Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Want die HERE sal aan sy volk reg doen en medelye hê met sy knegte – Ps 135:14
DIE STRYD VAN ONS VOLK
HET DIE AFRIKANER NOG LEWENSLUS, NOG STRYDLUS?
Hannes Ollewagen
Daar is ‘n alombekende spreekwoord wat lui: “As jy nie bereid is om vir iets te sterf nie, het jy niks om voor te leef nie.” Hierdie stelling is nie alleen van toepassing op individue nie, maar soveel te meer op volkere.
My gedagtes neem my terug met ‘n arendsvlug deur die geskiedenis van die Afrikanervolk. Gelowige Christene wat vlug uit Europa om teregstelling weens hul geloof in Jesus Christus te ontvlug en gevestig word aan die suidpunt van Afrika waar hulle hul geloof verder kon uitleef. Hierdie was mense wat nie hul geloof in die geheim wou beoefen nie, maar juis hul geloof wou leef! Al sou dit beteken dat hulle huis-en-haard moes agterlaat ten einde hul gelowige lewenswyse te handhaaf, was selfs hierdie prys nie te hoog om te betaal nie.
Ek dink hoedat ‘n volk die vreemde-in moes trek ter behoud van hul geloofsvryheid. Ek dink hoedat suksesvolle boerderye, familiebande en kinderlewens op die altaar geplaas moes word ten einde geloofvryheid as ‘n lewenswyse vir opkomende geslagte te verseker. Ek dink hoedat dure offers by Wenen, Slagtersnek en Bloukrans gebring is – van hierdie offers wat kleine kindertjies se lewens gekos het en ek wonder of die ouers wat hierdie offers moes bring ook gehoop het op die belofte van ‘n talkryke nageslag in ‘n vrye land? Is daar enigiets anders as geloof, hoop en liefde wat ‘n mens kan oorhaal om sulke dure offers te betaal?
My gedagtes slaan ankers vas by ‘n donker dag toe die mag van die duisternis gedreig het om hierdie lewendige volkie te oorweldig. Ek dink aan ‘n volk wat vasgekeer was in ‘n dal van doodskaduwee – ‘n doodskaduwee wat dreig om alle gedagtenis, alle beloftes, alle hoop te oorweldig en die laaste bietjie asem en lewensbloed uit hierdie volkie uit te wurg. Al wat hierdie volk kon uitroep in sy doodsnikke was die welbekende wekroep by Bloedrivier na sy God om hom te help en te laat leef! Hierdie volk se benoudheid was so geweldig dat hy selfs beloof het om sy bestaan as volk aan God te wy, sou Hy die opdrag vanaf die hemeltroon gee dat hierdie volk mag voortleef!
Ek dink aan ‘n volk wat gered is uit doodsgevaar en genade ontvang het om voort te leef op opdrag van God-Almagtig se bevel. Die voorwaarde sou egter wees dat hierdie volk die barmhartigheid van God moes onthou en dit aan toekomstige geslagte moes leer en in dankbaarheid voor Hom leef. “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” (1 Petrus 2:9-10). Ek lees hierdie gedeelte en dink aan ‘n volk wat bewus was van die feit dat hy geroep is deur God tot sy wonderbare lig om die duisternis in Afrika te verdryf.
Ek onthou ‘n volk wat met mening gestry het om die duisternis te verdryf en sy bestaan daaraan gewy het om te leef soos diegene wat skyn as ligte in ‘n donker wêreld. Daar was ‘n volk wat in sy Grondwet God se gesag erken, eerbiedig en omhels het. Dit was ‘n volk wie se vlag-simboliek getuienis gelewer het van sy bereidwilligheid om te stry vir die vryheid om te leef volgens die beginsels en eise van God se Woord. Dit was ‘n volk wie se volkslied met ‘n gewyde gebedstrofe afgesluit is. Dit was ‘n volk deur wie se are die lewensbloed van sy Godsdiens gevloei het en daarom was dit ‘n volk wat nie net maar bestaan het nie, maar ‘n volk wat GELEEF het!
Ek dink terug aan hierdie roemryke tydperk van die Afrikanervolk en voel hoe my hart vinniger klop en kan myself verbeel hoedat ek selfs die weë kan voel waarlangs die lewensbloed deur my eie are pomp. Ek besef dat die lewensbloed van ons voorouers, opregte en diep-Godsvresende mense, ook deur my are vloei. En ek besef dat ek nog die strewe na oorlewing in my dra, dat ek nog lewe in my het. . .
Het die Afrikaner nog 'n strewe na oorlewing, strydlus om te veg vir wat regmatig syne is?
Ek sit en prewel saggies “soos ons vadere vertrou het” terwyl my oog val op ‘n half-opgerolde Republiekvlaggie wat op die kant van my lessenaar lê.
