Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woorde "versoening" is geensins wat die kommunistiese regering in hierdie land wil tuisbring met integrasie tot 'n reënboognasie nie. VERSOENING is eerstens ons verhouding met God; ons moet in die eerste plek met Christus versoen word, dan sal die versoeningswerk tussen mense self volg.
VERLORE, MAAR NIE VERGETE
Hannes Ollewagen
Lukas 15:11 – 32
Hoe dikwels sien ons nie in ons hedendaagse samelewing hierdie droewige verhaal in mense se lewens afspeel nie? Mense wat ‘n gesonde en gelukkige gesin en lewe lei en dan deur die misleiding van die wêreld in hul harte onvergenoegd raak en na ‘n “beter lewe” soek - een wat uiteindelik op ellende en hartseer uitloop?
Omdat die mens wysgemaak word dat hy sy eie lotsbepaler is en alles rondom hom draai en hy gelukkig moét wees, kies hy die pad van “vryheid” – daardie oorweldigende vryheid om homself te vernietig in ‘n lewe waarin hy nooit vrede het nie. Jy is nooit TEVREDE nie. Ironies genoeg gebeur dit nie net in individue se lewens nie, maar het dit in ons volk se bestaan ook gebeur. Wil jy 'n sterk volk sien? Sorg dat die gesins- en familielewe moraal en moreel sterk is. Op die kruin van vooruitgang in ‘n land wat die Vader na soveel gebede, styd en bloed aan ons toevertrou het, versuim ons om teen die Bose te waak en dit te bestry en laat ons toe om mislei te word met valse beloftes van voorspoed vir almal en ter wille van “vrede” moet ons ons vryheid prysgee. Ons het nie net ons erfporsie verkwis nie, maar ook dit wat ons vir toekomstige geslagte moes bewaar!! ‘n Land waarin ons as ‘n afgesonderde volk tot God se eer en heerlikheid moes leef het ons afgestaan en toegesien dat sy Heilige Naam uit die grondwet uitgehaal word ter wille van vrede en versoening!!
Versoening waarmee? As jy God se Naam uit die grondwet verwyder ter wille van versoening, is dit mos voor die hand liggend dat jy jou nie met Hóm wil versoen nie?? Kan ons nou enigiemand anders blameer dat ons moet toekyk hoe alles wat met harde werk en met soveel seën van onse Vader opgebou en tot stand gebring is, tot niet gaan en verorber word feitlik soos wat die verlore seun van hierdie gelykenis moes toekyk hoe die varke die peule in hierdie gelykenis opgeëet het? Is dit ons Vader se skuld dat Hy ons nie gekeer het om teen Hom te sondig nie? Hoe lank sal ons ander verwyt vir ons eie verkeerde keuses of dan ook versuim om die regte keuses te maak? Hoe lank wil ons nog in ellende staan en toekyk en smag na die beter dae toe dit nog goed gegaan het voordat ons tot onsself kom, soos wat dit mooi in vers 17 beskryf word: “Maar hy het tot homself gekom…” Die verlore seun het besef dat hy baie onverskillig en dwaas gehandel het en dinge moet regstel.
Almal van ons maak foute, dit is menslik en daardie foute wat ons maak, maak ons gewoonlik wyser, mits ons daaruit leer en dit nie herhaal nie. ‘n Mens maak ‘n fout egter net eenmaal, die tweede keer is dit ‘n keuse, want jy weet mos wat die uitkoms sal wees. Dit is dan ook so dat ‘n mens die gevolge van jou dade moet dra, maar ook die straf vir jou sonde moet uitdien. Dank die Vader dat Hy ‘n genadige God is en ons nie ewig sal straf vir ons sondes nie. Christus het ons sondes op Hom geneem sodat ons juis die ewige straf kan ontkom. Laasgenoemde is egter die rede waarom ons in dankbaarheid ons lewens op aarde aan Hom verskuldig is en moet stry vir die eer en heerlikheid van sy Naam. Vir die verkondiging van waarheid en om te veg vir ‘n land en ‘n bestel waarin Hy as die Enigste Almagtige God en Koning van die heelal erken en aanbid word en waarin toekomstige geslagte opgevoed kan word in dieselfde Godvresende en eerbiedige gesindheid sodat ons as ‘n volk soos ‘n helder lig in ‘n donker wêreld sal skyn. In ‘n wêreld waar die mensdom verhef word tot ‘n wese wat bo ons Skepper gestel word, het ons die verantwoordelikheid om te veg vir ‘n land waarin Hy weer erken moet word as Heerser oor alles. Hierdeur sal sy Leer ook verkondig word tot Hy as Oorwinnaar kom om self te regeer!
Mag die dag spoedig aanbreek dat die Gees van God oor ons volk vaardig sal raak sodat ons as een man opstaan en na Hom sal gaan om voor Hom te erken dat ons teen Hom gesondig het. Ek glo dat ons volk se verhaal soortgelyk sal eindig aan die gelykenis van die verlore seun. Ons was geestelik dood, maar het weer lewend geword, was verlore, maar is gevind!!! (Verwys na vers 32).