Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer daar pyn in jou lewe opduik kan jy seker wees dat dié God wat jy liefhet 'n doel daarmee het en dat Hy jou nooit bo jou kragte sal versoek nie. Jy kan vashou aan God se beloftes in sy Woord dat Hy altyd by jou sal wees in daardie pyn. Jy kan ook weet dat God baie maal pyn in jou lewe toelaat om jou te laat besef dat jy nie sonder Hom kan voortgaan nie, dat jy totaal van Hom afhanklik is.
WELKE WEG SAL JY KIES?
Hannes Ollewagen
Johannes 6:60-71
In vers 60 merk ons hoedat ‘n groot deel van Jesus se volgelinge die waarheid as “hard” beskou en verkies om dit te verruil vir die maklike weg van die wêreld. Hierdie is manne wat daagliks met Jesus gewandel het en boonop sy wonderwerke en tekens eerstehands kon beskou; tog kon hulle nie aan die geloof vashou en getrou bly nie.
Wanneer ons oor hierdie ongelowige verskynsel besin, raak dit opnuut vir ons duidelik dat geloof waarlik van God af kom (Joh. 6:44) en dat dit geensins ‘n produk van ons eie verdienste is nie. Die feit dat ons as gelowiges wat nog nie vir Jesus van aangesig tot aangesig gesien het nie maar tog glo, maak ons nie beter as diegene wat wél gesien het en steeds nie die geloof kon behou nie. Inteendeel, dit maak ons opnuut bewus dat God, wat die Gewer van geloof is, se genade en goedertierenheid oor ons soveel meer is as wat ons menslike verstand ooit sal kan begryp. Hy werk in elkeen van ons lewens om daardie gawe van geloof vir ons te versterk, en wel omdat Hy ons liefhet en wil hê dat ons moet deel in sy ewige heerlikheid – wat 'n voorreg!
Ons besef dat God elkeen van ons se hart volkome ken en Hy weet watter werking in ons lewens nodig is om ons geloof in Hom te versterk, sou dit voorspoed, teëspoed, hartseer, beproewing of watter nood ookal wees. Hy sal seker maak dat dit oor ons lewenspad kom sodat ons geloof in Hom nog sterker kan raak en ons nie die ware geloof verruil vir die maklike weg van die lewe nie. Behalwe dat Christus vir ons sondes aan die kruis gesterf het en ons vrygekoop het van die sonde, het Hy ook vir ons die voorbeeld gestel van hoe ons ons lewens moet rig. Hy is ons Leidsman wat die smal weg vir ons aanwys, maar ons moet weet dat wanneer ons verkies om die smal weg te verlaat omdat dit vir ons daar te moeilik is, Hy ons nie gaan volg op die breë weg nie. Jy gaan ‘n koers inslaan waarin Hy nie te vinde is nie. Wanneer ek sê dat Hy jou nie gaan volg op die breë weg nie, beteken dit nie dat jy nou veroordeeld staan en in die hel gaan beland nie. Dit beteken dat sou jy jou nie van die verkeerde weg bekeer nie, jy wel vir ewig verlore sal wees. Dit is wanneer jy besluit dat jy jou lewe sonder God se leiding wil leef – hoe wil jy Hom dan aanroep wanneer beproewing oor jou kom? Jy het dan gekies dat jy Hom nie nodig het nie?
Sou ons as Christus se diensknegte hier op aarde vandag voor Hom verskyn in ‘n tyd waar die beproewinge in die lewe al hoe moeiliker en swaarder raak – wat sou ons antwoord op dié vraag wees: “Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?” (Vers 67). M.a.w. wil jy nie ook maar agter die wêreld aanloop omdat die geloof vir jou te swaar en te hard is nie? Is ons geloofslewe op die plek waar ons onsself nie aan ‘n lewe sonder Hom kan indink nie? As Hy die ware Leidsman van my lewe is wat al my besluite in my lewe rig, sal ek ook geen ander antwoord as Petrus hê nie: “…Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” (Vers 68). M.a.w. Here, wat is my lewe sonder U? Waar sal ek heengaan as U my nie lei nie?
Laat elkeen van ons wat glo en erken dat Hy die Christus is, die Seun van die lewende God, ook daarmee saam sy gesag as die Leidsman van ons lewens erken. Dáármee moet ons Hom glo en vertrou as ons Leidsman wat ons nie noodwendig lei op die weg waarlangs ons WIL wandel nie, maar wel op die weg waarlangs ons MOET wandel wat sal lei na die Ewige Heerlikheid van ons Vader.
Onthou, Hy het reeds die weg VOLUIT gewandel tot waar Hy nou sit aan die regterhand van God - Hy ken die pad!