Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons het sóveel om oor dankbaar te wees deur Jesus Christus wat ons 'n ware lewe geskenk het deur al ons sondes op Hom te neem, dat ons nie net 'n tiende van ons geld en tyd verskuldig is nie maar ons hele lewe aan Hom behoort te wy, in alles wat ons dink, sê en doen.
KIÉS JOU BESKUTTING
DIE WAPENRUSTING VAN GOD
Hannes Ollewagen
Lees reeks by Hannes Ollewagen
Efesiërs 6:10-20
In hierdie gedeelte beveel God ons (soos Paulus die Efesiërs van ouds) om die VOLLE wapenrusting van God aan te trek. Hieruit weet ons dat ons voorbereid moet wees vir ‘n volskaalse stryd waarin ons menige en ook felle aanslae van die vyand te wagte kan wees.
In teenstelling met dwaalleraars wat verkondig dat ons alles en almal moet liefhê en in vrede en harmonie moet saamleef, leer God se Woord ons om nugter te bly en betyds gereed te maak om die bose te beveg. Ons word in vers 11 gewaarsku dat ons aangeval sal gaan word en dat ons gereed moet wees teen hierdie aanslae van die vyand sodat ons die aanval kan afweer om staande te bly.
In verse 11 en 12 lig God se Woord ons ook duidelik in oor die voorkoms en die wese van ons vyand sodat ons nie dalk om die bos gelei word en skielik deur die vyand oorval word nog voordat ons hom kon uitken nie – ons weet dus wie die vyand is en ons weet dan mos wie om te bestry.
Let op hoe ons in vers 11 berispe word om die volle wapenrusting van God aan te trek en in vers 13 (nadat die vyand mooi omskryf is), aangemoedig word om die wapenrusting op te neem. Laasgenoemde is minder passief en skep vir ons die indruk dat ons gereed moet maak vir die aanval, m.a.w. om op te tree teen die vyand. Dit is nie genoeg dat ons bloot gereed is vir die aanslae van die bose om dit af te weer nie – ons moet ook die bose aanval wanneer die geleentheid daar is. Dit is dus nie genoeg om net bewus te wees van dinge wat verkeerd is in my lewe nie – ek moet daadwerklik optree om die verkeerde dinge in my lewe aan te val en te vernietig. Onthou, al wat die Bose nodig het om te seëvier, is dat goeie mense niks doen nie!
Die eerste wapen in ons uitrusting is die waarheid. Dit is ook die noodsaaklikste een wat ons met ons moet saamneem oral in die stryd en dit ten alle koste behou, want as ons van die waarheid beroof word, stry ons ‘n vergeefse stryd aangesien ons stryd juis ‘n stryd van waarheid teen leuen is. Ons aanvaar God se Heilige Woord as die onfeilbare en enigste waarheid en is veronderstel om enige aanslag daarteen te bestry. Die Woord van God is die enigste bron wat die waarheid bevat en wat vir elke gelowige riglyne kan gee hoe ons moet lewe om ons God te behaag.
Ons word in vers 15 ook daarop gewys dat ons bereid moet wees om die pad te stap wat God vir ons aandui in sy Woord. Hierdie pad word weereens nie as ‘n pad van maanskyn en rose voorgehou nie – inteendeel, ons word gewaarsku dat die vurige pyle van die Bose deurentyd op ons afgevuur sal word langs hierdie weg. Durf ons egter hierdie pad met die skild van geloof aan, soos wat God se Woord ons beveel om te doen, sal ons al hierdie pyle kan ontkom.
Weereens sien ons in vers 17 dat ons toegerus word met die swaard van die Gees omdat ons nie die heeltyd net die aanval moet afweer nie, maar ook die Bose moet aanval en bose werke vernietig waar dit vir ons moontlik is.
Dit is egter uiters belangrik dat ons daarop let dat daar in vers 18 vir ons ‘n duidelike vermaning is om by elke geleentheid ons oog gerig te hou op ons Aanvoerder (nl. die Almagtige en enigste ware, lewende God van hemel en aarde) vir leiding. Soos wat geen soldaat homself in ‘n stryd sal begeef sonder die nodige leiding van sy bevelvoerder nie, so sal dit net ‘n dwaas wees wat dink dat hy gerat is om man-alleen die bose aan te durf.
As daar vandag dus enige aspekte in my en jou lewens is waarin ons doelbewus kies om God nie te ken of Hom te raadpleeg voordat ons besluit nie (of dit nou jou loopbaan, keuse van vriende, ‘n lewensmaat, ens. is), wees gewaarsku dat dit dalk net die geleentheid kan wees waarop die duiwel wag om vurige pyle na daardie gedeelte van jou lewe wat onbeskermd gelaat word te vuur en sodoende groot leed en seerkry veroorsaak, jou selfs tot ‘n algehele val te bring . . .
Kies dan om elke dag onder die beskutting van die VOLLE wapenrusting van God te bly waarmee ons AL die vurige pyle van die Bose sal kan ontkom.