Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Mens sonder humor is soos ‘n motor sonder vere. Elke hobbel in die pad stamp dit rond.
GEESTELIKE SOENOFFERS
Hannes Ollewagen
1 Petrus 2:1-10
Vers 5: “...en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.”
Om 'n jong volk met ‘n baie ryk geskiedenis te wees het ons een van die mees trotse volke in die wêreld gemaak ten spyte van die feit dat ons so ‘n geringe volkie is. In getallewig het ons nog nooit swaar geweeg nie, maar ons karakter het menigmaal kop en skouers bo ander volke uitgestaan - ‘n karakter wat ‘n mens net kan ontwikkel wanneer jy waarlik in die lewende God van hemel en aarde glo; ‘n karakter wat kenmerkend is aan ‘n doelgerigte volk – ‘n volk met duidelike riglyne, ‘n volk met onveranderlike riglyne, ‘n volk met ‘n onveranderlike en onsterflike, ewige, almagtige God en Koning as Leidsman.
Ons volk se Godsvrees het ons laat ry oor die hoogtes van die aarde wat ‘n mens laat dink jy droom wanneer jy van die prestasies en voorspoed in ons geskiedenis lees.
Daar is die wonderwerke van klein groepies burgers wat getalle-oormagte telkens verslaan het in oorloë; vroue, manne en families wat in die moeilikste omstandighede moes leef, vlug en veg en in hierdie tye steeds vir mekaar lief was, trou gebly het aan mekaar en aan hul God. Hier aan die suidpunt van Afrika is ‘n volk geplant wat vroeër geen volk was nie en as wonderbare lig vir Hom geroep is. Deur groot barmhartigheid is hierdie volk nie net hier geplant nie maar ook uit talle doodsgevare gered. ‘n Volk wat sy Hand as so ‘n werklikheid in hul lewens ervaar het, dat hul selfs plegtig beloof het om vir Hom ‘n volk te wees. Verse 9&10:“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”
Ons is ‘n volk wat in 1961 in sy grondwet OPENLIK VERKLAAR het dat God die hoogste gesag in die hemel en op aarde is en dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor Hom en teenoor mekaar het om te leef volgens sy welbehae. Ons het openhartig erken dat ons ‘n volk met ‘n roeping is en wat dit doelgerig moet nastreef.
Met hierdie erkenning en verering van God het ons natuurlik onsself die argwaan van die bose magte op die hals hehaal. Die bose het nie getalm om ons geestelik te begin teister met aanvalle op feitlike elke lewensterrein nie. Die aanslae en doel was duidelik – vervreem hierdie volk van sy God, want daarin lê die vyand se krag. As hierdie trotse volkie sy Bron van Krag vergeet en verlaat, sal hy soos ‘n Simson wees wie se hare afgeskeer is – hy sal ‘n spot en ‘n belagging vir die goddelose word. . . Die huisaltaar is vervang met die duiwelsdoos. Ons kinders word nie meer opgevoed in die weë van die Here nie maar eerder afgerig om die beste sportster te word of om te kyk hoe gewild hulle onder die maats kan wees, selfs al is dit ten koste van beginsels en sedes wat in God se onfeilbare Woord vir hul neergelê word. Dit veroorsaak verwarring, identiteitskrisisse, hartseer, woede, frustrasie, want die enigste STANDVASTIGE EN ONVERANDERLIKE riglyn in die kind se lewe word as ‘n bysaak beskou - die Boek vol wette wat ek so nou en dan lees om my gewete te sus. Ons sit met ‘n jeug, nee ‘n volk, wat nie weet waartoe hy instaat is nie omdat hy nie die krag van sy God ken nie. Hy ken dikwels nie eers meer sy God nie. . .
Lendelam geslaan, spook en spartel ons om kop bo water te probeer hou. Die dwingelandy word al hoe swaarder, ons jaag al meer na ‘n gejaag na wind, ons werk al hoe harder en kom al hoe later by die huis, ons skeep ons kinders se opvoeding al meer af en leer hul al minder van God en dan kla ons wanneer hierdie versuim vir ons smart en ellende veroorsaak! Ons het al minder tyd vir Hom en raak al meer van Hom vervreemd en sodoende al meer neerslagtig en afgemat, want ons vergeet Wie ons Bron van krag is. Dit raak al moeiliker om ons God in ons eie vaderland te dien. En die uiteinde van ons toestand is presies wat die bose vir ons beplan het.
Die vraag is: hoe lank sal ons elkeen so voortgaan om net sy eie klein koninkrykie te bou en te beskerm? Wanneer sal ons na Hom terugkeer? Jesaja 30:15:
”Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie”.
As ons hierdie riglyn volg, sal ons weer besef dat ons nie magteloos hoef te sit en toekyk hoe alles rondom ons vergaan nie. Ons hoef nie passief te kyk hoe ‘n volk van die aardbodem af uitgedelg word nie. Ons sal elkeen by homself begin om te doen wat ons kan – ons sal terugkeer na God en besef dat elke gelowige kind van God 'n daaglikse plig het wat ons versuim. Voor ons weer huigelagtig kla oor ons ellende en uitroep, “Ja, maar wat moet ons doen?”, wag dan op Hom, ja! Jesaja 62:6-7:
”…o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!”
Begin dus u verantwoordelikhede nakom in die stryd vir die behoud van ons volk en die stryd om dit weer maklik en ‘n vreugde te maak vir mense om God te dien. Die verantwoordelikhede in u eie huis:
- BID en smeek God om ons genadig te wees en herinner Hom aan sy beloftes insy Woord;
- Maak tyd vir intensiewe Skrifstudie en leer ken God opnuut en opreg deur sy Woord;
- Stel die huisaltaar in u huis as ‘n standvastige verordening in want sodoende lê u ‘n stewige grondslag vir die toekomstige geslagte wat moet deelneem in die stryd;
- Wees lief vir God en vir u medemens en probeer om Hom te behaag met u lewenswandel! Ons mag dalk op menige wyse verbied word om te sê wat ons wil, maar niemand kan ons keer om dit te leef nie, laasgenoemde wat BAIE HARDER sal uitbasuin as ons woorde!
- Bemoedig ons volksgenote en medegelowiges in Christus. Wees ‘n voorbeeld vir ander en motiveer hulle sodoende om aan ons Vader gehoorsaam te wees.
Deur ‘n lewe te leef wat Hom welbehaaglik is, kan ons soenoffers bring vir ons ongeregtighede naamlik sedeloosheid, goddeloosheid, afvalligheid, gierigheid, leuentaal, hoogmoedigheid, afguns en dergelike handelswyse wat in ons volk te bespeur is die afgelope paar dekades - karaktertrekke wat nie pas by ‘n volk wat doelgerig streef om te leef as sy volk nie maar eerder pas by ‘n volk wat doelloos en sonder rigting deur die lewe meegesleur word.
Indien ons dit opreg doen sal ons geestelike offers aanneemlik voor God se aangesig wees sodat Hy Hom weer na ons sal wend en ons opbou as lewende stene tot ‘n geestelike huis waar sy Naam verheerlik sal word. Is dit nie wat ons volk in 1838 beloof het om te doen nie? Dat ons ‘n huis sal oprig tot eer van sy Naam?
Sonder Hom sal ons nie in ons doel slaag nie want dan sal dit ‘n strewe na menslike ambisies bly, maar wanneer ons oog op Hom gevestig is kan ons doelgerig volg waarheen Hy lei. Laat ons dan vandag nog hierdie soenoffers in werking stel!