Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie dink dat jou lewe ten einde loop wanneer jy terugslae kry nie – dis deur swaarkry wat ons leer verstaan wat genade is en word die lewe naderhand een wonder van genade te midde van gebeure rondom ons. Dis dan wanneer dinge vir ander soos rampe lyk maar jy sal weet dit is die genade van God.
DIE STEM VAN GOD
Hannes Ollewagen
1 Sam. 3:1 – 21
Is dit nie opmerklik dat ons in vers 1 van die gelese gedeelte daarop bedag gemaak word dat die woord van die Here skaars was in daardie dae nie? Dit is baie opvallend en dan besef ons later dat mense in daardie tyd ook baie afvallig van God geleef het. Selfs Eli se twee seuns wat in die tempel diens gedoen het, het met hul goddelose optrede God mishaag. Ek glo elke nugtere, behoudende volksgenoot sal met my saamstem dat dinge in ons tyd nie veel anders lyk nie. Dit mag dalk net vir ons erger voel omdat ons daarin teenwoordig is en daagliks daarmee te doene kry.
Ons lees dan hoe God na Samuel roep om aan Hom ‘n opdrag te gee, maar Samuel herken nie God se stem nie. Hoe is dit moontlik?
Samuel het in die tempel grootgeword nadat sy ma hom as ‘n jong seun na die huis van God gebring het om diens te verrig, soos wat sy beloof het. Samuel het dus feitlik in die tempel grootgeword, maar tog lees ons in vers 7 dat Hy nog nie vir God geken het nie en dat die woord van die Here nog nie aan hom geopenbaar was nie. Dit klink eintlik eienaardig. Hoe kan iemand God dien, maar Hom nie ken nie? Tog is dit nie so eienaardig nie. Hoeveel mense sit Sondag na Sondag in die kerk en laat hulle selfs deur mense mislei wat die Woord van God verkondig terwyl hulle Hom nie ken nie! Hierdie dwaalleraars word self mislei omdat hulle Hom nie ken nie. Laasgenoemde is dan die rede waarom die oorgrote meerderheid van die kerklike bestel in ons land die pad byster geraak het en mense in hulle duisende saam die afgrond ingesleep het!! Die verskil tussen die huidige situasie en dié van Samuel was dat Samuel na Eli se raad geluister het, wat wél vir God geken het en dus opgemerk het dat God met Samuel probeer praat. Die hedendaagse kerklui is so dronk van selfliefde en verblind deur hul ego’s dat hul nie luister na die stem van God of na mense wat Hom wel ken nie. As hulle die waarheid moet verkondig sal hulle dalk lidmate, inkomste en aansien in hierdie wêreld verloor, of dalk uitgekryt word as agterlik, rassisties of iets anders wat die wêreld as dergelik beskou. Eli het was deeglik bewus van sy seuns se onreg en het versuim om hulle streng te bestraf (vers 13). Waarom sal God anders optree teen mense wat teen hul beterwete die waarheid verdraai om hul aansien te behou?Is baie van ons nie ook daaraan skuldig dat ons God net uit tradisie of gewoonte dien en Hom nie werklik ken nie? Dalk omdat my ouers my geleer het om kerk toe te gaan en Bybel te lees? Die wonderlike antwoord van God in sy Woord is vir ons duidelik in Jeremia 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” Om bloot uit gewoonte vir God te dien terwyl jou hart ver van Hom is, sal veroorsaak dat jy nie sy roepstem in jou lewe sal hoor nie, omdat jy Hom nie ken nie. Wanneer jy egter erns maak om Hom te leer ken en Hom te soek, sal Hy Homself aan jou openbaar en sal dit die begin van ‘n lewe wees wat jy vir elkeen toewens, maar tog nie vir ander in woorde kan beskryf nie. Hoe meer jy na God soek, hoe harder praat Hy met jou – dit word later nie meer beperk tot kommunikasie deur sy Woord nie, maar deur sy Gees wat in jou sal woon wanneer jy jou hart se deur vir Hom sal oopmaak.
‘n Ware en deeglike kennis van God sal jou nie ‘n “heilige” maak nie, aangesien elkeen van ons in sonde ontvang en gebore is . Ons sal eers volmaak wees wanneer ons 'n verheerlikte liggaam ontvang nadat ons aardse tentwoning afgebreek is. Om God te leer ken sal ons intussen onsself volkome aan God onderwerp en probeer om diensbaar vir Hom te wees op elke lewensterrein. Ons sal stry vir waarheid en geregtigheid en die eer van sy Naam en die slegte verafsku. Eli was ‘n man wat God geken het en wat ‘n dienaar van Hom was. Hy het geweet dat die gesprek wat God met Samuel gehad het oor hom gehandel het. Toe Samuel hom dit te kenne gee het Eli egter die straf gedweë aanvaar omdat hy geweet het dat God die saak vas besluit het en dat hyself dit nie kan verander nie.
Hoe lyk my en u lewe vanoggend? Sal ek die roepstem van God hoor of ontbreek ware kennis van God nog in my lewe? Is hierdie gedeelte vandag dalk ‘n waarskuwing dat die tyd min is om my saak met God reg te maak en waarlik met Hom kennis te maak? Moenie weier om aandag te gee aan God se waarkuwings soos wat Eli gedoen het nie. Mag die Almagtige God van hemel en aarde so daaraan toedoen dat elke opregte en behoudende volksgenoot waarlik ag sal gee op sy roepstem sodat ons gereed sal wees op die dag wanneer Hy ons roep om in sy diens te staan in hierdie Vaderland. Mag Hy gee dat elkeen van ons Hom soek terwyl Hy nog te vinde is, en Hom met oorgawe dien!
“…Hy is die Here; laat Hom doen wat goed is in sy oë.” (vers18).