Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is twee duidelike groepe mense in hierdie wêreld: dié wat die werk in hierdie wêreld doen, en dan is daar dié wat die krediet daarvoor neem. Dit is egter beter om in die erste groep te val want dáár is baie minder kompetisie.
MAAK MY GESOND, HERE!
Hannes Ollewagen
Jeremia 17.:1-18
“Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.” (:14)
Almal van ons maak foute. Sommige mense fouteer meer gereeld as ander en dan is daar ook foute met groter en meer skadelike gevolge as ander. Partykeer is dit slegs die oortreder wat skade lei, maar meestal is dit ook ander “onskuldige partye” wat skade ly deur ‘n persoon se foute. Dit is veral daardie oortreding teenoor diegene wat die naaste aan ons is, wat die diepste wonde slaan met die mees ernstige gevolge daarin opgesluit.
Die mens het tydens die sondeval alreeds bewys dat hy inherent geneig is om besluite te neem wat hom van God sal vervreem en dus ‘n geneigdheid het om die verkeerde keuse(s) te maak. Dink maar aan Eva wat gekies het om na die slang te luister en God se opdrag oor gehoorsaamheid te ignoreer. Die rede waarom soveel mense steeds vandag verkeerde keuses maak, is eerstens omdat ‘n grondige kennis van die Woord van God ontbreek en tweedens omdat hulle die Woord verag, natuurlik tot hul eie en ander se skade. “Wie die Woord verag, moet dit ontgelde; ...” (Spr. 13:13).
As daar een ding is wat meer skade kan aanrig as die foute wat ons maak, is dit natuurlik ons weiering om ons foute te erken. Die spreekwoord lui nie verniet dat “erkenning die eerste stap na genesing is nie.” Dink maar aan Adam en Eva wat onmiddelik die blaam na die volgende party verskuif het toe God hulle opgesoek het nadat hulle aan Hom ongehoorsaam was. Die rede hiervoor is sekerlik die mens se inherente vrees dat hy die gevolge van sy oortreding sal moet dra en dalk boonop verwerp sal word deur diegene teenoor wie daar oortree is.
Daar is deesdae egter ‘n lelike mistasting deur talle gelowiges dat ‘n persoon nooit meer sal sondig nadat hy tot bekering in Jesus Christus gekom het nie. Hierdie stelling is nie Skrifgetrou nie en word duidelik weerlê in Romeine 7 asook in die woorde van 1 Joh. 1:8-10: "AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Dit is egter duidelik dat gelowiges wat met die Gees vervul is egter nie meer veroordeel word vir hul oortreding nie. Dit is natuurlik omdat Jesus Christus, die geliefde Seun van God, ons ongeregtighede op Hom geneem het. Hy is ons Middelaar voor God die Vader wat ons geregtigheid vir ons bewerk en ons genees omdat Hy ons krankhede op Hom geneem het. “Nogtans het Hý ons krankhede op Hom geneem, en ons smarte – dié het Hy gedra;...”(Jes. 53:4). “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).
Wanneer ons tot die ware geloof in Jesus Christus kom, kom die Heilige Gees in ons harte woon. Dit gebeur egter dat ons die Gees van God soms nog bedroef (Efes. 4:30) deur Hom op die agtergrond te skuif in die najaag van ons vleeslike strewes. Dit is juis dan wanneer ons menigmaal struikel op die dwaalweë van die lewe wat vir ons soveel smart en ellende veroorsaak. ‘n Ware gelowige sal egter nie die tere roepstem van die Heilige Gees ignoreer om met Hom te versoen nie.
Dit was Langenhoven wat die stelling gemaak het: “Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute regmaak.” Dit gebeur soms dat ons foute maak wat só geweldig van omvang is dat dit vir ons menslikerwys onherstelbaar voorkom. ‘n Gelowige in Jesus Christus is nie veronderstel om ooit te twyfel aan die volkomenheid van God se verlossing of aan die oneindigheid van sy almag en krag nie.
Dit is egter hartseer om te sien hoe mense aanhoudend vlug voor hul probleme eerder as om dit te erken, bely en te laat staan. Dit is nodig om te weet dat ons ernstig teenoor God oortree wanneer ons willens-en-wetens ons ongeregtigheid ontken en weier om dit te laat staan. “Want wederstrewigheid is ‘n sonde van afgodery en beeldediens. ...” (1 Sam. 15:24).
Die man wat egter sy ongeregtigheid erken, bely en laat staan, sal as wys gereken word. Hierdie man erken deur sy optrede die Regverdige Oppergesag van God en sal ook bewus wees van sy afhanklikheid van die Here vir sy versoening en genesing. Dit is hierdie man wat saam met Jeremia sal kan uitroep: “Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word;”. Die man wat egter weier om sy ongeregtigheid te bely en te laat staan, durf nooit die skuld van sy dood voor God se deur lê nie. “O Here, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.” (Jer. 17:13).