Ek peins oor die lewe wat nog in ons volk oor is. Ek wonder in hoeveel volksgenote se huise is daar nog simboliek van ons volkie se roemryke en heldhaftige geskiedenis? Ek wonder in hoeveel volksgenote se huise is daar nog plek vir die huisaltaar – is daar nog plek vir God se gesag. Ek wonder in hoeveel van ons volkshuishoudings is Hy nog welkom? Ek wonder in hoeveel volksgenote se harte is die vryheidsdrang soos ‘n bruisende storm om hul geloofsvryheid te wil handhaaf, te behou vir opkomende geslagte en op ‘n daagliks uit te leef? Ek wonder hoeveel volksgenote nog bereid is om te stry vir die behoud daarvan volgens die opdrag van Judas 3: “GELIEFDES, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”
Ek vra myself die vraag af of die Afrikaner opgehou het om te leef, opgehou het om te stry vir dit wat werklik van belang is – want daar is 'n groot verskil tussen bestaan en leef. Daar is ook ‘n groot verskil daarin om met mekaar te stry oor kleinighede en om saam te veg oor sake van belang. Daar is soveel hartseer verhale van mense wat gebonde was weens siekte en vir jare lank maar net ‘n bestaan gevoer het totdat die dood ingetree het, maar nie meer geleef het nie. Ek kan nie help om te wonder of die Afrikaner tans ook maar eenvoudig besig is om te bestaan nie? Is ons nie siek aan die verleiding van die wêreld en desperaat opsoek na genesing nie? Onthou, die afwesigheid van doelgerigtheid het noodwendig ‘n doellose bestaan tot gevolg. . .
‘n Groot oorsaak van die Afrikaner se doellose bestaan vandag is myns insiens te wyte aan leiers wat die verkeerde doelstellings voor oë gehad het en dalk steeds het. Dit is vir ‘n leier wat nie die siel van ‘n volk verstaan nie, feitlik onmoontlik om ‘n volk doelgerig te lei. Die leiers van die Afrikanervolk het ontaard in mensebehaers wat elke geleentheid aangegryp het om op te tree op ‘n wyse wat mense se goedkeuring sou wegdra weens die polities-korrektheid daarvan. Die hartseer ironie is dat ‘n leier wat leef om sy volgelinge ter wille te wees, ‘n volgeling in plaas van ‘n leier is. Die leiers van die Afrikaner het vergeet van die siel van ons volk en ons lewenslustige volk neergewerp in ‘n put van doellose bestaan. Die leiers van die Afrikaner het VERGEET:
- van die wonderbaarlike ontstaan van ons volk deur die hand van God;
- van ons roeping as volk van God;
- van ons Gelofte teenoor God om as sy volk te leef;
- dat ons beloof het om ‘n huis vir Hom op te rig waar Hy sou woon;
- dat God hulle as herders aangestel het om sy kudde op te pas en nie in selfsug en gierigheid aan hulself weiding te verskaf nie.
Dit was egter nie net die leiers wat vergeet het nie – die Afrikanervolk het ook VERGEET:
- van God se wonders aan vorige geslagte;
- van God se opdrag om nie ‘n ander regering as ‘n Godsvresende regering oor jou aan te stel nie – selfs nie eers in koalisie nie;
- van ons verantwoordelikheid om die huisaltaar in huise staande te hou, want ons word gewaarsku dat ons volk ten gronde sal gaan weens ‘n gebrek aan kennis.
- dat ons roeping om vir God te leef ‘n lewenslange verbintenis is en nie ‘n bysaak wat gou afgehandel moet word sodat ek kan aangaan om die wêreldse begeerlikhede na te jaag nie;
- Vergeet dat ons lewe in Hom, deur Hom en tot Hom aan ons geskenk is.
Hoe kan ‘n mens so maklik VERGEET? Hoe kan jy vergeet waar jy vandaan kom – dit vorm tog ‘n groot deel van wie jy is?
Ek gaan sit buite om vars lug te skep en hierdie saak te oordink. Ek voel die koue briesie wat beweeg en verlustig my aan die pragtige voëlgesang in die tuin. Tydens my soeke na die voëltjie wat hierdie pragtige lewensklanke voortbring en daarmee sy Skepper verheerlik, val my oë op die vars lentebloeisels wat heeltemal voortydig uitspruit. Ek kyk strak na hierdie teken van nuwe lewe en dink daaraan dat hierdie teken van nuwe lewe na ‘n droë en trietsige winter sommer ‘n hernieude opgewondenheid bring oor die komende lente. Nuwe lewe is altyd mooi, altyd welkom! Dit is asof die wonder van nuwe lewe die mistroostigheid van die omringende landskap eensklaps laat verdwyn.
My gedagtes word teruggebring na ‘n volk in 2015 wat beswadder, verkneg, beledig, vertrap en uitgemoor word. Ek dink aan die waarskuwings en profesieë hieroor en dink aan die steeds-toepaslikheid van die Woord van God se riglyne ter hantering van hierdie krisis-situasie. Ek wonder by myself hoe arm, vernederd, honger en dors ons volk sal moet raak alvorens ons na Hom sal gaan en na die lewende water uit sy Fontein vra? “...maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Joh. 4:14). Dit is hierdie water wat ons in die lewe sal hou.
My hoop is dat ons volk na Hom sal terugkeer om ons dors te les met die wil om te bly voortleef as sy volk! Mag Hy ons oorgenoeg gee om te drink sodat ons siel verkwik kan word en nooit weer sal vergeet nie dat Hy die Bron van ons volkslewe is!