Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself – Prediker 10
NA BINNE EN NA BO!
Hannes Ollewagen
Deut. 10:10-22
“En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (:12-13).
Na binne en na Bo, Afrikaner!
Dit het haas tyd geword dat ons volk sal opkyk na die HERE ons God aan wie die hemel en die aarde behoort om sodoende moed te skep in die tye waarin ons leef. Wanneer die horisontale fokus op ons probleme verskuif na ‘n vertikale fokus op Hom wat ons te hulp kan kom met ons probleme, lyk ons probleme en struikelblokke sommer summier kleiner.
Die voorwaarde vir antwoorde op ons hulpgeroep na ons God wat ons nog ALTYD verhoor het omdat Hy ons nie in die verderf wil stort nie, word telkemale in hierdie gedeelte genoem. Ons moet die HERE ons God vrees, in sy weë wandel, Hom liefhê, Hom dien en sy insettinge en gebooie onderhou. Ons moet deeglik selfondersoek in ons lewens instel na dit wat nie in orde is nie en dit na God neem met opregte berou om sodoende die voorhuide van ons harte opnuut te besny om gehoorsaam aan Hom te wees.Ons voorouers was darem meer as sewentig siele sterk toe hulle vanuit Europa vir die behoud van hulle geloof na die suidpunt van Afrika uitgewyk het. Hulle was egter nie duisende in getalle nie en by Bloedrivier was ons volk maar weereens ‘n skamele 464 siele wat die Gelofte aan God afgelê het om vir Hom ‘n volk te wees sou Hy ons verlos. Hy het ons daardie dag die wonderbaarlike verlossing geskenk en ons daardeur aangeneem as sy volk en onderneem om vir ons ‘n God te wees. Deut. 26:18-19: "En die HERE het jou vandag laat verklaar dat jy vir Hom ‘n eiendomsvolk sal wees soos Hy jou beloof het, en dat jy al sy gebooie sal onderhou; en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad, en dat jy ‘n heilige volk aan die HERE jou God sal wees soos Hy beloof het.”
Ons het saam met die Gelofte om vir Hom ‘n volk te wees ook beloof om vir Hom ‘n huis te op te rig waar dit Hom behaag. Hier waar ons vandag staan is ons besig om klaaglik te misluk in hierdie onderneming en sien ons hoedat die huis(woonplek) aan die suidpunt van Afrika in puin lê terwyl die meeste van ons maar net te gemaklik vanaand voor die TV sit.
In plaas daarvan om indringend aan my verhoudig met my Vader te werk, sal ons ook eerder in strydvrae en nuttelose argumente rondom die waarhede van die Bybel betrokke raak. Is dit nie hartseer hoedat die geloof in menige Afrikanerharte ook maar in ‘n filosofie ontaard het wat gedurigdeur opsoek is om die waarhede van die Bybel uit elke moontlike rigting te benader nie? Dit sou ons dalk baie meer baat as ons sou ophou om die waarhede van die Woord van God te bevraagteken en begin om daarin te glo, dit te verdedig en volgens hierdie beginsels te leef om sodoende as lewende kinders van God vas te staan vir die evangelie van Jesus Christus. Ons kan op hierdie wyse opnuut leer om ons God lief te hê, sy gebooie te onderhou en sodoende weer die vrymoedigheid aanleer om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef.
Ons sal leer dat Hy vir ons ‘n Vader is wat ons liefhet en soms ook vir ons NEE sê tot ons beswil. Ons sal ons eerder in ootmoed aan God onderwerp wanneer ons NEE-antwoorde kry as om ons op te ruk en opstandig te raak teenoor Hom. Ons sal onthou en opnuut besef dat die lewe oor baie meer as net myself, my luukse lewenstyl en selfsugtige begeertes gaan. Ons sal opnuut besef en leer dat Jesus Christus hierdie aardbodem bewandel het en Homself ten volle geoffer het om ons geregtigheid te bewerk en sodoende sal ons leer om meer onselfsugtig te wees.
Mense wat leer om onselfsugtig te leef, is mense wat verdraagsaam kan leef. ‘n Volk wat onselfsugtig en in verdraagsaamheid teenoor mekaar kan leef, is ‘n volk wat mekaar se belange nastreef. ‘n Volk wat elkeen ook na sy broer se belange omsien en nie net na sy eie nie, beweeg naby daaraan om die tweede gebod van God na te kom en ‘n volk wat laasgenoemde doen uit liefde vir sy God, is ‘n volk wat die eerste gebod sodoende ook nakom. ‘n Volk wat die eerste twee gebooie van die Wet van God nakom, is ‘n volk wat oppad is na bo!