Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer 'n kindjie sterf voordat hy of sy Christus se verbondsteken van die doop ontvang het, hoef gelowige ouers nie daaroor te bekommer nie omdat die kindjie daardeur 'n verbondskind was en reeds gered is.
WAAR SAL MY HULP VANDAAN KOM?
Hannes Ollewagen
Psalm 121 (Verwys ook na Jes. 59:1&2)
In tye van benoudheid, hartseer angs of moedeloosheid, is Psalm 121 seker een van die mooiste gedeeltes in die Woord van God. Wanneer ek so hartseer en moedeloos word dat ek besef dat geen mens my meer tot hulp kan wees nie, en ek so laag ten gronde gebring is dat die enigste rigting waarna ek kan kyk opwaart is, kan ek ook my oë opslaan en bely dat God alleen my hulp sal wees.
Ons volk was lanklaas in ons geskiedenis so onderdruk en so ten gronde gerig dat ons magteloos op soek is na leiding en verlossing van ons omstandighede, omstandighede wat daagliks al hoe erger en meer moedeloosheid veroorsaak. Hoe lank voordat ons sal erken dat daar vir ons geen heil by mense is nie? Daar is vir ons geen heil by “vryheidsorganisasies”, politieke partye of volksrade wat met ongelowiges wil onderhandel nie. Daar is geen mens op wie ons kan vertrou en wat ons van ons omstandighede sal verlos nie!! Dit beteken egter nie ons moet tou opgooi en moedeloos raak nie. Inteendeel, dit is vir ons die rigtingwyser dat ons ons oë moet rig tot die Here wat die hemel en die aarde gemaak het! Ons lees in Romeine 12 dat daar geen mag oor ons sal heers sonder dat God dit toelaat nie. Hoewel ‘n goddelose regering nie goedgepraat kan word nie, mag ons nie ontken dat dit deur God toegelaat word nie, aangesien daar geen einde aan sy Almag is nie. Hy kan selfs ‘n goddelose regering as intrument in sy Hand gebruik om sy Raadsplan te voltrek. Waarom sal God dan toelaat dat ‘n goddelose regering oor sy volk en kinders heers? Meer nog, waarom sal ons aanhoudend smeek om verlossing en genade en dan dink God hoor ons nie?
Jes. 59:1&2: “Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangsig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” Ons vergeet te maklik dat ons te doen het met ‘n Almagtige, Heilige God wat die ongeregtigheid nie kan verdra nie!! Ons wil die geld-, sport- en vermaaklikheidsgode aanbid, maar wanneer ons in krisistye verkeer, wil ons skielik die ware God aanroep omdat ons Hom nodig het? Ek wil tot Hom nader sonder om stil te raak voor Hom en my ongeregtighede te bely en dan kan ek nie verstaan dat Hy Homself vir my verberg wanneer ek in my sondebevlekte lewe na Hom toe gaan om met Hom te praat nie? Ek verwag dat ek sonder enige erkentenis en belydenis van my skuld en sonde bloot voor die Almagtige kan verskyn soos en wanneer dit vir my gerieflik is en dat Hy bloot my te hulp moet snel wanneer ek dit benodig? Ons het nie eers meer as ‘n gesin tien minute per dag om voor God stil te raak by die huisaltaar en Hom te aanbid en te erken as ons God nie, maar ons verwag dat Hy soveel tyd vir ons moet hê soos wat ons nodig het om na ons klagtes en smekinge te luister?
Ek wil met hierdie boodskap vandag nie ‘n neerslagtigheid in enigiemand se gemoed aanwakker nie, want daar is reeds ‘n groot moedeloosheid wat oor ons hang. Ek wil egter elke leser tot stilstand bring om weereens tot die besef te kom met watter groot en gedugte God ons te make het. Wanneer daardie besef opnuut in u hart herleef, sal daar nie plek wees vir moedeloosheid nie, aangesien u opnuut ook sal besef dat ons ‘n God aanbid by wie niks onmoontlik is nie – wat die donkerste situasie in ‘n oogwink tot verheerliking van sy heilige Naam kan omdraai.
Wanneer ons besef dat ons situasie lank nie verlore is nie, weet ons dat daar nog optrede van ons kant verwag word – ons moet nog iets doen om vir ons en ons nageslag se toekoms te veg!! Ons moet by onsself begin – elke individu binne homself en by sy huismense. Ons moet ons ongeregtighede voor Hom bely en toelaat dat ons deur Hom onderrig word en ons kinders opvoed in die vrees van die Almagtige. Verder moet ons daadwerklik probeer wandel in die vrees van die Here as kinders van Hom wat sy welbehae wil doen.
Ons moet ophou om ons hoofde in skaamte en moedeloosheid te buig, maar eerder ons knieë buig en ons oë vestig op ons Here wat hemel en aarde gemaak het vanwaar ons hulp vandaan sal kom!
Gebed: Psalm 123:
“’n BEDEVAARTSLIED.
Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon. Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres – so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is.”
Amen