Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Vader, ek vra omverskoning dat ek nog nie geleer het om U volkome te vertrou nie. Leer my asseblief om al my vrese na U te bring en hulle daar by U te los met die vaste wete dat U sal sorg. Amen.
VERTROU HOM VOLKOME!
Hannes Ollewagen
Spreuke 3:1 – 35
Eers wil ek ‘n paar verse uit 1 Konings 4:29-31 as agtergrondkennis van die skrywer van Spreuke aanhaal: “EN God het aan Salomo wysheid gegee en ‘n baie groot verstand en ‘n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê, sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte. Ja, hy was wyser as al die mense, as Etan, die Esrahiet, en Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Mahol, sodat hy beroemd was onder al die nasies rondom.”
Wanneer ons van Salomo in bogenoemde gedeelte lees, is dit die beskrywing van ‘n waarlik wonderbaarlike mens en kan ons verstaan waarom hy so goed oor sy land kon regeer – daar sou geen probleem te moeilik vir hom wees om te verstaan nie!
Dit is bewonderingswaardig, en moet ons ook tot dankbaarheid oorhaal, aangesien die God wat vir Salomo met al hierdie wysheid geseën het, dit nie saam met hom verlore laat gaan het die dag toe hy sy laaste asem uitgeblaas het nie. Die boek Spreuke bevat soveel riglyne van God wat Hy vir mense gegee het om hul lewenspad op aarde te vergemaklik. Hy bewaar dit nie net deur al die eeue vir ons nie, maar dit is ook vir ons vryelik in ons eie taal beskikbaar!Niks in die lewe is verniet nie, is 'n bekende uitdrukking. Vir God se kinders egter ( m.a.w. diegene wat Hom as die enigte ware God van hemel en aarde aanvaar en bely en so ook vir Jesus Christus, sy Enige-gebore Seun deur wie ons verlos is van ons sondes) is die lewe gratis. God se genade is vir hulle 'n geskenk. So is sy liefde, sy raad en leiding! Dit is dan ook nie tevergeefs dat ons Hom dien nie. Ons het van sy liefde vir ons bewus geword en besef daarom dat sy wette en verordeninge nie ingestel is om vir ons tot las te wees nie, maar om ons lewens hier op aarde te rig, soos wat Hy weet dit vir ons goed is. Waarom is dit dan tog só moeilik om dit na te volg?
In vers 5 lees ons hoedat Salomo skryf dat ons nie op ons eie insig moet steun nie, maar eerder op die HERE moet vertrou. Komende van die persoon wat in 1 Konings 4 beskryf word as “…en ‘n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê,…” is dit voorwaar raad ten goede. Daar was m.a.w. feitlik geen einde aan Salomo se wysheid nie en hy het besef dat selfs hierdie eindelose wysheid van hom, nie genoeg is om beter te weet as God nie! Hy was wys genoeg om te besef dat God die hoogste gesag in die heelal is en dat ons planne sonder Hom, niks meer as bloot planne sal bly nie, daarom dat hy ons ook in vers 6 raad gee wanneer hy sê dat ons God al ons planne moet ken in, wat dit dat vir ons tot uitvoer sal bring.
Male sonder tal sal ons probeer om dinge uit ons eie krag en vermoëns te doen, en male sonder tal sal ons misluk. Dit beteken nie dat ons die hele dag moet bid dat alles in ons lewens sal gebeur en dan net sit en wag daarvoor nie, allermins! Ons moet werk en bid, maar ons moet werk met die gesindheid van ‘n afhanklikheid van God vir sukses. Ons moet werk met ‘n gesindheid van ootmoed (nederige onderdanigheid aan Hom en sy wil vir my lewe), want hierdie gesindheid sal veroorsaak dat my hart hom in God sal verbly oor sukses, maar ek sal nie trots en hoogmoedig raak nie, aangesien ek weet dat Hy my weë voorspoedig maak. Hierdie gesindheid sal ook tot gevolg hê dat ek my mislukkings en teleurstellings met waardigheid sal hanteer, aangesien ek daarin kan berus dat ek gedoen het wat menslik moontlik was terwyl ek God daarin geken het. Al het dinge nie uitgewerk het soos ek beplan het nie, sal ek berus by die feit dat God ‘n ander doel op daardie stadium vir my het. Ek vertrou mos met my hele hart op Hom, nie op my eie insig nie - m.a.w. ek dink nie ek weet beter as Hy nie.
In vers 11&12 leer ons ook van hierdie wyse Salomo dat ons die swaar- en seerkry van die lewe nie altyd as straf beskou moet word nie maar ons moet nie vir God kwaad word wanneer ons getugtig word nie, want ons weet dat Hy diegene vir wie Hy lief is tugtig. Dit is meestal in moeilike tye dat God se woorde, wat ons andersins maar net lees en weer vergeet, diep in ons harte ingeslaan word. Hy weet dat ons sy beloftes, woorde en leiding nodig het, daarom dat Hy dit diep in ons inprent, al maak dit seer. Hierdie seer laat egter nie letsels soos die seer van sonde nie, maar voorkom menigmaal soveel groter hartseer en letsels in ons lewens.
Ons behandel feitlik net vyf versies van hierdie wonderlike boek in God se woord en dit sal ons ure lank kan besig hou wanneer ons dit ondersoek! Soos wat ‘n ouer baiemaal vir sy kinders in sy testament kosbare besittings nalaat wat hulle ‘n groot hupstoot of voorsprong in die lewe kan gee, het elkeen van ons hierdie kosbare besitting ook van ons Vader gekry, gratis! Soos daar soveel kinders is wat ongelukkig nie waardering het vir wat hul ouers met soveel liefde, opoffering en harde werk bymekaargemaak het nie, is daar soveel mense wat ook nie meer waardering het vir die kosbare skat wat God vir ons, in ons eie taal, behoue laat bly het nie en stel nie eers meer belang om dit te ondersoek nie, wat nog te sê van die raad daarin na te volg.
Indien jy egter die kosbaarheid van God se Woord besef en dit koester, moenie daarmee ophou nie. Al voel dit soms asof ons nie slim genoeg is om alles in die Bybel te verstaan nie, onthou dan net God se verborgenheid is met die opregtes! (Vers32). In ander woorde, Hy open die verstand van sy getroue kinders sodat hulle insig bekom wat selfs vir die wysste van die verlorenes verborge sal bly.
Vertrou op die HERE met jou hele hart, ken Hom in al jou weë, leef opreg voor Hom en leef in ootmoed voor Hom - dan jy sal genade van Hom verkry!