Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons word soms so verblind deur ons besittings dat ons nie net die groot verskraling in ons eie sielelewe nie agterkom nie, maar ook die nood en die behoeftes óm ons nie raaksien nie. Besittings kan 'n blink swaard in die hand van Satan word.
HY IS TOT SEËN NA ONS GESTUUR
Hannes Ollewagen
Hand. 3:1-26
“God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.” (:26).
God het sy Seun, Jesus Christus, gestuur om ons tot seën te wees. Ons dink so ook aan Jesus se handeling net voordat Hy na die hemel opgevaar het. “EN Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.” (Luk. 24:50&51).
Dit is ongelukkig so dat die samelewing van ons tyd baie oppervlakkig geword het. Wanneer daar van seën in ons tyd gepraat word, is mense se eerste (en dalk enigste) gedagte een van materiële welvaart, gemak en voorspoed. Dit is ‘n betreurenswaardige en kortsigtige lewensbeskouing. En so ‘n oppervlakkige lewensbeskouing getuig van ‘n gebrekkige kennis van die Woord en ook ‘n tekort aan diepte in ‘n persoon se geestelike lewe. Hy wat Christus waarlik ken, sal weet dat ons hoop op Hom veel dieper strek as net ons lewe hier op aarde. Hy wat net in Christus glo omdat hy verleë is oor Hom hier op aarde om versorging en beskerming, is volgens die Woord ellendig. “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” (1 Kor. 15:19).
Die Vader het sy Seun na ons gestuur om ons tot seën te wees. Hy sou ons tot seën wees deur ons van ons booshede te bekeer. Wat ‘n groot seën is dit nie – om ons te verlos van daardie dinge waarvan ons onsself nie kan loskoop nie. Hy het ons kom regverdig van daardie dinge waarvan ons onsself nie kon regverdig nie. “...en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.” (Hand. 13:39). Hy het gekom om ons sondes uit te wis sodat tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, m.a.w. sodat ons sy seën mag deelagtig word. “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,” (Hand. 3:19).
Die Here Jesus Christus is na ons gestuur om ons van ons booshede te bekeer, m.a.w. om ons daarvan weg te keer. Hy is na ons gestuur en nooi ons na Hom sodat ons sondes uitgewis kan word. Hy is nie gestuur om ons sondes onder ‘n mantel te kom verberg of ons in die gehoor te streel dat Hy die sonde in ons lewens net so lief as vir ons het en ons dit maar kan koester nie. Inteendeel, Hy haat die sonde in ons lewens omdat dit ons as sy skepsels leed aandoen. Hy haat die sonde omdat dit sy Beeld in ons verduister. Hy haat die sonde omdat dit ons van Hom vervreem en gemeenskap met Hom ontneem. Hy haat die sonde omdat Hy heilig is en nooit daarmee sal versoen nie. Hy haat die sonde en wil ons daarom daarvan bekeer sodat ons verlos kan word van die vloek daarvan en in sy seën deel mag hê.
Die Here is wel baie lankmoedig met ons. En Hy het medelye met ons swakhede. “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Heb. 4:15). Dit is waarom Hy ons telkens vergewe wanneer ons in swakheid sonde doen. Alhoewel Hy met ons sonde medelye het, wil Hy nie dat ons daardeur gebind word en gevange gehou word nie. Hy was selfs bereid om die duurste prys vir ons vryheid te betaal! Maar let wel dat Hy daardie prys vir ons vryheid betaal het, nie vir ons losbandigheid en ongebondenheid nie! Maar wat sou daardie losprys beteken indien ons sou verkies om in Egipte te bly en nie die pad na ons erfenis met Hom aan te pak nie?
Die volk Israel het tydens hul verblyf in Egipte verneem van die Beloofde Land – Kanaän. Hulle sou hierdie land met sy oorvloed en seëninge egter nie beërwe het indien hulle nie bereid was om agter die Here aan te trek nie. Ons weet ook almal dat dit nie ‘n maklike pad was nie, maar tog opwindend. Ons weet ewe goed dat die Here nie sy belofte aan sy volk verbreek het nie en die nageslag van Israel wel uiteindelik die beloofde land kon binne trek. So moet elke een van ons bereid wees om ons oog te vestig op ons Leidsman na die ewige lewe wat ons graag langs ‘n lewensweg wil lei waarin ons sy seën mag deelagtig word.