Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is twee duidelike groepe mense in hierdie wêreld: dié wat die werk in hierdie wêreld doen, en dan is daar dié wat die krediet daarvoor neem. Dit is egter beter om in die erste groep te val want dáár is baie minder kompetisie.
MAAR WAT SAL ONS DOEN?
Hannes Ollewagen
Jeremia 5:1-31
“Hulle het die HERE verloën en gesê: Dit is nie Hy nie; en geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie;” (Vers 12).
Sou ons nie die Afrikaner met die volk Israel in hierdie gedeelte kan vergelyk nie? Die Afrikaner het ook sy God verloën deur af te wyk en weg te doen met ‘n Godsvresende grondwet om plek te maak vir ‘n humistiese een. Boonop het menige dan ook gereken dat die onheil a.g.v. hierdie skandelike daad nie oor ons sou kom nie en ons die hongersnood nie sou sien nie. Inteendeel, die volk is juis mislei met die leuen dat laasgenoemde oor ons sou kom indien ons nie ons Godsvresende grondwet opsy skuif vir ‘n kommunistiese en humanistiese een nie. M.a.w. vergeet van die vrees vir God en dink aan aardse belang en gemak!
Vandag wil ons verdwaas vra waarom vreemdelinge met ‘n totale onbevoegdheid dan oor ons heers?
Is die waarskuwing nie vir ons glashelder in vers 15 nie?
“Kyk, Ek bring oor julle ‘n nasie van ver af, o huis van Israel, spreek die HERE; ‘n eeue-oue nasie is dit, ‘n nasie van ouds af, ‘n nasie waarvan jy die taal nie ken en jy nie verstaan wat hulle praat nie.”
Let baie mooi daarop dat dit God Self is wat laasgenoemde doen as ‘n STRAF op sy volk se troueloosheid en dat dit nie die teenstaander is wat so gedug was en daarom God se volk kon onderwerp nie. Niks sal op hierdie aarde gebeur sonder dat dit sy Wil is nie en geen mag sal oor ons heers sonder dat Hy dit toelaat nie. Hierdie mag wat oor ons as ‘n strafgerig gebring is, is voorwaar besig om die woorde in vers 17 letterlik op ons te laat neerkom:
- “Hulle sal jou oes en jou brood opeet,…” – Ons word belas op elke denkbare wyse sodat die opbrengs van ons hande in die staatskas beland en aan diegene uitgedeel word wat nie daarvoor gewerk het nie;
- “…hulle sal jou seuns en jou dogters opeet,…” – hoeveel kinders word nie universiteitstoelating en ander geleenthede in die samelewing geweier met die verskoning van “regstellende aksie” nie?
- “…hulle sal jou kleinvee en jou beeste opeet, hulle sal jou wingerdstok en jou vyeboom opeet,…” – hier is vir ons ‘n duidelike waarskuwing oor waar die nuwe onteieningswet van landbougrond sal eindig;
- “…hulle sal jou versterkte stede waar jy op vertrou, met die swaard verwoes.” – ons hoef maar net in die land rond te beweeg en die koerantopskrifte te lees om te sien hoe ons dorpe en stede agteruitgaan en verwoes en geplunder word a.g.v. misdaad en stakings.
Steeds sal ons, soos die volk Israel, die fout nie by onsself vind nie. Ons sal bly vra hoe God al hierdie dinge oor ons kan laat kom – hoe kan Hy, ‘n God van liefde, dit toelaat? Die antwoord is egter duidelik: dit is ons wat Hóm verlaat het en Hom nie meer vrees nie! Dit is óns wat nie wil luister na sy Stem om Hom met opregtheid en in waarheid te dien nie! Selfs die grote oseaan met al sy krag is gehoorsaam aan die grense wat God daarvoor gestel het, maar hierdie volk se hart is te wederstrewig om te luister! (Verse 19 – 24). Daar was diegene in ons volk wat ter wille van finansiële rykdom die volk weg van God mislei het, en daar is steeds die opportuniste wat uitsluitlik vir finansiële gewin ons volk se ellendige toestand misbruik. (Verse 26 – 28).
Wat sekerlik die mees klaaglike toestand is, is ons mense wat in kerke sit om in die gehoor gestreel te word en nie om na die waarheid te soek nie. Hulle word mislei, maar verkies om na hierdie misleiding te luister want die waarheid sal hul noodsaak om opofferings te maak, die eie-ek prys te gee en die realiteit in die gesig te staar - en dit wil ons nie doen nie. Ons sal nie die humanistiese streep in ons prysgee om God te dien nie, want dit is mos baie lekker as Hy óns dien! Sou hierdie ontsettend afskuwelike toestand nie deur Hom gewreek word nie?
Elke behoudende nasionalis en Godsvresende mens sal die antwoord op bogenoemde retoriese vraag ken. Die vraag wat elkeen wat hierdie antwoord ken hom-/haarself moet afvra is egter die woorde in vers 31 van hierdie gedeelte: “…Maar wat sal julle doen aan die einde hiervan?”
Jeremia 6:16: “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. …”