Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Onvergenoegdheid en ewige gefoutvindery met alles is soos gif in mens se gestel. Daar is net een entstof om dit weg te neem: dankbaarheid. Wanneer probleme oor ons pad kom het 'n gees van dankbaarheid 'n strelende antiseptiese uitwerking.
DIE MENS SE OPDRAG
Hannes Ollewagen
Gén. 1:1-31
“En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (:28).
God het die mens met ‘n spesifieke doel en opdrag geskape. Hy het na die aarde gekyk nadat dit geskape is en daarna die mens na sy Beeld geskape. En wel vir die doel dat die mens oor die werke van God se hande sou heers. Hy moes na alles wat God geskape het, omsien. Die mens is as hoof en heerser oor God se handewerk in sy skepping aangestel.
“U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel.” (Ps. 8:7).
‘n Deeglike begrip van hierdie Skeppingsopdrag van God laat ons dan seker ook meer verstaan waarom Jesus so baie gelykenisse van rentmeesters, bestuurders, diensknegte ensomeer vertel het. Dit bring tog vir ons ‘n beter begrip van ons verhouding met God.
“So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Luk. 17:10).
Die besmetting van humanisme laat die mens van ons tyd geheel en al van hierdie verantwoordelikheid van die mens teenoor God vergeet. Dink net hoe min mense in ons tyd nog openlik ‘n ywerige diensbaarheid aan God openbaar. Die deursnit mens sal niks doen indien daar nie ‘n mate van voordeel vir homself daarin is nie. Al sou dit tot groot voordeel van ‘n medemens wees, sou dit nie saak maak nie. Nog erger – al sou dit iets wees wat vir God welgevallig is, sou ook dít nie saak maak nie, want vir die verharde, selfsugtige en sondige mens tel die blydskap in God se hart geen punte nie. Mense kan dikwels ook nie meer ander se swaarkry raaksien nie want hul fokus is alleen op hul eie hebsugtige begeertes. Klink dit nie net soos dít waarteen Jesus Christus die mens in die gelykenis van die Lasarus en ryk man waarsku nie?
“Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.” (Luk. 16:25).
Dit is asof die mens van ons tyd hom nie meer steur aan die Skeppingsopdrag van God nie. Indien die mens hierdie opdrag ernstig opgeneem en met verantwoordelikheid nagekom het, sou die wêreld nie vandag in so ‘n chaotiese toestand gewees het nie. Ek kyk in verwondering na groot, uitgegroeide manne wat hulself vir ure lank met rekenaarspeletjies, video’s op “You Tube” en wie weet wat nog vermaak. Daar is tyd vir hierdie sinlose dinge, maar daar is nie tyd om ‘n helpende hand na hul naaste uit te reik nie. Daar is tyd vir hierdie sinlose dinge, maar daar is nie tyd om te wy aan dinge wat vir God welgevallig en aanneemlik is nie. Daar is tyd om op hierdie dinge te verkwis, maar daar is nie tyd om aan God se diens te wy nie. Daar is nie tyd om ag te gee en ondersoek in te stel na dinge wat verkeerd loop in God se skepping en soos ‘n betroubare dienskneg aan ‘n oplossing daarvoor te begin werk nie. Ons kerke val uitmekaar terwyl ons sit en speletjies speel en videos kyk. Maar ons sal nie met ywer werk aan die herstel van die verval nie. Ons skole val uitmekaar, maar ons is te besig met ons speletjies en videos om iets daaraan te doen. Ja, in menige gevalle stort huisgesinne in duie, maar die manne is te behep met hul speletjies en videos om selfs dít raak te sien.
Geliefdes, die wêreld waarin ons tans leef, hét al beter daar uitgesien. Ek is daarvan oortuig dat God na hierdie wêreld met ontevredenheid kyk oor die ontsettend baie dinge wat verkeerd is. En dit is ons as gelowiges se verantwoordelikheid, ons wat onsself diensknegte van God noem, om aandag aan hierdie sake te skenk. Dit is ons verantwoordelikheid om hierdie sake te probeer aanspreek en die tyd uit te koop omdat ons weet dat die dae boos is.
“...en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” (Efés. 5:16).
Is ons nie veronderstel om ywerig in God se diens besig te wees nie? En sou ons nie graag wou hê dat Hy ons op die regte manier besig sou vind wanneer Hy weer op die wolke terugkom aarde toe nie?
“Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.” (Matt. 24:46).
Ons lees in Génesis 1 dat God die eerste mense geseën het waarna Hy hulle oor die werke van sy Hande aangestel het. Eweneens het God elke een van ons met bepaalde vermoëns en gawes geseën. En Hy verwag dat ons Hom daarmee moet dien. Indien ons hierdie vermoëns en gawes uitsluitlik tot ons eie voordeel en verryking wil aanwend en nie in gedagte hou dat ons God daarmee behoort te dien nie, moet ons ook nie enige loon van Hom verwag wanneer Hy weer op die wolke kom nie.
“...wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer, en onverganklikheid soek – die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam is, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is – grimmigheid en toorn;” (Rom. 2:6-8).
Ek verseker u vandag dat as Jesus Christus in hierdie oggend op die wolke vanuit die hemel moet verskyn, sal daar baie, baie min mense wees wat sou hoor:
“…Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Matt. 25:21).
Onse Here Jesus Christus het vir ons die belangrikheid van ons diensbaarheid aan God deur sy eie dade van gehoorsaamheid beklemtoon.
“Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Markus 10:45).
Dít waarvoor God Hom na die aarde gestuur het, het Hy in gehoorsaamheid volbring. Ek en u is veronderstel om met ootmoedige gehoorsaamheid hierdie voorbeeld van onse Here Jesus Christus na te volg. Ons is immers nie groter as ons Heer dat ons bo hierdie opdrag verhewe sou wees nie!
“Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” (Joh. 13:15-17).
Die slegte en luie dienskneg is nie só genoem omdat hy ‘n uiters losbandige en sondige lewe gelei het nie. Hy is ‘n slegte en luie dienskneg genoem omdat hy nie die gawe wat sy heer aan hom toevertrou het in sy heer se diens aangewend het nie. Ek en u moet hierdie fout nie ook maak nie! Ek glo nie dat ons uit onse Here Jesus Christus se mond sal wil hoor dat ons slegte en luie diensknegte is nie.
Amen