Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan is die een wat depressie by mense misbruik totdat hulle glo hulle is hopeloos en ongered. Die teenoorgestelde is egter waar: iemand wat deur die donker van depressie geloop het, het 'n bepaalde innerlike krag ontwikkel wat van hom 'n wyser en sterker mens gemaak het. Moenie na die duiwel luister wanneer jy op jou swakste voel nie – weet daar kom 'n tyd hierna wat jy as kind van God baie sterk sal wees met 'n wysheid wat jou verder deur jou lewe sal dra, want in die donkerste dieptes het jy vir God weer gevind.
WEERSTAAN DIE VERSOEKER
Hannes Ollewagen
Matthéüs 4:1-11
Ons weet dat Christus mens geword het en aarde toe gekom het om verskeie redes. Die belangrikste hiervan is natuurlik om sy uitverkore kinders, wat waarlik in Hom glo, se sondes om Hom te kom neem en die volmaakte losprys daarvoor te betaal, aangesien ons nie in staat is om ons eie verlossing te bewerkstellig nie. Verder het Hy dan ook tydens sy lewe hier op aarde vir ons die voorbeeld gestel van hoe ons voor Hom moet leef en nie bloot vir ons ‘n klomp verordeninge gegee om te onderhou nie.
In vers 2 sien ons dat Christus na afloop van sy veertig dae vastydperk naderhand honger geword het. Dit bevestig weereens vir ons dat Hy ook ‘n mens hier op aarde was met menslike behoeftes, hoewel Hy volmaak en sonder sonde was.
Die satan was ook bewus van sy behoeftes en laat nie die kans verby gaan om Hom juis te versoek m.b.t. hierdie spesifieke behoeftes nie. Daar waar ‘n behoefte is, is daar immers kwesbaarheid en die satan versoek ons as God se kinders vandag nog op dieselfde manier!In al drie die kere wat die satan vir Jesus versoek, is die versoeking ingestel op Jesus. Sou Jesus doen wat die satan versoek, sal hy Jesus glo ryklik beloon. In al hierdie versoekings is dit egter uit Jesus se antwoorde duidelik dat Hy sy eie behoeftes, begeertes, belofte(s) van eer en roem, ondergeskik stel aan die wil van sy Vader wat in die hemel is. Dit is vir Hom belangriker om God gehoorsaam te wees as om in hierdie behoeftes/begeertes van Homself te voldoen.
Wanneer ons as kinders van God Hom waarlik liefhet en besef dat ons doel op aarde is om tot eer van sy Naam te leef en Hom gehoorsaam te wees uit dankbaarheid, is ons ook mos veronderstel om ons eie wil ondergeskik te stel aan die wil van God in ons lewens? Christus het dan vir ons die voorbeeld gestel van hoe dit gedoen moet word en ons moet dit nastreef om dieselfde te doen. Dit beteken natuurlik nie dat God ons niks in die lewe gun nie, maar dat ons keuses ingestel moet wees om sy wil in ons lewens bo ons eie wil te plaas en die dus ook sy gesag in ons lewens te aanvaar.
Ons sien ook dat Christus elke keer die versoeker, wat die waarheid verdraai het om hom te pas, teruggeantwoord het met die woorde “daar staan geskrywe”, wat vir ons die belangrikheid uitlig om God se Woord te ken. Indien ons nie sy Woord ken nie, sal die duiwel maklik ‘n vastrapplek in ons lewens kry om ons te mislei met allerhande halwe-waarhede wat op die oog af nie verkeerd lyk nie. Maak dus tyd om nie net gereeld Bybel te lees nie, maar om God te soek in sy Woord, want Hy beloof vir ons dat ons Hom sal soek en sal vind, as ons Hom soek met ons hele hart. Moet dus nie net uit gewoonte Bybel lees nie, maar leer God ken uit sy Woord. Sodoende sal u beter kan onderskei tussen die fluitsterstem van die Heilige Gees en die stem van die versoeker wat hom soms voordoen as ‘n engel van die lig. Soek in alles eers die wil van God in u lewe om sodoende een van die kosbaarste offers aan Hom te bring, nl. gehoorsaamheid. Sodoende sal ons die aanslae van die versoeker kan afweer totdat hy ons laat staan, aangesien hy besef dat ons toegewyd is in diens aan Hom en Hom alleen wil aanbid en dien.
Mag Hy ons bewaar teen die aanslae van die versoeker, maar wanneer ons versoek word, ons ook die krag gee om elke versoeking wat na ons kant toe kom, te weerstaan soos wat ons Meester vir ons die voorbeeld gestel het. Dit sal ons slegs kan doen, as ons ons eie wil ondergeskik stel aan sy Wil. Laasgenoemde sal ons ook net kan doen indien ons Hom waarlik ken, want dan eers sal ek weet wat sy Wil vir my lewe is.