Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kom ons kyk weer na hoe die mees besonge onderwerp in die wêreld regtig lyk: Die Liefde. Ware liefde is egter nie daardie romantiese gevoel wat een mens teenoor 'n ander koester en oormôre verdwyn soos in die miljoene sekulêre liedjies besing word nie; 1 Kor 13 vertel hoe ware liefde lyk: dit is vriendelik, opreg, geduldig, eerlik, regverdig, getrou en bestaan vir ewig. Dit is hierdie liefde wat ons moet nastreef tot ons eendag werklik volwasse is en nie meer soos 'n kind hieroor dink, redeneer en praat nie.
ONS VADER OF ONSE DAME?
Ds A.E. van den Berg
“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is....” (Mt.6:9)
In Parys (Frankryk) is daar ʼn indrukwekkende Middeleeuse katedraal wat meer as 900 jaar oud is en as ʼn Frans-Gotiese argitektoniese wonder beskou word. Dis in die 12 de eeu begin bou en na meer as ʼn eeu voltooi en met kunsskatte belaai. Alles daaraan is fabelagtig behalwe aan wie dit opgedra is – 'n oud-Babiloniese godin wat deur die Roomse Kerk (RK) met die Latynse naam Notre Dame (“Onse dame”) openlik aanbid en op verskeie maniere verheerlik word.
Tydens die eerste presidensiële inhuldiging van pres. Trump het 'n aantal kerkleiers by hierdie geleentheid gebid. ʼn Roomse kardinaal wat eerste aan die beurt was, het die land en president aan hierdie godin opgedra. Feitlik elke sin wat hy gebid het, was met die woorde “Onse dame” deurspek. Protestantse voorbidders het by dieselfde geleentheid Amerika aan “Onse Vader” opgedra. Niks onderskei Protestantisme van Roomse Katolisisme meer as tot wie gebid word nie. Protestante bid tot God “Ons Vader” en Roomse Katolieke tot “Onse Dame”.
Die Notre Dame katedraal word jaarliks deur nagenoeg 12 miljoen mense besoek. Op 19 April 2019 het die dak daarvan tydens herstelwerk vlam gevat en skade aan die gebou veroorsaak waarna miljoene Katolieke vir die behoud daarvan gebid waarna baie geld oor die wêreld heen vir die herstelwerk ingestroom het.
Die Notre Dame staan op 'n stuk onheilige grond. Voordat Katolisisme in Frankryk gevestig is, het ʼn tempel vir Jupiter op dieselfde stuk grond gestaan. In 1323 verwys die skrywer Jean de Jandun na die Notre Dame as: “die mees glorieryke kerk van die mees glorieryke maagd Maria, moeder van God wat verdien om soos die son tussen die sterre uit te staan” (Treatise on the Praises of Paris). Sulke lasterlike opmerkings skud ware gelowiges tot diep in hul siele!
Die vroeë Christenkerk het nooit ʼn probleem met Maria as aarde moeder van Jesus gehad nie totdat die RK haar as hemel-koningin begin aanbid het. Nêrens in die Bybel word Maria enigsins tot dieselfde vlak as Jesus verhef nie. Daarbenewens mag niemand 'n mens aanbid nie. “Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoet gegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ʼn mens” (Hand.10:25,26).
Nie eens ʼn engel mag aanbid word nie: “En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het. Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is ’n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God (Openb.22:8,9).
Maria was slegs geseënd omdat sy Jesus gebaar het; niks meer nie. Daarom het die vroeë kerk geen Maria-verering geken of enige vorm van verheerliking beoefen nie. Dit sou beslis afgodery gewees het!
Die Bybel weet van geen heilige moeder of koningin in die hemel nie; slegs die ou Babiloniese afgodery. Gevolglik is Roomse Katolisisme niks anders as ʼn herlewing van hierdie afgodsdiens nie en is selfs in tye van afvalligheid in Israel beoefen. “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin... om My te terg” (Jer.7:18). Hierdie tergery sou later in die vorm van 'n vals kerk weer opvlam en miljoene mense mislei.
Tydens die verheerliking van Jesus op die berg sê God: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het. Luister na Hom!” (Mt.17:5). Die RK luister eerder na wat oor Maria kwytgeraak word en minag die Skrif wat duidelik sê: “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun…” (Heb.1:1).
Om hierdie godin moeder van God te noem, is lasterlik. ʼn Moeder bestaan altyd voor haar kind en daar was niemand voor God nie! Die RK keer die Bybelse orde om deur die persoon wat die Heilige Gees klein wil sien (Maria) te verhoog en die Persoon wat Hy groot wil maak (Jesus) te verlaag. Daarom verwerp gelowiges hierdie uitdrukking met die diepste veragting!
Protestante sal nooit die RK se afgodiese toewyding aan hierdie oud-godin begryp nie. Daarvoor moet 'n mens gebreinspoel wees. Kerklui bid, soos die kardinaal tydens Trump se inhuldiging, onbeskaamd tot haar. Komponiste soos Schubert het selfs die Ave Maria (gebed aan Maria) gekomponeer; een van die mooiste klassieke melodië met die lasterlikste woorde denkbaar!
Met hul Maria-verering verplaas die RK die ou Babiloniese hemelgodin van die een afgodiese sisteem na ʼn volgende een – dieselfde godin net met ʼn ander naam. Die aanbidding van Semiramis het destyds groot byval gevind. Openb. 17:2 meld dat nasies “dronk geword het van die wyn van haar hoerery”. In die tyd van Jeremia is sommige van Juda so deur Babiloniese afgodery meegevoer, dat God hom geroep het om hulle baie ernstig te waarsku (Jer.44).
Afgodery was dan ook een van die redes waarom hulle in ballingskap weggevoer is. As God in die Wet sê dat Hy ʼn jaloerse God is, beteken dit dat Hy nie sy liefde met afgode deel nie; allermins nie met ʼn heidense godin soos wat die RK al eeue lank doen nie! En om te dink dat sekere hoofstroom Afrikaanse kerke gemene sake met haar het, gaan gelowiges se verstand te bowe!
Die RK het ʼn bedenklike voorgeskiedenis. Na die dood van Nebukadneser het Babilon se mag begin kwyn waarna koning Kores (Persië) dit in 539v.C. verower en wêreldheerser geword het. Daarna het die Babiloniese priesters na Pergamus gevlug om hul afgodery daar voort te sit. Die fondament van die tempel wat destyds daar vir Semiramis gebou is, is vandag nog te sien. Jesus skryf aan Pergamus: “Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is” (Openb.2:13).
Rome het aanvanklik geen skakeling met Pergamus gehad nie. Nadat dit egter by die Romeinse Ryk ingelyf is, het die keiser met die afgodpriesters se mag oor mense kennis gemaak waarna hul magte spoedig later aan hom oorgedra is. Hierdie skakeling tussen Rome en Babilon het later ʼn gruwel gebaar – Roomse Katolisisme.
Die RK was van meet af aan met afgodery deurspek en het met verloop van tyd ernstig toegeneem. ʼn Amerikaanse teoloog wat Katolisisme vir bykans 20 jaar nagevors het se bevinding was ontstellend. Slegs 18% van dit wat in die RK geleer word is Bybels verantwoordbaar. Die res was bedekte heidendom!
Dank God vir Protestantisme se eenvoud, hul liefde vir die Woord van God en hul stryd vir die waarheid. Protestante bid nie tot Onse Dame nie, maar wel tot onse Vader soos wat Jesus gelowiges geleer het om te bid!