Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Enigiemand wat meer oor die lewe te wete wil kom kan maar net die Bybel bestudeer; dit is 'n Boek oor die lewe: oor konings, boere, huisvroue, siekes, soldate, diensknegte, elke mens is in die Bybel; ook jou en my lewe word direk daarin weerspieël. Maar as jy nooit jou Bybel bestudeer nie kan jy nie verwag om lewenskennis te hê nie.
WIL Ú HOM OOK BETER LEER KEN?
Hannes Ollewagen
Lukas 19:1-10
“En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanweë die skare kon hy nie, omdat hy klein van persoon was.” (:3).
Dit is menigmaal nie so belangrik wat ‘n mens doen as die gesindheid waarmee jy dit doen nie. Ons lees in vers 3 van Lukas 19 dat Saggéüs nie alleen vir Jesus wou sien uit blote nuuskierigheid nie, maar sy begeerte was om Hom te leer ken. Ons lei dit af uit die woorde “wie Hy was”. Hy het dus al dikwels van Jesus gehoor, maar hy wou Hom egter persoonlik leer ken.
Groot was Saggéüs se verbasing toe Jesus binne sigafstand kom en net daar gaan staan en Hom beveel om Hom van nader te leer ken. Dit is op hierdie stadium waar ons in vers 5 lees van die gesindheid waarmee Saggéüs Jesus se opdrag aanneem – met blydskap! “Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.”
Die samelewing van Jérigo kon nie verstaan dat Jesus by ‘n sondige man soos Saggéüs wou tuisgaan nie. Ons sien egter dat Saggéüs nie Jesus se besoek aan hom ligtelik opgeneem het nie. Ons lees nie eens daarvan dat Jesus hom aangespreek het oor sy verkeerdheid alvorens hy dit bely het nie. Die teenwoordigheid van Jesus het hom tot skulderkenning beweeg. Die feit dat hy die vlekkelose Lam van God ontmoet het en werklik leer ken het, het hom tot die besef van sy verdorwenheid gebring. Die feit dat Jesus hom nie verwyt en veroordeel nie het hom egter tot diepe nederigheid en dankbaarheid beweeg waaruit die strewe na ‘n rein lewenswandel voortgevloei het.
Jesus het nie vir Saggéüs gedwing om sy foute uit die verlede reg te stel as ‘n vereiste vir redding nie. Juis omdat Saggéüs innig dankbaar was vir Jesus se genade oor hom, wou hy graag sy dankbaarheid betoon deur ‘n lewe van geregtigheid na te streef. Hy wou Jesus nie alleen met sy mond bely nie, maar ook met dit wat hy gedoen het.
Dit is ook waar dat Jesus nie vir een oomblik sê dat die lewenswyse wat Saggéüs tot op daardie stadium geleef het maar reg was of nie só erg was dat hy nie daaraan hoef te verander nie. Inteendeel, die woorde van vers 10 is ‘n aanduiding dat ‘n volharding op daardie lewensweg Saggéüs se ewige verlorenheid tot gevolg sou hê. Sy bekering van hierdie verkeerde weg het egter vir hom die lewe ingehou!
Die vraag kan dan ook vandag aan my en u gestel word: Met watter gesindheid nader ek en u Jesus Christus ? Wanneer ek eredienste bywoon en Bybelstudie hou, is dit om mense se mening oor my te verander of is dit met ‘n opregte gesindheid en hunkering na die Woord? Hoe ironies is dit nie dat die “groot sondaar”, Saggéüs, hom tot Jesus bekeer het selfs nog voordag Jesus hom oor sy verkeerde lewe aangespreek het, maar talle Fariseërs en Skrifgeleerdes het volhard in hul sonde ten spyte van soveel vermaninge deur Jesus Christus. Net so is daar vandag baie kerkgangers wat maklik die vinger na ander mense kan wys, maar wanneer die Woord tot hulle spreek oor verkeerdheid, is hulle aanvallend en ontkennend teenoor hierdie gesonde en lewensnoodsaaklike teregwysing.
Ons lewe in ‘n samelewing met ‘n uiters skeefgetrekte lewensbeskouing waar God en sy Woord heeltemal uit die gesigsraamwerk verdwyn het. Ontkenning van God se teenwoordigheid is natuurlik die direkte oorsaak van die skewe samelewing. As God se kinders is ons egter bevoorreg om ons lewens steeds op ‘n gereelde grondslag voor Hom neer te lê; so word ons bewus van ons dwalinge. Die vraag is egter of ons bereidwillig is om sy teregwysing te aanvaar en of ons dit, soos die wêreld, liefs wil verwerp. Hierdie is ‘n uiters kritieke saak waaroor die Woord vir ons in geen duidelike taal onderrig nie. “Wie die Woord verag, moet dit ontgeld, maar hy wat die gebod vrees, ontvang vergelding.” (Spr. 13:13).
U voel dalk nie fisies klein vandag nie, maar in u gees voel u te gering om tot die heilige God van hemel en aarde te nader weens u tekortkominge. U voel dus geestelik te klein, onwaardig, om voor Hom te verskyn, maar ek wil u verseker dat dit juis die nederiges is wat deur Hom aangesien word. Dit is onder nederiges dat Hy woning maak en graag tuisgaan. “...maar aan die nederiges gee Hy genade.” Jak. 4:6. Dit was die tollenaar wat in Lukas 18 na God uitgeroep het: “...O God, wees my, sondaar, genadig.” In antwoord op nederigheid en afhanklikheid vind ons die bevestigende versekering in die woorde van 2 Kor. 12:9: “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring...”
Ek wil u uitnooi om u oë en ore te spits in u geestelike lewe, want dalk is Jesus in die nabye omtrek en u wil nie die geleentheid mis om werklik met Hom kennis te maak nie!