Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dobbel is ‘n nare ding. Meer mense verloor as wat hulle wen. Moenie met die kosbaarste ding in die lewe dobbel nie – jou siel!
IS U GEREED OM REKENSKAP TE GEE?
Hannes Ollewagen
Openbaring 20:11-15
“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (:12).
Daar is mos diegene wat glo dat alle mense na die hemel gaan. Volgens hierdie mense is God ‘n God van liefde en sal Hy nie enige mens tot die ewige hel verdoem nie. Hierdie is dalk ‘n teorie wat die oor goed geval, maar dit is van alle waarheid ontbloot. In vers 15 van ons gelese gedeelte word dit pertinent gestel dat daar diegene is wat in die poel van vuur gewerp sal word en so is die res van die boek Openbaring ook nie hieroor onduidelik nie. “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Benewens die feit dat die illusie van alle mense wat na die hemel gaan ‘n blatante leuen is, is dit ook ‘n baie gevaarlike dwaling. Dit is hierdie tipe geketter wat mense geestelik onverskillig maak om na die begeerlikheid van die vlees te leef onder die wanindruk dat hul sondes lank vooruit vergewe is. Dit is die perfekte teelaarde vir ‘n vrysinnige leefstyl waar daar weinig of selfs geen grense aan die mens gestel word nie. Elkeen kan leef na willekeur en die een persoon kan die ander vernietig deur ‘n leefstyf van selfgesentreerdheid en selfsug, want aldus hierdie teologiese dwaling het Jesus mos reeds jou sonde betaal. Jy kan derhalwe met ‘n lewe van ongeregtigheid voortgaan sonder om daaroor skuldig te voel. Wel, hierdie moet “‘n ander Jesus” wees as die Christus wat ons uit die Woord leer ken. Die ware Jesus Christus, seun van God, leer vir ons presies die teenoorgestelde van hierdie kettery in die woorde van Matt. 16:24-27:”TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.”
Hoe dan nou? Daar word dan verkondig dat die mens nie deur sy goeie werke die ewige lewe kan beërwe nie. (Ps. 143:2:”...want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.”). Is vandag se oordenking dan nie lynreg teenstrydig met laasgenoemde nie? Allermins. Die mens kan nie sy saligheid voor God verdien deur goeie werke nie, maar die verlossing uit die mag van sonde deur die geloof in Jesus Christus is geen vrypas vir ‘n losbandige en onsedelike lewe nie. Inteendeel – ‘n ware vrygekoopte kind van God het soveel waardering vir die soenverdienste wat hom/haar geskenk is deur die allerkosbare soenbloed van Jesus Christus dat hy homself bevoorreg ag om ‘n dankbaarheidslewe binne die wil van God te leef. Dit is die ware gelowige se voorreg om die keuse uit te oefen om ‘n lewe van geregtigheid na te streef en terselfdertyd die diensbaarheid aan die sonde te ontvlug. “Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid. Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood. Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:20-23).
Ongeag al die sogenaamde onbewysde teorieë, soos evolusie en soveel ander, bly die feit staan dat God Drie-enig alleen die Gewer van lewe is. Hy is dan ook die Een wat van elke mens rekenskap gaan eis van wat elke mens met hierdie kosbare gawe van lewe gemaak het. Die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige se verskyning voor hierdie Regterstoel bestaan daarin dat die ongelowige alleen hier sal staan terwyl die gelowige ‘n Middelaar sê bystand kan verwag. Die ongelowige het dalk vele teorieë oor die weg na ewige saligheid, maar die feit bly staan dat daar geen teorie, geen towerformule, geen wetenskaplike genialiteit gebruik kan word om toegang tot die ewige heerlikheid van God te verkry nie. Die toegang tot hierdie onverganklike heerlikheid is beperk (gereserveer) tot ware gelowiges in Jesus Christus. Dit is hulle wie se name ewig in die boek van die lewe ingeskryf is met die kosbare en onuitwisbare bloed van Jesus Christus.