Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nie wat in die mond ingaan maak die mens onrein nie, maar wat uit die mond uitgaan, dít maak die mens onrein – Matt 15:11.
DEUR HOM GEPLANT TOT SY VERHEERLIKING
Hannes Ollewagen
Jes. 60:1-22
“En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit – as lote deur My geplant, ’n werk van my hande, tot my verheerliking.” (:21).
Hierdie kosbare gedeelte waarin ons lees van die herstel van Jerusalem – die plek wat God vir Hom as woonplek verkies het. En hierdie woning van Hom wat verwoes is – nie omdat God by onvermoë was om dit te beskerm nie, maar eerder omdat Hy die verwoesting daarvan toegelaat het a.g.v. die goddeloosheid van die inwoners daarvan.
Wanneer God dan herstel bring, stel Hy die rede hiervoor ook duidelik – dit is tot sy verheerliking. Ons sien die beklemtoning daarvan ook in Jes. 61:3. “...om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ’n gewaad van lof vir ’n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ’n planting vandie HERE, tot sy verheerliking.”
Hierdie gedeeltes behoort ons ook te herinner aan die doel van ons eie lewe, naamlik die verheerliking van God. Ons moet dalk vir ‘n oomblik die term “verheerliking” oordink. Dit is mos nou maklik om te sê dat ek God moet verheerlik, maar wat sou dit in praktyk beteken? Die verheerliking van God beteken dat ons Hom sal verhef, dat ons Hom bo ons sal stel en Hom as ons meerdere en verhewe bo ons sal beskou eerder as ons gelyke of onderdaan soos wat deesdae in menige teologiese kringe gebeur. En die verheffing van God beteken nie alleen ’n belydenis van die lippe dat ons glo dat Hy groot en almagtig en verhewe bo ons is nie. Dit beteken ook in praktyk dat ons ons besluite, wil en belang aan sy wil ondergeskik sal stel.
Ten einde Hom te verheerlik, moet ons vir Hom ’n werklike ontsag hê. Ons moet eerbied vir sy gebooie en insettinge hê en Hom gehoorsaam. Dit word vir ons uitdruklik so in die Woord geleer. “JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matt. 5:13-16). God se Naam word deur die gehoorsaamheid en goeie werke van sy kinders verheerlik. Luister ook na die woorde uit Joh. 15:8. “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” ’n Godvrugte lewe van gehoorsaamheid aan God is tot verheerliking van God.
’n Verdere bewys in hierdie verband is die Skrifgedeelte in Romeine 1. Hierin word duidelik gestel hoedat die mens in ’n lewe van sondigheid, ongebondenheid en ongehoorsaamheid aan God verval juis omdat die mens God nie bo homself verhef en verheerlik nie. “WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.” (Rom. 1:18-21). En is hierdie nie in die praktyk duidelik waar God selfs in hedendaagse kerke nie meer as die Hoogste Gesag verhef word en in gehoorsaamheid verheerlik word nie? Hy word aan die mens “gelykgestel” of self tot “onderdaan” gemaak asof Hy op ons bevele moet reageer! En daarom word sy wette verander om selfs gruwels soos homoseksualisme en dergelike dinge in baie hedendaagse kerke “aanvaarbaar” te maak. Die instansies wat hieraan meewerk kan nie meer in waarheid kerke genoem word nie aangesien hulle nie meer die ware Evangelie van bekering en redding verkondig nie en daarnaas ook nie meer tot verheerliking van God bestaan nie.
Mag ek en u opnuut ons lewens in oënskou neem en met hernude ywer onsself toespits om doelgerig te leef. En mag die primêre doel vir ons duidelik wees, naamlik om tot verheerliking van God te leef.
“Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Kor. 6:19&20).