Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een van die belangrikste van die ses dinge in ons wapenrusting teen die bose geeste van Satan, is ons geloof. Wat sê Paulus sal ons daarmee kan doen? Die Bose se vurige pyle uitblus. As ons dít regkry is daar niejuis iets om voor bang te wees op hierdie aarde nie. En wat beteken dit in praktyk om geloof te hê? Dit behels om elke dag in opregtheid ons hele sondige natuur voor die Here te bely en met Hom te praat oor alles, net soos 'n klein kindjie sy ouers in sy vertroue neem, en dan rustig voort te werk in jou dagtaak met die wete dat Hy in beheer van daardie 'alles' is.
SKUIL BY DIE ALLERHOOGSTE
Hannes Ollewagen
Psalm 91:1-16
Hierdie is seker een van die mees gerusstellende gedeeltes en beloftes in God se Woord vir elkeen van sy kinders. Hierdie pragtige beloftes sal vir elke goddelose mens bloot leë woorde wees, maar vir die kinders van God, beloftes wat ons gerusstel dat ons geen onheil hoef te vrees nie, want ons kan by God skuil.
Ons as God se kinders se geloofsgrondslag is natuurlik gesetel in ons Verlosser, Jesus Christus, deur wie ons die Ewige Lewe bekom het. In die gelese gedeelte kan ons sien hoe lief God ons wat sy kinders is het, maar sy liefde vir ons is egter op ‘n nóg duideliker manier bewys, nl. die geskenk van ewige verlossing van die bose. Dit het Hy ons geskenk deur sy Seun, Jesus Christus. Wanneer ‘n mens tot die ware besef kom van hoe groot God se liefde vir jou is en sy Verlossing uit genade aanneem, sal jy nie anders kan as om met dankbaarheid oorweldig te word nie. En dit is juis die rede waarom ons as God se kinders “anders” is as die wêreld is en nie daaraan gelykvormig raak nie. Ons wil nie soos die wêreld wees nie, ons wil soos ons Vader wees!! Ons wil nie valse godsdienste aanhang wat vir ons verkondig dat ons alles en almal om ons moet liefhê en verdra nie, selfs die sonde en die bose magte, ons as ware kinders van God wil Hom liefhê bo alles en die Bose en sonde wat Hy haat, ook haat en bestry en beveg.
God verwag van ons om Hom lief te hê bo alles en aan Hom gehoorsaam en getrou te bly, soos wat Christus ook vir ons die voorbeeld gestel het deur getrou te bly tot die dood toe. Wanneer ek ‘n lewe van dankbaarheid vir my hemelse Vader leef, getuig dit dat ek waarlik glo in die enigste, ware lewende God van hemel en aarde en ook die verlossing wat vir my deur Sy Seun bewerkstellig is. My beginselvastheid getuig daarvan dat ek leef om God tevrede te stel wat ‘n onveranderlike God is en nie mense wat elke kort-kort ander eise aan my stel nie. Wanneer ek waarlik in God glo en Hom liefhet, is hierdie gelese gedeelte nie bloot net leë woorde vir my nie. Dit is kragtige beloftes, aangesien ek weet dat God die beloftes gemaak het en dat Hy nooit sy Woord verbreek nie.
Net soos wat God in sy ewige Raadsplan besluit het om sekere gebeure te laat plaasvind en ons deur profesieë vooraf daarvan bewus gemaak het sodat ons geloof versterk kan word wanneer dit gebeur, het Hy ook vir ons beloftes gegee in sy Woord waaraan ons kan vashou totdat dit bewaarheid word in ons lewens en ons geloof dan daardeur versterk kan word. Deur die vervulling van beloftes aan ons, kan ons sien, beleef en bely dat die Woord van God nie net ‘n “geskiedenisboek” is nie, maar dat God waarlik met my daardeur praat. Hy hoor dus as ek bid, Hy antwoord my deur sy Woord en in my lewe. Wanneer ‘n persoon hoor en terug kommunikeer, is dit algemeen aanvaarbaar dat hy leef. Wanneer ons bid, God hoor en ons terug antwoord, is dit mos heeltemal aanvaarbaar dat Hy ‘n lewende werklikheid is, hoewel ons Hom nie kan sien nie. Wanneer ek met ‘n persoon d.m.v. ‘n telefoon praat en nie die persoon sien nie, beteken dit mos juis nie dat die persoon nié bestaan nie.
Dit is dan vir ons wonderlik om te weet dat ons ‘n die enigste, ware lewende God aanbid en omdat ons Hom beleef as ‘n werklikheid en waarlik in Hom glo, bewaar ons sy gebooie en getuienisse en beloftes. Daarom gee ons ag op profesieë wat Hy aan ons bekendgemaak het en is ons gereed vir die moeilike stryd wat hier op aarde nog vir ons wag ter wille van sy Koninkryk op aarde en die eer van sy Heilige Naam. Ons weet egter dat ons nie alleen stry nie en Hom kan aanroep en dat Hy ons sal verhoor en dat Hy ons sal beskerm omdat ons Hom liefhet en sy Naam ken. (Verse 14 &15). Te midde van alle dreigende onheil wat om my woed, kan ek rustig wees, want ek weet ek kan na die Allerhoogste vlug om by Hom te skuiling vind.
My hartewens vandag is dat elke volksgenoot in hierdie tyd seker sal maak dat hy/sy vir God waarlik liefhet en ‘n opregte verhouding met Hom het, aangesien Hy ons enigste skuilplek sal wees in die benouende tye wat vir ons voorlê. Ons kan nie na God vlug as ons Hom nie ken en liefhet nie. . .
As ek Hom opreg liefhet en in tye van benoudheid as my enigste Skuilplek en Verlosser erken, kan ek verseker weet dat Hy in die nood by my sal wees om my uit te red omdat ek Hom liefhet!!