Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou bekommernisse reeds by God afgelaai het, maak tog seker dat jy hulle nie dalk die volgende dag weer gaan oplaai nie – ons doen dit tog so graag, en dit is 'n blyk van liggelowigheid.
TERUG NA ONS VADER!
Hannes Ollewagen
Lukas 15:11-32
In hierdie baie bekende gelykenis lees ons hoedat die jongste seun in die gelykenis nie die waarde van sy vaderhuis besef nie en in eiesinnigheid daarvan wegbreek om agter die oënskoulike geluk van die wêreld aan te dwaal.
Ons lees in vers 13 dat hierdie seun sy besittings in losbandigheid deurgebring het en dit moes seker vir almal gelyk het asof hy die mees sorgvrye en begeerlike lewe leef waarvan enige mens kan droom. Om hierdie rede het hy ook baie “vriende” gehad wat hom gehelp het om sy besittings te verkwis maar toe hierdie kortstondige geluk van losbandigheid tot ‘n einde kom, bevind die seun homself stoksielalleen in sy ellende. Almal wat hom oor die afgrond gehelp het, het hom alleen gelaat en nou moes hy self sy weg uit sy ellende probeer vind.
Hierdie modus operandi van die satan werk nog deur al die eeue soos ‘n bom om die gelowige in God ook van sy Vader te vervreem. ‘n Lewe van oënskoulike genot en sorgvrye bestaan lok die mens na dwaalweë waar hy homself begeef in dinge wat skeiding bring tussen hom en sy hemelse Vader. Kort voor lank bevind jy jouself in ellende en hartseer en is dit tyd om te besin oor waarheen jy nou moet gaan.
So groot was die verleiding van die satan op die Christendom in ons eie land dat hy in die afgelope eeu uitstekend in sy doel geslaag het om ons as feitlik hele Afrikanervolk weg te rokkel van ons God af. Agter die oënskoulike genot wat geld, sport, vermaak en ander sinlike dinge vir ons inhou, het die satan ons as ‘n volk wat deur ‘n Gelofte aan ons God en Vader verbind is, weggerokkel na ‘n verlore erfenis binne ons eie vaderland. Ons is vreemdelinge in ons eie land en daarom kyk ons verward rond en dwaal soos verlore skape rond op soek na rigting. Ons dink terug aan die goeie tye waarin veiligheid, vrede en voorspoed bykans as vanselfsprekend aanvaar is. Hoe lank sal dit neem voordat ons ten minste weer tot onsself kom, soos die verlore seun in vers 17? “Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!” Hoe lank sal dit ons neem om ons volkssondes te bely? Waarom soek ons ons geluk by nietige afgode en ons heil by mense wat ons keer op keer in die steek laat? Ons het ‘n God – laat ons na Hom terugkeer!
Wanneer sal ons opstaan en na ons Vader gaan en vir Hom sê: “Vader, ons het gesondig voor U, wees ons asseblief barmhartig na die grootheid van U goedertierenheid en herstel ons as ‘n volk om tot U eer te leef, want ons is te swak en sondig om dit self te kan bewerkstelling”? Ons wag vir daardie groot leier om ons op te roep om dit te doen, maar is nòg te blind om EIE VERANTWOORDELIKHEID te besef, nòg te laks om opnuut voor God stil te raak en die huisaltaar in ons huise in ere te herstel – daar waar ons kan bid tot ons Vader om ons op die verkeerde in ons lewens te wys om dit voor Hom reg te stel; daar waar die huisaltaar waar ons kan bid om nie weer mislei te word deur mense wat hul eie motiewe het en nie waarlik ten doel het om ons volk op te rig en terug te lei na God nie. By die huisaltaar kan ons bid dat ons Hom, van wie ons vervreemd geraak het, opnuut sal leer ken. Daar kan ons ook bid vir die volksleier wat deur Hom aangewys sal word om ons volk terug te lei na Hom – en vir krag, wysheid, onderskraging, moed, opregtheid en gehoorsaamheid aan Hom alleen.
In die verhaal van die verlore seun het die vader nie diensknegte uitgestuur om die seun te gaan haal nie. Die seun het besef dat hy verkeerd gehandel het en opgestaan en na sy vader gegaan. Indien ons nie in die omstandighede rondom ons kan sien dat alles inmekaar tuimel en dit net ‘n kwessie van tyd is voordat ons elkeen se eie klein koninkrykie wat ons uit selfsugtigheid besig hou ook onder skoot gaan kom nie, sal ons ook nie kan insien dat ons ‘n barmhartige Vader het wat uitsien na ons terugkeer na Hom nie. Ek sal myself nie die reg aanmatig om te sê dat Hy met ope arms staan en wag om ons te omhels nie, want ons sal met ‘n baie geboë hoof na Hom moet terugkeer weens die grootheid van ons ongeregtighede, maar ons kan elkeen in ons eie huis die besluit neem om VANDAG op te staan en terug te keer na ons Vaderhuis waarvan ons vervreemd geraak het.
Daar is natuurlik menige onder ons wat sou reken dat ons deur die dekades nooit weggedwaal het nie, maar deurgaans probeer waarsku het dat menige ander volksgenote besig is om te dwaal. Dit mag dalk ook waar wees maar dan moet ons ook iets leer uit verse 31&32 van hierdie gedeelte: “Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.”
Die enigste uitweg úit ons verdwaalde toestand in ons vaderland is vir ons, elke individu en ook vir ons as ‘n volk, is om die Padkaart van ons lewe, die Woord van God, te volg – terug na jou geestelike Vaderhuis en jou God!