Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus is altyd by jou. Om só 'n Vriend te hê wat so naby jou is, gee jou rede om elke dag met 'n dankbare lag te takel.
LAAT HY ONS VERTROUE WEES
Hannes Ollewagen
Jeremia 17:1-18
Vers 7 van die gelese gedeelte lui “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.”
Een van die kernboodskappe wat regdeur die Woord van die Here aan elkeen gegee word is dat ‘n mens nooit jou vertroue op mense moet plaas nie, want mense stel teleur, mense verander, en selfs getroue en standvastige mense wat navolgingswaardig is, is verganklik. Wanneer hierdie goeie en standvastige leiers wegval, moet ‘n mens steeds na God vir leiding kan kyk.
Met ‘n vaste geloofsvertroue in God is ons volk gevestig hier aan die suidpunt van Afrika. As gevolg van ‘n vaste geloofsvertrou in en liefde vir God, het ons voorouers uit Europa na Suid-Afrika gevlug om hier in die wildernis na ‘n tuiste te kom soek. Met ‘n vaste geloofsvertroue het ons voorouers die binneland ingetrek, die wildernis onderwerp en ‘n beskawing gevestig waar ook hul nageslagte ons God kon dien en aanbid. Hierdie vaste geloofsvertroue het God se rykste seën oor ons gebied, soos wat Hy beloof. Ons was selfs geseën met Godsvresende volksleiers wat ons volk oor hoogtes laat beweeg het waarvan ons kwalik sou kon droom.
Ons het egter ons geloofsvertroue in God verloor en begin om op mense te vertrou vir ons heil, wat veroorsaak het dat ons nie kon sien nie toe hierdie Godsvresende leiers van ons volk vervang is deur Godloënende misleiers wat sy weë verlaat het agter wêreldse aanvaarding en dwaalweë van humanisme en eenwêreldstaatkunde aan. “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.”
Vandat ons vertroue in God begrawe is saam met ons Godsvresende leiers, het ons as volk ‘n vervloeking geword. Ons het minder regte in ons eie land as enige ander minderheidsgroep of selfs enige vreemdeling afkomstig uit die verste lande. Enige vorm van voorregte, gesag en eiendom word toenemend bedreig deur die skadu van vernietiging wat al nouer rondom ons trek. 'n Volk wat sy God nie ken nie, kan onmoontlik in sy weë wandel en kan Hom onmoontlik met sy toekoms vertrou. Daarom kan ons nie geseënd wees nie. Solank as wat ons ons vertroue op mense plaas, sal ons ‘n vervloeking en ‘n spot bly.
Ons maak die dagblaaie oop en sien hoe almal raas, skree en opgewonde raak oor ons land wat in duie stort, munisipaliteite wat tot niet gaan, korrupte staatsamptenary, xenofobie, moord op volksgenote, barbaristiese aanrandings en verkragtings – alles dinge wat enige beskaafde mens se siel sal grief. Dit is egter nie asof ons nie daarteen gewaarsku is nie. Bykans 100 jaar gelede het die stem van ‘n profeet hierdie waarskuwings laat hoor en tog het hierdie volk hom nie daaraan gesteur nie. Steeds het hierdie volk op 17 Maart 1992 in ‘n referendum gaan stem teen die Evangelie van Vrede wat ‘n beskaafde en gedissiplineerde regering gewaarborg het en bogenoemde gruwels sou teenstaan en beveg. Volksgenote was bevrees dat die internasionale wêreld ons sou versaak en dat ons “voorreg” van wêreldse aanvaarding en die oppervlakkige genietinge wat daarmee gepaardgaan, tot niet sou gaan! Ons het nie eers daaraan gedink dat ons die fontein van Lewende Water verlaat vir die wêreldse oppervlakkigheid nie. “o HERE, Verwagting van Israel! Almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.” (Vers 13).
Hoeveel volksgenote lees hierdie vermaninge, erken en beaam dit, maar selfondersoek en regstelling is daar nie. Steeds geniet hulle gemengde sport en versaak daarmee al hul beginsels. Steeds kyk hulle kinders na drakoniese televisieprogramme in plaas dat hul tyd inruim om die huisaltaar in te stel en hul kinders in die weë van die HERE te onderrig. Steeds kyk hul gelate toe hoe hulle kinders booshede in die skole geleer word. Ons sal eerder verskonings soek oor waarom ons maar so verdraagsaam teenoor die gruwels in ons midde moet wees as om ons knieë voor God te buig en met ‘n stukkende siel uit te skree om hulp: “Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.” (Vers 14).
Een ding is egter seker – u kan medevolksgenote en ander mense bedrieg met saampratery om polities korrek te probeer wees, om mense se guns te probeer soek of om mense te behaag, maar die HERE ken elkeen se hart. “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.” (Vers 10). Ons is gewaarsku dat hierdie groot onheil ons volk sou tref en noudat dit gebeur, kan diegene wie se harte trou is aan Hom hoop op verlossing in die wete dat Hy ons Verwagting is en dat ons heil by Hom alleen lê. Ons kan rustig en ywerig vir Hom voortwerk in die versekering van vers 8 van die gelese gedeelte: “Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.”
Dit is ongelooflik hoe ‘n mens in hierdie toestand van wanhoop wat ons volk beetpak, gereeld met mense in aanraking kom wat God bely as die hoogste gesag van hemel en aarde, maar wie se uitgangspunt is dat ons tot geweld sal moet oorgaan of ons tot selfbeskikking op ‘n eie grondgebied sal moet wend (beide waarin ons noodwendig ‘n mens sal moet vertrou vir leiding). Maar hierdie mense praat nie eers daaroor dat ons verlossing daarin lê dat ons met hart en siel na God terugkeer nie! Het hierdie volk dan so blind geraak? Handelinge 28:26-27: “…Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”
Dit is maklik om na bogenoemde teksvers te kyk en moedeloos te raak en te voel dat jy die enigste is wat God se weë nie verlaat het nie, nog probeer om reg te leef terwyl die meerderheid van die volk se oë gesluit bly. En waarom sou ‘n mens jouself dan só vermoei? Onthou dan dat God deur genade altyd vir Hom slegs ‘n klein oorblyfsel laat oorbly wie se oë betyds oopgaan om Hom te sien, voordat sy genadetyd vir altyd verby is. . .
Laat ons as kinders van God met ‘n vaste geloofsvertroue aanhou om vir Hom vrug te dra hier aan die suidpunt van Afrika, terwyl ons bid dat Hy, op sy tyd, vir ons ‘n diep Godsvresende leier sal stuur om ons terug te lei op die reguit pad – terug na Hom, ons Verwagting!