Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is verstandig? Hy wat by almal leer.
Wie is magtig? Hy wat sy hartstogte beheer.
Wie is ryk? Hy wat tevrede is .
Wie is hy? Niemand nie.
Benjamin Franklin
BESNY DAN DIE VOORHUID VAN JOU HART!
Hannes Ollewagen
Deut. 10:10-22
“Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.” (:16)
Die besnydenis was natuurlik die sigbare verbondsteken wat God aan Abraham gegee het. Hierdie teken het ‘n duidelike onderskeid getref tussen die uitverkore nageslag van God, deur die aartsvader Abraham, en die heidendom. Hierdie verbondsteken was dus onder andere ‘n teken van andersheid, van afgesonderdheid van die heidendom om aan God gehoorsaam te wees.
Die gebruik in Israel was dat ‘n persoon deur die besnydenis in die volkslewe van Israel ingelyf word. Dit was dus ‘n teken van wyding aan God in die Ou Testamentiese tyd. Ons lees egter in die Ou Testament al van die vroegste tye dat God meer van sy kinders verwag as bloot 'n uiterlike godsdienstige vertoon. Hy verwag dat sy kinders Hom sal aanhang, Hom sal liefhê met hul hele hart, siel en verstand. Hy verwag dat sy kinders Hom sal dien en eer en aan Hom gehoorsaam sal wees. (Verw. na :12&13). Die HERE onse God verwag van ons as sy kinders dat ons Hom sal vrees met ‘n heilige Godsvrees en dat ons begeerte na Hom sal wees, m.a.w. dat ons Hom sal aanhang.
Wanneer ons vooruitbeweeg in die geskiedenis na die Nuwe Testamentiese tyd, kom ons by ‘n leraar van Israel by wie ek vir ‘n oomblik wil stilstaan. Hierdie man se naam was Nikodémus en hy was ‘n geleerde Fariseër en ‘n leraar van die volk Israel. Ons lees egter in Johannes 3 van Jesus se onderrigting aan Nikodémus juis in hierdie saak - dat diens aan God meer as net verstandellike begrip en kennis behels. Om God te dien, beteken baie meer as om maar net van Hom kennis te dra en godsdienstige rituele uit te voer. Jesus leer baie duidelik vir Nikodémus dat dit vir die mens noodsaaklik is om God van harte en in gees en waarheid te dien en nie volgens menslike gewoontes nie.
Die rede waarom menig mense verkies om tevrede te wees met uiterlike godsdienstigheid, is toe te skryf aan gemaksugtigheid en ongeërgdheid in hul geestelike lewens. Wanneer ek nie erken dat daar fout(e)/tekortkominge in my geestelike lewe is nie, hoef ek mos nie tyd en moeite aan hierdie aspek van my lewe te spandeer nie? Ek kan mos my tyd veel eerder voor die televisie verkwis as om aandag te skenk aan die probleme in my geestelike lewe. Ek weet mos dat Jesus vir my sondes gesterf het en daarom gaan ek hemel toe wat beteken dat hierdie saak in my lewe afgehandel is. Ek kan nou voortgaan met “my eie lewe.”...
Dit maak egter nie sin dat ‘n persoon wat werklik glo in die volkomenheid van Jesus Christus se soenoffer sy of haar ongeregtighede wil ontken of probeer verberg nie. Is die logiese optrede vir ‘n ware gelowige nie juis dat hy sy ongeregtighede en tekortkominge na die voete van Jesus Christus sal neem om dit weg te was eerder as om hierdie ongeregtigheid in sy lewe te koester nie? ‘n Mens wat Hom waarlik ken en in Hom glo, is ook veronderstel om verymoedigheid te hê om met Hom te praat in gebed en sy swakhede voor Hom te bely. Jesus het medelye met ons swakhede, maar ongeloof en volharding in sonde, stuit Hom teen die bors. “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.” (Joh. 3:18&20).
Suid-Afrika se geskiedenis getuig van ‘n volk wat met toegewydheid aan God Drie-enig ‘n wildernis omskep het in ‘n beskawing en ‘n modelstaat vir die wêreld. Hierdie voorsate van ons was nie sondelose en volmaakte wesens nie, maar hulle was wel anders. Hierdie mense was afgesonderd van die wêreld met sy sondige begeertes in hul lewensbeskouing en lewenswandel en daarom was hulle toegewyd om vir God te leef. Hierdie afgesonderheid was nie ‘n hoogmoedige en hofvaardige houding nie, maar veel eerder ‘n doelgerigtheid om nie hul oë vir ‘n oomblik van hul Meester af te haal nie. Hierdie mense was afgesonderd in hul toewyding aan God – nie maar bloot godsdienstige mense nie, maar Godvrugtige mense. Hierdie mense het na sy wil gevra in hul kerke, onderwysstelsel, staatkunde, kultuurverrigtinge, ens.
Ek wonder hoeveel van ons lewens getuig vandag steeds van ‘n Godvrugtige lewe in Jesus Christus? Onthou ons nog daagliks dat ons as wedergebore kinders van God nie instaat is tot goeie dinge sonder Hom nie? Onthou ons dat Hy die wynstok en ons maar net die lote is? “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh. 15:5). Ons lees van soveel inisiatiewe en goeie planne vir die redding van ons volk uit sy ellende, maar ongelukkig vorm Hy selde die hoeksteen en fondasie van hierdie inisiatiewe en dan wonder mense steeds waarom hulle planne telkens op niks uitloop?
Dit is belangrik dat elkeen van ons dalk weer opnuut vir onsself die vraag afvra of ons besig is met “n lewe van my eie” waarin ek en my selfsugtige begeertes sentraal staan of leef ek ‘n lewe van toegewydheid aan Hom waarin ek Hom as my Skepper en my God aanhang, dien en eer? Dit is belangrik om te onthou dat ons nie die een dag die een ding en die volgende dag die ander kan doen nie, want God eis van ons onverdeelde trou . “Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon.” (Jak. 4:5).
Dit is dalk tyd om die besluit te neem dat ek nie meer ‘n selfgerigte doellose lewe wil lei nie, maar eerder die voorhuid van my hart te besny. Hierdie besluit sal tussen my en Hom ‘n teken wees dat ek my selfgerigte en selfsugtige lewe aflê om ‘n doelgerigte lewe in Hom en vir Hom te begin leef.