Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elkeen van ons kom soms en heel dikwels by 'n laagtepunt waar ons nie reg weet hoe om te bid nie. Al wat nodig is, is om reguit met die Here te praat: "Here, wat sal ek vir hierdie dag vra? Buiten dat u goeie wil vandag geskied, weet ek nie wat om te vra nie; maar ek sal nie bang wees nie want U is oraloor, en steeds by my. AMEN".
DEUR SONDE VERBLIND
Hannes Ollewagen
Rigters 16:1-31
“Toe sê sy: Die Filistyne op jou, Simson! En toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie geweet dat die HERE van hom gewyk het nie.Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.” (:20&21).
Daar is die bekende spreekwoord wat lui – “Die liefde is blind”. Die meeste van ons dink sekerlik aan hierdie spreekwoord wanneer ons hierdie bekende gedeelte van Simson & Delíla uit God se Woord lees. Hoe blind is hierdie man nie?! Hy moes mos kon agterkom dat die vrou besig was om hom te ondermyn! Hy moes mos gesien het dat sy hom skade gaan berokken. Ek bedoel – om elke keer aan haar te kenne te gee waardeur jou krag belemmer sou word en dan presies daardeur verstrik te wees, is mos meer as genoeg rede om by jou agterdog te wek. Inteendeel, jy moet basies blind wees om nie te kan agterkom dat hierdie vrou besig is om jou om die bos te lei of te bedrieg nie. Dit is tog vir almal wat hierdie gedeelte lees sommer glashelder.
Ons lees hoedat Simson eindelik aan Delíla die geheim openbaar waardeur sy krag so buitengewoon groot was. Dit bly tog vir ons ‘n raaisel waarom hy dit doen omdat Delíla se optrede eerder daartoe moes aanleiding gee dat Simson se vertroue in haar vernietig word. Hy moes eerder van haar vervreemd geraak het deur haar volgehoue bedrieglike en agterbakse optrede, maar tog stort hy eindelik sy hart teenoor haar uit. Hierdie blinde optrede van Simson lei daartoe dat hy homself uiteindelik in ‘n baie slegte posisie bevind. Hy word deur die Filistyne oorweldig en gevange geneem. Hy word verneder en bespot en sy oë word uitgesteek. Hy kon voorheen nie sien dat hy besig is om ‘n verkeerde weg te bewandel nie en nou het sy hele lewe donker en uitsigloos geword. Hy kan nie enige uitkoms of ‘n toekoms meer sien nie.
Die dag toe die Filistyne Simson oorweldig het nadat sy hare afgeskeer is, het hy op sy eie krag vertrou om homself te red. “…En toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie geweet dat die HERE van hom gewyk het nie.” (:20). En dit het vir hom katastrofiese gevolge ingehou. Simson het eindelik in sy ellende weer tot besinning gekom en opnuut besef dat hy nie op sy eie krag moet vertrou nie. Hy roep God in sy ellendige toestand weer om hulp en smeek Hom van waar sy hulp en krag kom opnuut om genade. “Toe roep Simson die HERE aan en sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek!” (:28).
Ek en u moenie te haastig ‘n oordeel oor Simson uitspreek nie. Ons ploeter gedurig net so blind op ons lewensweg voort. Ons word menigmaal ook deur sonde en begeerlikhede van die vlees verlei en verblind om nie te sien dat ons van die weë van geregtigheid afdwaal nie. Dit word vir ons so mooi verwoord in die woorde van die bekende Gesang 238 se 1ste vers.
“MY GOD, HOE KRAGT'LOOS, HOE ONTAARD
MAAK MY DIE MAG VAN SONDE.
HOE IS EK NIE VERBLIND, VERHARD,
EN IN MY WIL GEBONDE.”
