Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk jou geloof in Christus? Is dit net 'n kennis-sisteem? Of leef jy so dat ander kan sien – en veral Christus kan sien- dat jy werklik deel aan sy Vlees en sy Bloed het?
DIE SABBAT...
...DIE DAG VAN DIE HERE
Hannes Ollewagen
Matt. 12:1-8
“...want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.”
In die gelese gedeelte in Mattéüs kom ‘n baie kosbare les weer na die oppervlak. Jesus leer ons weereens in hierdie gedeelte dat ons baie gesteld moet wees op die gesindheid waarmee ons Hom dien. Daar is ‘n baie groot verskil daartussen om godsdienstig te wees en om God in waarheid te dien.
Ons leer verder ‘n volgende belangrike les in vers 6, nl. dat Hy groter is as die tempel. Dit is hartseer dat daar mense is wat dink dat God slegs in sekere kerk-denominasies gedien kan word. Diegene wat laasgenoemde standpunt huldig, dink gewoonlik ook dat God slegs op die Sabbat by die kerkterrein gedien en aanbid word. Hierdie individue se lewens weerspieël dan natuurlik ook hul denkwyse wanneer hulle God “ná kerk” daar by die kerkterrein agterlaat om vir die res van die week ‘n lewe te lei waarin God weliswaar nie te bespeur is nie. Alhoewel ‘n plek van samekoms vir medegelowiges in Christus natuurlik om praktiese redes baie nodig en gunstig is, moet ons altyd verseker dat ons met die regte gesindheid daarheen optrek. Ons moet egter onthou dat God in ons harte woon en ons Hom nie by die kerk agterlaat nie. ‘n Opregte gesindheid is ‘n vereiste wanneer ons God in gees en waarheid wil aanbid.
Ons kyk na die laaste les van die gedeelte wat ons vandag gaan aanraak – “want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.” (:8). Besef ons werklik die erns van hierdie woorde van Jesus Christus? Ons weet dat Jesus deur God verhoog is as Hoof oor alle dinge. Hy is óók Hoof oor die sabbat, wat beteken dat ek hierdie heilige dag volkome aan Hom moet wy. Beteken laasgenoemde dan dat ek die hele dag by die kerk moet deurbring of Bybelstudie moet doen van sonsopkoms tot sonsondergang? Allermins is dit die geval, maar dit beteken wél dat my hart en my gesindheid op hierdie heilige dag van die Here volkome aan Hom toegewy moet wees. Dit beteken dat ek die moeite sal doen om saam met ander medegelowiges byeen te kom om God te dien, eer en aanbid, waar en hoe dit vir my moontlik is. Dit beteken verder dat ek hierdie dag sal gebruik om te dink oor die boodskap van die erediens, te dink aan my verhouding met God en om vas te stel in watter mate Hy nog triomfeer as die Hoof van my lewe. Dit sal my instaat stel om ondersoek in te stel na daardie dinge waarin Hy nie seëvier in my lewe nie en die vrae sal beantwoord moet word oor waarom laasgenoemde die geval is.
God weet dat die mens, anders as Hyself, tyd-ruimtelik gebonde is en derhalwe homself net op een faset van sy lewe op ‘n slag deeglik kan toespits. Dit is myns insiens een van die redes dat God ‘n hele dag vir die mens afgesonder het (geheilig het) om te fokus op sy verhouding met sy hemelse Vader. Dit word die mens deur God gegun om op hierdie dag te rus van die vermoeienis van die week se harde ywer en derhalwe kan die mens in rustigheid fokus op sy verhouding met sy hemelse Vader en hom daarin verlustig. Dit is op hierdie dag dat die mens na God kan soek en sy siel met die sielevoedsel kan voed.
Die sabbat het van die begin af al ‘n spesiale plek in God se skepping gehad en ons as mense is veronderstel om dit met die nodige heiligheid en agting te koester. “En God het die sewende dag geseën en dit geheilig. . . “ (Gen. 2:3). God het hierdie dag m.a.w. afgesonder van al die ander dae van die week – spesiaal afgesonder vir Hom. Dit is derhalwe sy dag wat ons as sy kinders veronderstel is om met Hom te deel. “maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie - …”. (Ex. 20:10) “…Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Ex. 20:11).
Dit is tragies om die verskonings aan te hoor waarom mense nie tyd het om die sabbat in rustigheid deur te bring en aan God te wy nie. Elke lewende wese op aarde is hier op geleende tyd wat ons kosteloos van ons hemelse Vader ontvang. Tyd is weliswaar die een kommoditeit waarvoor niemand van ons hoef te betaal nie en waarvan elke lewende wese dan ook elke liewe dag presies dieselfde hoeveelheid ontvang. Die prioriteite in elke mens se lewe bepaal egter hoeveel tyd hy aan elke faset van sy lewe bestee. ‘n Mens kan dus na regte nie sê dat jy nie tyd het nie, maar wél dat jy dalk nie tyd vir God het nie. Dink gerus daaraan hoedat dieselfde mense wat reken dat hulle nie tyd gehad het om die afgelope sabbat ‘n paar uur aan God af te staan nie, nie kon wag dat die 20:00-film op M-Net moes begin waar hulle vir bykans twee ure lank lustig kon lê en luister hoedat God se Heilige Naam op sy heilige dag belaster word nie.
Wanneer ‘n getroude paartjie verkies om hul tyd wan aan te wend en nie vir mekaar tyd af te staan nie, is dit gewoonlik net ‘n kwessie van tyd voordat hierdie heilige instelling tussen die twee partye op ‘n egskeiding sal uitloop. Wanneer ‘n gelowige sy tyd wan-aanwend en hierdie dag wat God as sy dag geheilig het, onteer – moet hy nie verbaaas wees wanneer hy die dag na God soek en dit blyk dat Hy nie te vinde is nie. Daar was dan nie tyd vir Hom in u lewe nie. . .
Die teendeel is egter ook waar dat wanneer gelowige kinders van God sy insettinge eerbiedig en onderhou en Hom met ‘n volkome hart dien, hulle altyd op sy hulp kan reken. Hulle sal die voorreg beleef om hulle in Hom te verlustig en ‘n goeie verhouding met hulle hemelse Vader te handhaaf! “As jy jou voet terughou van die sabbat-om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.”