Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moed is om te doen wat gedoen moet word met die diep, innerlike oortuiging dat, as jy jou plig doen, jy vir die res op God kan vertrou
OM NA GOD TE SOEK
Hannes Ollewagen
2 Kronieke 15:1-19
“...Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” (:2).
Ons hoor gedurig dat ons in ‘n gejaagde wêreld leef. En kyk ons na die gewoontes en lewenswyse van mense rondom ons dan sien ons inderdaad dat die meeste mense alewig haastig is. Daar is ewig ‘n gejaag, maar ongelukkig is soveel van hierdie gejaag maar net ‘n gejaag na wind.
‘n Mens hoor boonop soveel mense wat sê dat hulle nie tyd vir hierdie of daardie dinge gehad het nie. En tog het die meeste mense oorgenoeg tyd om ure lank voor die televisie of internet deur te bring. Ek het nie gisteraand tyd gehad om Godsdiens te hou en stil te raak voor die Woord nie, want ek het skuins na 12 eers in die bed geklim – nadat ek ten minste 4 ure se video’s op “YouTube” moes kyk. Daar was tyd om na allerhande onbenullighede op die internet rond te soek, maar daar was nie tyd om na die Here te soek nie. Daar was in die hele dag van 24 uur nie genoeg tyd om die Een wat die dag geskape het en boonop aan my die gawe van lewe geskenk het om die dag te kon geniet, te aanbid nie.
Asárja het ook in sy dae die leiding van God se Gees ontvang om koning Asa en Juda te waarsku dat hulle hulself met allerhande nietighede ophou terwyl hulle van God vervreemd geraak het. Hy het ‘n wekroep uitbasuin dat hulle na God moet soek. En koning Asa het op hierdie wekroep ag gegee. Hy het as heerser die voorbeeld daarin gestel deurdat Hy na die insettinge en verordeninge van die Here gesoek het. Hierdie soeke van koning Asa was nie maar net ‘n nuuskierige soeke na kennis nie, maar het gepaardgegaan met ‘n gehoorsaamheid aan die verordeninge van die Here. Koning Asa het homself daarop toegespits om daardie dinge wat vir die Here verfoeilik was, uit te roei en te vra na dit wat Hom behaag en dit na te streef.
Ons leef soveel duisende jare later en tog het soveel dinge dieselfde gebly. Die mens van ons tyd is ook besig om van God vervreemd te raak omdat hulle met allerhande nietighede besig is en nie tyd het om na Hom te soek nie. Daar is soveel werk, sport, rolprente, partytjies, interessanthede op die internet en dergelike dinge wat moet aandag kry dat een heilige, afgesonderde dag vir die Here heeltemal te veel gevra is. Daar is soveel van hierdie dinge dat een uur van elke dag om voor die Here stil te word en na Hom te soek ook te veel gevra is. Daar is so min stilte in die meeste mense se lewens dat die sagte en tere roepstem van ons Heiland vir hulle nie meer hoorbaar is nie.
Die tragiek vandag is egter dat daar so min herders en leraars soos Asárja oorgebly het wat hierdie verkeerdheid by mense op die harte druk. Daar word meer tyd in baie kerklike kringe deurgebring om maniere te vind om gruwels en sondes voor God te probeer “regverdig” of “ontsondig” as wat mense tot bekering aangespoor word. Daar word eerder ‘n “eerste erediens in die geskiedenis vir gay en lesbiese mense” gehou as om hierdie mense te bearbei om hul tot inkeer te bring. Die rede daarvoor is dat hierdie herders en leraars al vir soveel jare nie meer na die stem van God luister nie dat Hy nie meer met hulle is nie. Die mooi belofte in vers 2 dat die HERE met julle is as julle met Hom is, het ook ‘n keersy. En dit is dat Hy julle sal verlaat as julle Hom verlaat. In plaas daarvan dat die verfoeisels (verkeerde dade) uitgeroei word, word dit gekoester! Die mense word deur sogenaamde predikante belieg dat hulle kwansuis die reg het om in ‘n lewe van sonde te volhard!
Koning Asa het nie soos baie mense vandag die blaam vir sy laksheid in sy Godsdiens op ander probeer plaas nie. Hy het ook nie die wekroep geïgnoreer nie, maar hy het moed geskep en met ‘n volkome hart en siel na die Here begin soek. Mag ek en u hierdie voorbeeld navolg en daardeur ook in ‘n verwarde wêreld seker wees dat ons die regte leiding na Hom sal vind. Die Here beloof vir ons dat Hy met ons sal wees as ons met Hom is. Hy beloof aan ons dat ons Hom sal vind as ons na Hom vra met ons hele hart. Hy sal in hierdie tyd ook vir ons wat Hom van ganser harte soek ons vrede in ‘n gejaagde wêreld wees.
Ek laat u met die vrede-werkende woorde van Psalm 119:2: “Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;...”