Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toe die Boerevolk se godsdiens verval, het ’n lugleegte ontstaan wat deur die heidendom gevul is. Satan het in die tagtigerjare van die vorige eeu ’n hewige aanslag op die Christendom aan die suidpunt van Afrika geloods. As ons kerke vasgestaan het, het hierdie land nie geval nie. Maar hulle het nie!
KEUSE IS JOUNE
VERMANING TOT GEHOORSAAMHEID
Lees reeks by Hannes Ollewagen
Deut 8:1 – 20
Vers 1: “Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die Here aan julle vaders met ‘n eed beloof het.”
ÁL die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle onderhou. (Verwysing na Die Tien Gebooie). Dit word beklemtoon dat ons ÁL die gebooie sorgvuldig moet onderhou. Ons moet dus weet dat ons nie sekere gebooie mag uitsonder of probeer aanpas om in te pas by die manier wat ons graag wil lewe nie. Indien jy die Wet probeer wysig om by jou besluite, keuses en lewenstyl in te pas, eerder as om die rigtingaanwyser daarvan te wees, dan het die Wet vir jou totaal en al nutteloos geword. Dit is soos om ‘n geneesheer te raadpleeg wanneer jy siek is, maar jou voorwaarde aan hom is dit hy nie vir jou slegte nuus met betrekking tot jou gesondheid mag gee nie, want jy sal nie daarvan hou nie. Indien jy dus aan een of ander ernstige kwaal ly, kan hy jou nie help nie, want hy mag jou nie te kenne gee wat fout met jou is nie.
Hy vertel dat jy blakend gesond is en jy ontvang dus ook nie die nodige behandeling nie (wat jou bes moontlik volkome sou genees) - jy verkies om eerder in jou gehoor gestreel te wees. Indien jy jou lewe nie kan toets aan God se Wet en sodoende bewus gemaak kan word van die sonde in jou lewe nie, kan jy dit nie regstel nie en sal hierdie ongehoorsaamheid vir jou onnodige en ongekende smart inhou.Soos die kinders van Israel word ons as behoudende Afrikaners ook deur omstandighede getoets, tot beproewing om te weet wat in ons harte aangaan – of ons God se gebooie sal behou, al dan nie. Dit is hartseer om te sien hoe, met die verloop van tyd, selfs behoudende Afrikaners begin voel dat ons omstandighede hopeloos is en dat hulle so stadigaan ook maar die knie buig om aan die wêreld gelykvormig te raak. Dit laat mens dink aan die vyf wyse en vyf onverstandige diensmeisies wat onkant betrap is met die HERE se koms omdat die bruidegom na hulle mening te lank vertoef het en hulle dus maar hul eie weg gevolg het. En die uiteinde was dat daar vir hul geen genade was nie, geen verontskuldiging nie...
Een van die moeilikste opdragte vir ons as kinders van God, is sekerlik om ‘n onveranderlike God te aanbid in ‘n moderne samelewing waarin veranderinge daagliks plaasvind. Om dus aan te hou om hierdie God van ons te aanbid en ons lewens by sy Woord en Wet aan te pas en nie sy Wet by ons lewens te probeer aanpas nie. Indien ons laasgenoemde probeer doen, is ons mos nie meer besig met GODS-diens nie? Dan dien ons mos nie vir God nie maar aanbid eintlik net ‘n god wat volgens ons mening moet regstaan om ons te dien? Dit is niks anders as 'n humanistiese uitkyk nie. Ons skep dus ‘n afgod wat by ons beeld van 'n god sal inpas.
Dit is uiters belangrik om daarop te let hoe God vir ons in verse 2 en 6 sê dat Hy ons sal toets of ons sy Gebooie sal hou of nie, met ander woorde of ons daarby sal bly en volhard in die onderhouding daarvan of nie. Of sal ek eerder deurentyd verskonings probeer uitdink oor waarom ek nie by my beginsels kan bly staan nie. As iets vir jou as gelowige Afrikaner en kind van God 15 jaar gelede verkeerd was, wat maak dat dit vandag reg in jou oë is? As moord, diefstal, hoerery, afgodediens, kulturele vermenging, aanbidding saam met ander gelowe, onderig van my kind saam of deur ander gelowe en kulture, huwelike en vriendskappe met mense wat God nie ken en Hom nie liefhet nie en watter ander beginselsaak ook al vir my 10, 15, 20 jaar gelede verkeerd was, moet dit vandag mos steeds vir my verkeerd wees? Dit het my toé nie direk geraak nie, maar nou dat ek self aan die kriteria moet voldoen soek ek verskonings waarom ek mag verslap? Is dit wat ons Godsdiens noem? Is dit om te doen wat reg is in God se oë al is dit hoe moeilik en sodoende te GLO dat die Almagtige deurentyd in beheer van alles is en dus ook dinge vir jou ten goede sal laat meewerk?
Laat ons oppas om nie wederstrewig teen God se gebooie en vermaninge te wees bloot om deel te probeer vorm van die wêreld of om te probeer om in te pas by die wêreld nie, want ons wat die waarheid ken, kan onsself nie verontskuldiging dat ons “nie geweet het nie”. Ons word ook duidelik gewaarsku wat die gevolge van ongehoorsaamheid aan God sal wees met betrekking tot vervulling van ons eie begeertes, in vers 19. As daardie waarskuwing my en jou nie vir ‘n oomblik tot stilte dwing nie, moet ons besin of ons die Almagtige God van hemel en aarde nog werklik in ons lewens toelaat – onthou: Hy gee jóu die keuse om Hom te aanvaar al dan nie.