ek tog maar net daar sou wees sou ek nie gehuiwer het om vir ‘n uur saam met Jesus te waak nie. Dit sou geensins vir my te veel inspanning gewees het nie. Inteendeel, ek sou die hele aand saam met Hom gewaak het. . .Sou jy? Is dit nie maar dieselfde in vandag se moderne samelewing waar 10 of 15 minute per dag TE VEEL gevra is om af te staan aan stiltetyd en/of huisgodsdiens nie? Is dieselfde teleurstelling nie by God aanwesig as Hy ons dophou vandat ons vanoggend ons oë oopmaak tot ons vanaand ons koppe neerlê nie, hoe ons tyd het vir allerhande dinge behalwe vir Hom nie? Tyd om voor die TV te sit, tyd om hard te werk, tyd om met my vriende te kuier, tyd om die seëninge wat ek uit God se Hand (vir wie ek nie tyd het nie) te geniet, selfs tyd om net leeg te lê, ja tyd om talle skietgebedjies op te stuur na Bo om God gedurig vir hulp te vra, maar nie tyd om myself aan God te wy nie?
God maan ons om te WAAK én BID - die gees is gewillig, maar die vlees is swak. Die voornemens is dalk goed, maar as dit by uitvoering kom, faal ons die toets keer-op-keer. Bid dat julle nie in die versoeking kom nie – m.a.w. WAAK daarteen – moenie wag totdat dit in jou midde is voordat jy dit wil aanval nie, nee keer dat dit nie in jou lewe INDRING nie en sodoende die tyd wat jy aan God moet afstaan in beslag neem nie. . . Dalk is daar reeds sulke versoekings aanwesig in ons lewens? Dinge wat soveel tyd in beslag neem, dat ek nie meer tyd vir God het nie?Ons sien in verse 43 en 44 dat Jesus die eerste maal vir sy dissipels mooi vra om saam met Hom te waak en te bid, die tweede maal kom dieselfde versoek in die vorm van ‘n WAARSKUWING en die derde maal voel Hy dat Hy genoeg gepraat het – hoeveel maal moet Hy dan vra? Dan laat Hy hulle maar met rus, want hul is duidelik nie van plan om ag te slaan op sy stem nie versoek nie.
Wanneer ons onsself in versoekings/beproewings bevind, wil ons skielik vir God vra waarom Hy so iets sou toelaat? Is dit nie verwaand van ons nie? Ons gee nie ag op God se waarskuwings nie en as die aanslae teen ons begin woed (waarteen ons nie gewaak het soos gewaarsku nie) dan kan ons nie verstaan waarom dit gebeur nie.
Laat ons vasstel waar ons in ons lewens met God staan, solank ons nog daardie geleentheid gegun word. Is ek:
1. Daar waar ek gevra word om saam met Hom te waak?
2. Daar waar ek gewaarsku word om te waak en te bid teen die versoeking?
3. Of staan ek reeds by die punt waar God besluit om my met rus te laat, my met teleurstelling in sy oë aan te kyk en van my af weg te draai?
Onthou, ons kan onsself om die bos probeer lei, maar God laat Hom nie bedrieg nie. Hy ken ons harte. Laat ons ons saak met Hom regmaak en as dit reeds is, laat ons dan vrymoediglik saam met Hom waak en bid om ons lewens in sy oë welgevallig te hou en saam met Hom te stry teen die aanslae van die satan.