Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die leuen sit by mense in die bloed, van die grootste meneer tot die kleinste kind wat met 'n leuentjie tuiskom. Dit het blykbaar burgerreg verkry. Maar soos Langenhoven gewaarsku het: 'n man wat sy toevlug tot 'n leuen neem, vind dikwels uit dat hy in 'n huis gaan skuil wat nie 'n agterdeur het nie...
OFFER VAN DANKBAARHEID
WANNEER HY KOM
Hannes Ollewagen
Lukas 19:29-44
Vers 44 "…omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie."
In hierdie gedeelte lees ons hoedat die Seun van God, die Koning van alle konings, Jerusalem op die rug van ‘n esel besoek. Hierdie nederige handeling van ons Meester wat vir ons as voorbeeld moet dien, het egter tot gevolg gehad dat sommige hulle nie eers aan sy besoek gesteur het nie aangesien Hy nie met ‘n roemryke en wêreld-aanskoulike optog Jerusalem binngegaan het nie.
Gebeur dit nie dikwels dat God ook ons besoek of met ons praat nie? Maar omdat dit op ‘n manier gebeur wat ons nie verwag nie, sien of hoor ons Hom nie? Dít laat ‘n mens aan die gelykenis in Matthéüs 25 dink (vers 40):
“En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”
Onthou ons nog dat die mens die kroon van God se skepping is en dat ons aan ons hemelse Vader offers van dankbaarheid kan bring deur aan ons broeders in Christus goed te doen met die gesindheid asof ons dit vir/aan Hom doen?
Dit gebeur so dikwels dat ons deur ander ontmoedig word om goed aan ons medemens te doen. Mense wat nie hulle pad met God stap nie misbruik so maklik ons goedheid. Dit maak ons seer en stel ons so teleur dat ons onsself van mense wil onttrek. Maar ons moet dit nie toelaat nie want dit is dan juis ons doel hier op aarde: om ons lig in 'n donker wêreld vol sonde te laat skyn.Ek behoort my wel te weerhou van die geselskap van goddelose mense en my eerder by mense te skaar wat ook ons Verlosser hartstogtelik liefhet. Dit is aan hierdie mense wat ek diensbaar moet wees asof aan Christus, want sodoende sal ons in eensgesindheid as verskillende lede van die liggaam, mekaar en ook ons Meester, as ‘n geheel oftewel ‘n gesonde liggaam, kan dien.
Ons lees in vers 35 en 36 hoedat Christus se volgelinge hul boklere uitgetrek en dit op die rug van die esel gelê het sodat Jesus daarop kon sit, terwyl ander van hul klere op die pad voor Hom oopgegooi het. Hierdie is mos ‘n gebaar van onderdanigheid aan Hom - om dít wat jy besit, Hom aan te bied en Hom te volg. Daardie dissipels het hierdie pragtige gesindheid gehad omdat hulle geweet het Hy het Homself vir elkeen van hulle aan die kruis geoffer . Daarby het hulle besef dat Hy die Enigste Persoon is wat dit waardig was om die mensdom van sy sondeskuld te red.
Vandag nog is ons veronderstel om God met hierdie gesindheid van onderdanigheid en dankbaarheid te dien aangesien ons weet dat Hy alreeds vir ons die offer ter versoening van ons sondes gebring het. Ons is dus die offer van dankbaarheid aan God verskuldig. Dit beteken om bereid te wees om alles wat ons besit voor Hom neer te lê tot eer van sy Naam, en met woord en daad ons dankbaarheid uit te leef tot getuienis vir ander wat Hom nog nie ken nie.
Wanneer ons Verlosser vandag sy Aangesig na ons volk rig en ons besoek soos Hy ook Jerusalem onverwag besoek het, wat sal Hy vind? Sal Hy ‘n volk aantref wat nog trots is om Syne te wees? 'n Volk wat hulself in nederige diensbaarheid aan Hom onderwerp tot eer van sy Naam? Sal Hy ‘n volk aantref wat met blydskap en afwagting op sy Verlossing wag? ‘n Volk wat bereid sal wees om alles vir die stryd en die behoud van die ware Christelike geloof te offer? Ons wat met ons ryke geskiedenis van bloedoffers en Geloftes onlosmaaklik aan Hom verbind is! Is ons nog ‘n volk wat vir ons Christelike behoud stry, vir ons beginsels, ons taal, kultuur, ons geloof en die voorreg om as God se volk te mag bestaan?
Of sal ons, wanneer Hy vandag onverwags kom, dalk in skaamte moet erken dat ons ter wille van die wêreld self beginselloos geword het? Het ons ter wille van sport, geld, politieke korrektheid, sosiale aanvaarbaarheid en watter ander euwel ookal selfs die begeerlikhede van die wêreld geniet en ons daarin verlustig? Durf ons dan kla oor die toestand van ons land en ons volk terwyl daar ongeêrg meedoen word? Ons dink heeltyd verskonings uit om ons afvalligheid van God te regverdigheid, in plaas daarvan om te erken dat dit verkeerd is en daarteen te stry. Hy sal dalk, tot diepe teleurstelling, ‘n volk vind wat besig is om dieselfde te doen as wat die Jode met Christus gedoen het, nl. om die HERE se oproep tot bekering te ignoreer en Hom (hoewel nie fisies nie) daagliks te kruisig met ‘n lewe wat Hom geensins tot eer strek nie!
Ons moet die HERE se waarskuwing onthou:
“Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.” (Matthéüs 21:43).
Alhoewel ons elkeen weet dat die omstandighede in bogenoemde ook van ons volk waar is, moet dit ons egter nie tot moedeloosheid stem nie want ons aanbid ‘n liefdevolle God. En ter wille van die eer van sy Naam sal Hy vir Homself ‘n oorblyfself afsonder wat sal besef dat Hy ons enigste Verlosser is. ‘n Klein oorblyfsel wat sal weet dat ons stryd hier in ons vaderland nie maar net ‘n politieke stryd is nie, maar veral ‘n stryd vir ons geloof - ‘n oorblyfsel wat hul heil by Hom sal soek, wat hul sal toespits daarop om die verkeerde in hul lewens te laat staan, hulself in nederige onderdanigheid aan Hom te onderwerp, Hom as Verlosser lief te hê en aan sy koninkryk op aarde te werk volgens die voorbeeld wat Hy vir ons gestel het.
‘n Klein oorblyfsel, DEUR SY GENADE ALLEEN, wat die gunstige tyd wanneer God ons besoek, wel nie ongemerk sal laat verbygaan nie en sodoende die heil van ons God weereens mag aanskou wanneer ons van ‘n goddelose en bose regering asook van ons eie ongeregtighede verlos word om weer te mag LEEF as ‘n volk tot sy eer – ‘n Godsvolk waardeur Hy sy Naam kan verheerlik!
As bewys van ons liefde aan Hom, is ons verplig om ons verantwoordelikheid in dié stryd na te kom en ons offer van dankbaarheid elke dag aan Hom te bring.