Hierdie afdwaling van die weë van geregtigheid vervreem ons dikwels ook van ons lewe met God. Nadat Simson aan God ongehoorsaam was, het die Gees van die Here van hom gewyk. “…Want hy het nie geweet dat die HERE van hom gewyk het nie.” (:20). Die Gees van God het ook van Saul gewyk weens sy ongehoorsaamheid aan God. “MAAR die Gees van die HERE het van Saul gewyk, …” (1 Sam. 16:14). En voel ons nie ook telkens nadat ons teen God oortree het asof Hy ver van ons af is nie? Is die woorde uit dieselfde Gesang 238 nie ook só beskrywend nie?
“HOE HET MY SKULD MY NIE VERVREEM,
GEMEENSKAP, HEER, MET U ONTNEEM,
U BEELD IN MY VERDUISTER !”
Dit is dikwels vir die mense rondom ons so glashelder om te sien dat ons besig is om onsself blindelings in ellende te dompel terwyl onsself eenvoudig nie hierdie dwase optrede kan raaksien nie. Ons sal onsself selfs in ons eie woorde veroordeel om liefdevolle vermaninge die hand te wys met stellings soos “Ek sien dit nie so nie” of “Elkeen is seker geregtig op ‘n opinie” of “Dit is gelukkig my lewe en ek kan daarmee maak wat ek wil”. Laasgenoemde wat alreeds ‘n verskriklike verkeerde ding vir ‘n gelowige is om kwyt te raak. Ek het as gelowige die verantwoordelikheid om met my lewe te maak soos wat God wil en nie soos ek self wil nie. Dit is waarom ons dalk met meer erns en groter opregtheid die woorde in Gesang 238 se 3de vers moet sing:
“VERBREEK IN MY VOORTDUREND, HEER,
DIE NEIGING TOT DIE SONDE;
MAAK MY IN CHRISTUS ALTYD WEER
AAN U ALLEEN VERBONDE.
EN MAAK MY LEWE: KRAGTIG, GOED -
DAT EK OPREG IN MY GEMOED,
GODVRUGTIG VOOR U LEWE.”
Ons dwaalweë waar ons nie deur die Woord en Gees van God gelei word nie lei altyd tot ‘n put van ellende soortgelyk aan die een waarin Simson geval het. Ons bevind ons daar ook gewoonlik in ‘n toestand waar ons die spot van ander mense word en waar ons lewe vir ons donker en uitsigloos raak. En probeer ons onsself uit hierdie ellende red wanneer ons op eie krag staat maak, vererger ons gewoonlik die situasie.
Geliefdes, hoe bevoorreg is ek en u nie om ‘n God en Vader te aanbid wat vol barmhartigheid is nie. “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (Ps. 103:8). Hy verlekker Hom nie in Simson se ellendige toestand nie. En so verlekker Hy Homself ook nie in ons ellendes nie – al is dit veroorsaak deur ons ongehoorsaamheid aan Hom. Al het ons Hom in die aangesig geslaan met ons dade van ongehoorsaamheid en ongeregtigheid. Hy wag op ons – soos wat Hy op Simson gewag het – om Hom weer opnuut op te soek en ons afhanklikheid van Hom te erken! “En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is ’n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!” (Jes. 30:18).
Sou ons egter die barmhartigheid van God en sy grote ontferming misbruik, geliefdes? Sou ons Hom doelbewus ongehoorsaam wees en onverskillig voor Hom leef bloot omdat Hy maar weer vol ontferming en vergifnis sou wees? Sou daar nie vir ons ‘n groot oordeel wag indien ons die rykdom van sy barmhartigheid verag en Hom smaad deur ons optrede nie? “...hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:29).
Ek wil u daarom vandag maan om af te wyk van die weë van ongeregtigheid. Wyk af van die weë waarlangs die duisternis u oë sal verblind. Vra na die paaie van geregtigheid, vra na die weë van die Here wat die weg van die lewe is. Dit is die weg waarlangs daar eer, vrede en geluk is eerder as die spot, ellende en hartseer langs die weë van duisternis. En loop op hierdie weg waarin u in God se lig leiding vir u lewe sal vind. “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” (Ps. 36:10).