Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Lyding maak gelowiges sterk. Dit brei, vorm en verdiep. Dit gee ons krag en weerstand. Kortom: Dit gee ons geestelike staal.
‘N GESONDE LEWENSWANDEL
Hannes Ollewagen
Spr. 19:1-29
“’n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE.” (:3).
Ons het seker al dikwels mense hoor praat van ‘n persoon wat ‘n gemors van sy/haar lewe gemaak het. Anders gestel sou ons sê dat die persoon sy lewe bederf het – hy het dit sleg gemaak.
Ons is ook bewus van die feit dat ons net een maal die gawe van lewe ontvang. En juis daarom is die meeste mense baie bang dat hulle nie die meeste van hierdie lewe sal maak nie. Dit bring ongelukkig mee dat sommige mense ‘n oordrewe ywer het om die lewe te geniet sodat hulle juis met hierdie ywer sonder diepere kennis hul lewensweg bederf. So ‘n ongesonde ywer om die lewe te geniet is gewoonlik maats met kortsigtigheid. Die fokus daarvan is net op dit wat in hierdie oomblik vir my genot sal bring terwyl dit die gevolge oor die langtermyn heeltemal buite rekening laat.
In hierdie teelaarde van mense se drang na genot vind die dwaling van humanisme baie gunstige toestande om in te floreer. Hierdie humanisme is ‘n instrument in die hand van satan waarmee menige mens se lewensweg bedorwe word. Die populêre musiek van ons tyd, die artikels in die media, die films en video’s waarmee die meeste mense hul tyd verdryf, is alles dinge wat bydra tot mense se humanistiese en individualistiese lewensbeskouing. Die “lesse” daaruit is tog eenvoudig – JY moet doen wat vir JOU lekker is omdat dit JOU lewe is en JY kan maak wat JY wil. Jy hoef nie vir een oomblik eers te oordink dat die gevolge van jou optrede ook ‘n impak op ander mense se lewens het nie. En diegene wat jou teregwys wanneer jy verkeerd optree, is mense wat jou nie verstaan nie. Hulle is “outyds” en verstaan nie die lewe van vandag nie. Hulle soek die duiwel agter alles en gun jou nie om gelukkig te wees nie. Jy moet jou daarom nie te veel aan hulle steur nie.
My siel treur in my oor die hoeveelheid “Afrikaner kerkmense” in wie se lewens hierdie kanker van humanisme en individualisme saad geskiet het. ‘n Lewe van individualisme en humanisme wat gevoed word uit die fontein van selfsug in so ‘n persoon se lewe. En selfsug is ‘n eienskap wat nie in ‘n ware gelowige se lewe en hart tuis hoort nie.
Dit is ironies dat ‘n persoon wat weier om na tug te luister en uiteindelik op glibberige weë beland wat tot sy val lei, homself nooit sal verdink as die skuldige wat sy eie ellende veroorsaak het nie. Almal behalwe hyself sal die skuld vir sy ellende kry – selfs God. (...Maar sy hart is vertoorn op die HERE). Die persoon sal daaraan dink dat as hy ook die geleenthede gehad het wat ‘n ander persoon in die lewe gehad het, sou hy ook ‘n sukses van sy lewe kon maak. As hy dalk in beter omstandighede groot geword het. As hy dalk die geleentheid gehad het om te studeer. As hy dalk ook ‘n plaas geërf het. En tog is daar soveel mense wat sonder ‘n enkele van hierdie geleenthede ‘n sukses van hul lewens gemaak het. Daarenteen is die lyke van soveel wat ten minste een of dalk al hierdie geleenthede gehad het en steeds hul lewensweg bederf het wyd oor die aardbodem gesaai. Dit tot ‘n getuienis dat jou sukses en goeie lewenswandel nie deur jou geleenthede en kanse in die lewe bepaal word nie, maar eerder deur jou karakter.
Daar is nie een mens wat gebore word met ‘n karakter sterk genoeg om die toetse en eise van die lewe te deurstaan nie. Inteendeel, ons word maar in swakheid in hierdie wêreld ontvang– geneig daartoe om dit te doen wat tot ons ondergang sal lei. Ons karakter word met verloop van tyd gevorm. En ons kan hierdie karakter los om op ‘n lukrake wyse te vorm soos wat die lewe se omstandighede daarop inwerk of ons kan ons wend tot die wyse Landbouer om ons karakter te snoei ten einde ons te vorm om ‘n vrugbare oes op te lewer. Maar hierdie vorming sal van ons vra om na tug te luister en teregwysing aan te neem. Dit is hierdie tug, hierdie teregwysing wat ons in die lewe verstandig maak en ‘n mooi karakter vorm.
Spr. 1:1-5:”DIE spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel,om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan,om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry,”
‘n Groot fout wat soveel jongmense maak is om te dink dat hulle op hul oudag met hul verhouding met God sal erns maak. Mense wil tog nie in die hel beland nie en beskou die geloof as “iets belangriks” wat ‘n mens net moet reg maak voordat jy jou laaste asem uitblaas. En hierdie fout het tot gevolg dat mense soveel raad, soveel leiding, soveel van God se goedertierenheid misloop omdat hulle eers hul lewens wil geniet. En nadat hulle hul lewensweg bederf het, wil hulle na God begin soek.
En tog is dit juis omdat God ons gelukkig wil sien, omdat Hy ons liefhet en omdat Hy ons koester dat Hy aan ons sy Woord as lamp vir hierdie lewe geskenk het. Dit is omdat Hy vir ons omgee dat Hy ouers en leraars in gesagsposisies stel om ons op ons lewensreis te ondersteun en tereg te wys. Dit is omdat ‘n lewe vir Hom uiters kosbaar is dat Hy aan ons sy heilige, suiwere en onfeilbare Woord geskenk het om ons daarteen te waarsku om ons lewens te bederf. As u lewe vir u kosbaar is, luister na tug sodat ‘n gelukkige lewe u deel mag wees. As ‘n ander se lewe vir u kosbaar is, moenie nalaat om in liefde uit die Woord te vermaan nie. As u niks anders wil doen as om die lewe te “geniet” nie, moet u nie verbaas wees as die “geluk” van oppervlakkige genot kortstondig is en u in ‘n lewe van ongelukkigheid en ellende verval nie. En moet die rede daarvoor nie voor God se voete gaan lê nie. Hy het aan ons sy Woord kosteloos geskenk – die skuld kan nie voor Hom gelê word as ons nie die waarde daarvan kan bepaal nie.