Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Beskou diens aan ander as die huur wat ons vir ons kamer op aarde betaal. Hou jou besig met dinge wat langer as jou lewe sal duur.
LUISTER ONS?
...OF IS ONS ONGEHOORSAAM?
Hannes Ollewagen
Gen. 3:1-24
Vers 1: “MAAR die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”
In hierdie gedeelte wat nog maar aan die begin van die Evangelie geskryf is, sien ons hoedat soveel dinge op aarde verander het, tog het soveel dinge dieselfde gebly. In vers 1 lees ons hoedat die duiwel die waarheid verdraai om ‘n leuen te vorm waardeur die mens tot twyfel gebring word in sy Skepper. Die slang begin twyfel saai by Eva en dit oorreed haar om op die einde van die dag God se verordeninge en insettinge te betwyfel en self te beproef.
Ons leef eeue later in ‘n samelewing waarin dinge daagliks verander, maar steeds gebruik die duiwel hierdie beproefde, dog suksesvolle, tegniek om die mens van God te vervreem. Die Satan gebruik selfs dwaalleraars in “kerke” om leuens vanaf die kansel te verkondig onder die dekmantel van “godsdiens” om sodoende mense van God af weg te rokkel.
Ons moet nooit die Satan onderskat nie, maar ons moet uit die Woord en die geskiedenis leer hoe hy te werk gaan juis sodat ons meer op ons hoede teen sy aanslae kan wees. Ons leer uit die geskiedenis, die Woord en selfs uit die gelese gedeelte dat die nalatenskap van Satan se raad bedorwenheid, hartseer en teëspoed is. God het juis sy wette en verordeninge vir ons gegee sodat daar orde, regverdigheid, eerlikheid, liefde en respek tussen ons as mense sal wees. Laasgenoemde is alles eienskappe wat ons van ander verwag, maar nie altyd self nastreef nie. Hierdie is dan alles ook eienskappe wat voorvereistes is vir ‘n gelukkig samelewing waarin mense in harmonie met mekaar kan leef.Ons sien in gesinne se lewens wat die oorsaak is van mense wat kies om God ongehoorsaam te wees en na die Satan se leuens te luister wanneer gesinne uitmekaar geskeur word deur egskeidings, hoerery, drankmisbruik, ens. en die hartseer en ellende wat dit tot gevolg het. Ons het gesien wat die gevolge vir Adam&Eva (en die nageslagte daarna), vir Saul, Eli (‘n profeet), Dawid en hoevele ander mense in die Bybel was wat gekies het om nie na God se raad te luister nie. Ons het gesien wat die gevolge vir ons volk en ons land was omdat die meerderheid mense hul gesteur het aan die leuens van die Satan en te kies om onder die “juk” van ‘n grondwet uit te kom waarin God-Drie-enig as die hoogste gesag erken word sodat hierdie grondwet kon plek maak vir ‘n humanistiese grondwet waarin die mens die sentrale rol speel en nie God nie. Klink dit nie baie ooreenstemmend met die leuen wat die Satan aan die vrou in die Paradys voorgehou het nie? Wanneer julle onder die juk van gehoorsaamheid aan God uitkom, kan julle baie meer bereik en tot hoër hoogtes gaan as wanneer julle onder God se gesag moet leef? A.g.v. die sonde in die Paradys moes die mens sy skuld vir sy ongehoorsaamheid aan God dra, maar sy nageslagte sou ook daaronder ly. In ons land moet ons as volk die straf van ons ongehoorsaamheid en afvalligheid van God dra omdat ons aan Hom ongehoorsaam was.
Die mens kom telkens voor die keuse te staan of hy God wil erken as die enigste, ware, lewende God van hemel en aarde en hoogste gesag in die heelal. Ook of hy homself daaraan wil onderwerp omdat hy besef dat dit ‘n voorreg is om Hom te mag dien. Andersyds kan die mens kies om sy lewe daaraan te wy om onder God se gesag te probeer uitkom om sodoende sy eie heil te probeer uitwerk soos wat die Satan dit aan jou voorhou. Wees verseker dat wanneer jy laasgenoemde kies, die uiteinde vir jou nie anders sal wees as vir die eindelose voorbeelde in die verlede wat as bewys gedien het dat God waarlik bestaan en heerser is oor alles nie! Hierdie bewyse vloei van die skepping af deur die sondeval, die toring van Babel, regdeur die hele Woord tot in die hede, en steeds leer mense nie.
Ons moet daarteen waak om nie soos Adam en Eva dan ook die skuld vir ons verkeerde keuses op ander te probeer laai nie. Ons is baie keer geneig om die huidige strafgerig van ons volk op die “ja-stemmers”, verraaiers, ens. te laai, maar ons laat na om voor ons eie deur te vee en selfondersoek in te stel. In hoeveel van ons eie huise ontbreek die huisaltaar nie, omdat ons nie net 15 minute per dag wil afstaan om voor God stil te raak as ‘n huisgesin nie? Ek bedoel, laasgenoemde gaan immers inbraak maak op ons afspraak met die TV waar ek verder deur die Satan gebreinspoel word deur skadelike programme. Ek stel boonop my kinders daaraan bloot sonder om eers skuldig te voel daaroor. Nie een van ons, hoe hard ons ookal probeer, staan onskuldig voor God oor die huidige strafgerig waarin ons verkeer nie. Ons staan egter weer voor ‘n keuse – of ons die skuld gedurig op ander wil plaas en of ons hand in eie boesem wil steek om ons eie lewens in orde te kry en ons eie harte voor Hom rein te maak.
God het nie vir Adam en Eva gelos om te vergaan omdat hulle aan Hom ongehoorsaam was nie. Hy is ‘n God van liefde wat die sonde en ongehoorsaamheid straf, maar sy goedertierenheid strek tot in duisende geslagte vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. Hy sal ons ook kom opsoek en ons sal ook soos Adam en Eva skaam kry oor ons ongeregtighede en dan ook met goeie reg! Adam en Eva kon nie hul ongeregtighede vir Hom wegsteek nie en so kan ons ook nie. Ons moet egter nie sy roepstem ignoreer nie, want dit is nie te laat om ons hoofde in skaamte voor Hom te laat sak en ons knieë in nederigheid voor Hom te buig om te smeek dat Hy ons in genade sal aansien nie. Ons kan Hom smeek om ons te reinig van ons ongeregtighede en om die harte van klip uit ons binneste te neem en vir ons harte van vlees te gee!
Ons kan kies om in nederige onderdanigheid ‘n lewe van ootmoed voor Hom te leef waarin ons aanvaar dat Hy toegelaat het dat ons as ‘n volk in die huidige strafgerig beland. Laasgenoemde egter nie omdat Hy dit so verkies nie, maar weens ons eie ongeregtighede! Hy wil ons hieruit verlos, maar ons kan nie langer vir Hom wegkruip nie! Ons moet antwoord op sy roepstem, want dan kan ons vrygemaak word van die sonde wat ons verkneg. Ons is immers ‘n volk wat op aarde geplaas is om tot sy eer te leef en sou dit ons strewe wees, sal ons Hom met vrymoedigheid kan aanroep en sy verlossing verwag. Soos wat Hy dan ook sy barmhartigheid aan Adam en Eva bewys het deur vir hulle klere te maak en aan te trek (vers 21) nadat hulle hul straf ontvang het, so sal Hy ook ons neergeslane en verpletterde volk met krag omgord om op te staan uit ons moedeloosheid en daarna uit te sien om te leef tot sy eer, want dit is ons roeping!
Psalm 100:3: “Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.”