Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is jou geen verklaring verskuldig vir enigiets wat Hy jou vra om te doen nie. Begrip kan wag maar nie gehoorsaamheid nie. Onmiddellike gehoorsaamheid gaan jou meer van God leer as 'n hele leeftyd van Bybelstudie. Jy sal sommige bevele trouens nooit verstaan as jy hulle nie eerstens gehoorsaam nie want gehoorsaamheid sluit begrip oop.
WYSE VOORSKRIF VIR MY LEWE
Hannes Ollewagen
Prediker 12:1 – 14
“…en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” (Vers 7). Hierdie versie herinner ons aan ‘n ontsettende waarheid wat ons tog so maklik vergeet – ons Skepper alleen is die Gewer van lewe. Hy alleen is die Gewer van lewe hier op aarde, maar ook van die Ewige Lewe hierna.
In vers 1 vermaan die Prediker ons met “EN dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid…”, omdat hierna vermaning daartoe sal lei dat ons ‘n lewe uit dankbaarheid sal leef en ons beste sal doen om Hom te behaag. Soveel mense maak die fout om te redeneer dat hulle eers die lewe wil geniet terwyl hulle jonk is, want hulle het mos nog baie tyd om hul saak met God reg te maak wanneer hulle oud is. Indien jy laasgenoemde standpunt huldig, is daar rede tot kommer in jou geloofslewe, aangesien geen mens wat waarlik tot die besef gekom het van God se genade en liefde vir sy kinders, wil uitstel om homself te bekeer en onse Vader te behaag nie.
Hierdie besef laat jou in nederigheid stilraak en dryf jou daartoe om te doen wat reg is in sy oë. Dit gebeur omdat jy besef dat jy niks het om Hom te bied as dankoffer vir sy onverdiende genade en liefde nie, behalwe om jou lewe aan Hom te wy. En dan voel dit onmiddellik vir jou asof jou hele lewe te kort is om aan Hom te wy. Dit sal jou begeerte wees om sy welbehae te doen en nie voel soos ‘n straf of vermoeienis wat heeltyd uitgestel moet word nie. Wanneer jy dit slegs uit pligsbesef doen net om tog nie in die hel te beland nie, doen jy dit nie omdat jy Hom waarlik liefhet nie.Ek is seker dat elke kind van God gedurig in selfondersoek voor die vraag te staan kom, wat hy/sy kan doen om God te behaag. Dit is wonderlik dat ons hierdie begeerte in ons lewens het, maar soms raak ons besig met soveel nuttelose tydverdrywe waarmee ons dink ons God behaag, dat ons soms van die “maklike”, dog een van die belanrikste opdragte vergeet: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.” In hoeveel mense se lewens is daar nog die pragtige eienskap van ware Godsvrees te bespeur? Nie ‘n vrees vir God wat heeltyd regsit om ons te straf nie, maar ‘n heilige vrees vir ons Hemelse Vader wat ons daartoe dryf om Hom te gehoorsaam, om met respek teenoor Hom op te tree (en dus ook teenoor my medemens) en om elke dag opnuut daarna te streef om sy gebooie te hou, want dit geld vir alle mense.
In ons dwaasheid is ons mislei om te glo dat God se Woord ‘n stel reëls inhou wat onmoontlik is om na te kom en ons vermoei onsself onnodig daarmee. Dit is absoluut onwaar, aangesien elke ware gelowige sal kan getuig dat dit goed is om God se gebooie te gehoorsaam. Dit beskerm die mens teen homself, aangesien ons in sonde ontvang en gebore is en gedurig tot die sonde neig uit vleeslike begeerte. Die vrug wat sonde oplewer is egter hartseer, pyn en verwoesting in ons lewens. God, wat die Gewer van ons lewens is, wil nie hierdie verwoesting sien gebeur nie, daarom dat Hy ons waarsku om ons van die sonde te weerhou. Ons kan in ons eie land sien hoe mense hulself en hul medemens vernietig en verteer vandat die erkenning aan die Almagtige Drie-Enige God uit ons land se grondwet verwyder is om dit te vervang met wette en ‘n grondwet wat by die mens sal pas en die mens sal toelaat om te doen wat hy wil.
Die oorsaak in ‘n wêreld waar mense geleer word om van die vrees vir God te vergeet en toegelaat word om te doen wat hulle wil, is ‘n verwarde samelewing vol gebroke mense en gesinne, omdat die Rots nêrens is om standvastigheid te bied nie. Dit veroorsaak ongelukkig ook dat daar onregverdig opgetree word teenoor mense wat God vrees, want daar is nie regverdige landswette wat mense daarteen beskerm nie. Ons troos is egter dat ons weet dat geen ding op aarde vir God verborge is nie. “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” (Vers 14). Die onregverdige se goddeloosheid sal in die gerig gebring word, maar so ook die regverdiges se volharding in gehoorsaamheid aan God. Dit is ook vir ons, as ware kinders van God, moontlik om voortdurend goed te doen in ‘n goddelose samelewing, aangesien ons nie dit wat ons doen vir enige mens doen nie, maar om God welbehaaglik te wees.
Die hoofsaak van my boodskap vanoggend is dus: “…Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.” Al voel dit soms vir ons asof die goddelose voorspoedig is in sy weg en die regverdige onregverdig verdruk word, moet ons volhard in gehoorsaamheid aan God uit ‘n heilige vrees vir Hom, omdat dit 'n opdrag is wat ons uit liefde vir Hom wil nakom. Hoe donkerder die wêreld om ons, hoe helderder sal ons lewenslig daarin skyn wanneer ons in nederigheid gehoorsaam aan Hom leef!