Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan is die een wat depressie by mense misbruik totdat hulle glo hulle is hopeloos en ongered. Die teenoorgestelde is egter waar: iemand wat deur die donker van depressie geloop het, het 'n bepaalde innerlike krag ontwikkel wat van hom 'n wyser en sterker mens gemaak het. Moenie na die duiwel luister wanneer jy op jou swakste voel nie – weet daar kom 'n tyd hierna wat jy as kind van God baie sterk sal wees met 'n wysheid wat jou verder deur jou lewe sal dra, want in die donkerste dieptes het jy vir God weer gevind.
OPEN JOU GEESTELIKE OOG
God Drie-enig as Leidsman van my lewe
Lees reeks by Hannes Ollewagen
Psalm 19
God openbaar Homself op twee maniere aan die mens: deur middel van die Skrif, en deur die natuur; daarom sal niemand eendag voor God se Regterstoel verontskuldig kan word deur te sê “ek het nie geweet nie”.
Vers 2: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Wanneer ons bloot na die natuur kyk, moet dit vir ons duidelik wees dat alles nie sommer net vanself kon ontstaan en net vanself voortbestaan nie. Deur na die natuur te kyk en dit te bestudeer, besef ons opnuut die grootheid en heerlikheid van God. Soos wat ons na die werk van bv. ‘n skrynwerker sal kyk wat pragtige werke uit hout vervaardig en dit vir ons duidelik is dat die persoon skeppend met sy hande is; of wanneer ‘n persoon moeilike berekeninge kan uitwerk, dit vir ons duidelik is dat hy'n bo-gemiddelde aanleg vir syfers het, so moet dit mos vir ons menslike verstand duidelik wees dat daar wel ‘n lewende God is wat alles geskape het en ook in stand hou wanneer ons na God se volmaakte Skepping kyk en dit bestudeer.
Net soos wat ons baie oor God kan leer deur na die Skepping te kyk en dit te bestudeer, moet ons Hom ook beter leer ken deur na Hom te soek in sy Woord. Ons wat wel weet dat Hy bestaan en erken dat Hy die enige, ware en lewende God van hemel en aarde is, moet moeite doen om ‘n persoonlike verhouding met God te skep en hom beter te leer ken om sodoende te weet wat sy wil vir ons is. Wanneer ons God ken, sal ons besef dat sy Wette en Verordeninge volmaak is. (Vers 8)
Wanneer ons dan daardie Wette gehoorsaam, sal ons blydskap in ons harte ervaar, omdat dit juis vir ons beswil daargestel is; omdat Hy ons liefhet en ons wil beskerm teen sonde, versoekinge en dus ook hartseer en swaarkry. Wanneer iemand bv.in die wieg gelê is om in die buitelig te werk en jy stel die persoon in ‘n binnenshuise administratiewe pos aan, sal hy/sy sielsongelukkig wees omdat dit teen sy/haar aard is. Net so sal ‘n kind van God nie gelukkig wees en blydskap in sy/haar hart ervaar wanneer hulle die wêreldse plesiere najaag nie – dit lyk dalk op die oog af aanloklik, maar dit sal teen jou menswees indruis en jy sal nie vrede in jou hart ervaar nie – en sonder vrede kan geen mens waarlik gelukkig wees nie.
Vers 10: “…die verordeninge van die Here is waarheid – tesame is hulle regverdig.”
Ons moet altyd onthou dat God ‘n regverdige God is en Hy het sy Wet daargestel om orde en regverdigheid onder sy kinders te bevorder – nie om aangepas te word by my lewenstyl en my manier van lewe te probeer regverdig nie. Dit is waarom die Humanisme waar ekself aan stuur van my lewe is, ten alle koste beveg moet word. 'n Humanistiese uitkyk bring mee dat alles in die lewe rondom my draai en dit wat vir my belangrik is want ek is mos my eie god - ('n direkte teenstelling met die eerste twee gebooie van die Wet). Op die oog af klink dit lekker om in ‘n “wêreld” te woon waar alles rondom my draai, nie waar nie? Wel, in daardie wêreld is daar nie plek vir God nie, so indien jy daar wil bly, sal jy maar alleen moet regkom. Ek is redelik seker dat enigiemand wat ‘n grondige mensekennis en lewenservaring het met my sal saamstem dat daar min dinge is wat ander van jou kan wegdryf en vervreem soos selfsug en jaloesie. In ‘n “wêreld” waar alles net rondom jouself draai, is laasgenoemde twee egter die enigste ander metgeselle waarvan jy gewaarborg kan wees met gevolglik die eensaamheid. Hierna volg gewoonlik ook 'n bitterheid wat jou sal verteer soos die tyd verby tik.
Ons kan egter kies om nie agter die wêreld aan te hardloop nie en uit liefde vir God en ook vir ons eie beswil, om God se voorskrifte te probeer nakom. Hoewel ons as sondige mense nooit volmaak kan wees nie en nooit al die gebooie getrou sal kan onderhou nie, sal ons vreugde vind in die uitdaging om dit te wil onderhou. (Vers 11).
Dan het ons as kinders van God boonop die belofte dat die onderhouding van God se Gebooie ‘n groot loon inhou en daar is min van ons wat nie gedryf word deur beloning nie. En hierdie wonderlike beloning is die Ewige Lewe saam met Hom – wat 'n voorreg! Wanneer ek God se gebooie onderhou en gedurig in sy Woord na Hom soek, sal Hy welkom voel in my lewe. Ek maak dus die deur van my hart vir God oop sodat Hy sigbaar in My lewe sal wees. Wanneer God in my bly en my lei deur sy Heilige Gees en sodoende my wil, my werk en wandel rig, is daar mos net een pad waarop Hy my sal lei en dit is na die deur van sy Hemelse Koninkryk. Inderdaad is dit waar dat ek op my eie nie God se Koninkryk kan ingaan nie, maar met Hom in my lewe as Stuurman is ek in een rigting oppad om my beloning te ontvang. (Vers 12).
Laat ons dan elke dag met groot ywer bemoeienis met Hom maak deur sy Woord te deurkruis en al sy genadegawes rondom ons raak te sien.